Direk in die bedding
Baie saadjies kan direk in die bedding gesaai word. Al wat jy nodig het is kompos, beenmeel, saad en ’n geskikte bedding.
1 Maak seker al die onkruid is uitgetrek en al die groterige klippies is verwyder. As jy lank laas kompos in jou bedding ingewerk het, doen dit nou. Voeg ook ’n paar hande vol beenmeel by en werk dit in. Spit die grond goed om.

2 Maak die grond gelyk en loop versigtig oor die bedding om van enige lugborrels ontslae te raak. So keer jy dat die grond later insak wanneer die saad reeds gesaai is. Gebruik ’n hark om die boonste lagie grond weer effens los te maak nadat jy dit vasgetrap het.

3 As jy verskillende groepe blomme in een bedding wil saai, merk saaiblokke met riviersand. Moenie die blokke almal ewe groot en te presies uitmerk as jy ’n informele voorkoms wil hê nie. Jy kan ook pakke gemengde saad koop en dit net die hele bedding vol saai vir ’n kleurspel.

4 Merk met ’n stokkie rye in die bedding uit. Deur die saadjies in rye te saai, is dit makliker om te weet wat is saad en wat is onkruid wanneer die saad opkom. Moenie die saad te dig opmekaar saai nie, maar saai altyd meer as wat jy nodig het om sukses te verseker. Jy kan altyd later die saailinge uitdun.

5 Stoot nou die saadjies versigtig met grond toe.

6 Maak dit goed nat met ’n fyn sproeikop. Hou die grond deurentyd klam tot jou saailinge goed gevestig is. Dun die saailinge uit as dit te dig opmekaar groei.

Wenke
• Dra sjirurgiese handskoene as jy met fyn saadjies werk – dit help om hulle raak te vat.
• As jy honde of katte het wat in jou saadbedding wil grawe of lê, skort die bedding met ’n heininkie af. Jy kan ook fyn sifdraad bo-oor span of takke gebruik om tarentale en ander voëls wat die saad oppik en uitskrop, weg te hou. Verwyder dit sodra die saailinge goed gevestig is.
In saadkassies
Sommige saad moet eers in saadkassies gesaai word voor dit in die bedding uitgeplant kan word. Al wat jy hiervoor nodig het, is ’n skoon saadbak, ’n geskikte saailing-grondmengsel (wat jy by ’n kwekery kan koop) en die saad van jou keuse.
1 Sorg dat jou saadkassie skoon is. Maak dit tot bo vol met die saailingmengsel.

2 Druk die saailingmengsel met jou hand plat totdat dit sowat 1 cm van die rand van die saadkissie is. Maak die saailingmengsel goed nat met ’n fyn sproeikop.

3 Maak voortjies met jou vinger of ’n stokkie dit tot bo vol met die saailingmengsel.

4 Saai die saadjies versigtig in die voortjies. Groter saadjies soos dié van sonneblomme en jakobregops kan een-een gesaai word, maar party saadjies, soos dié van papawers en ridderspore, is baie fyn en moeilik om een-een te saai – jy kan dit maklik te dig opmekaar saai.

5 Maak die saad met ’n fyn lagie saailingmengsel toe. (Linda gebruik vermikuliet hiervoor, wat help om vogtigheid in die grond te behou en wortelvorming bevorder.) Maak die saad met ’n fyn sproeikop nat en sit dit op ’n koel plek. Hou die grond klam tot die saad ontkiem het.

6 Plant jou saailinge uit in aparte saailing- bakkies sodra hulle sowat 5 cm hoog is of een of twee blaartjies het, sodat elke plantjie meer ruimte het om in te groei. Maak die grond goed nat voor jy dit doen en haal die saailinge versigtig uit sonder om die wortels te beskadig. Wag tot die individuele saailinge sterk plantjies is voor jy hulle in jou tuin uitplant. Hou goed nat en jy sal binne 2–3 maande met ’n oorvloed blomme beloon word.

Bron Flower Gardener deur Pippa Greenwood
Bêre jou saad so
• As daar van die saadjies in die pakkie oor is, maak dit goed toe. Saai dit voor die vervaldatum verstryk.
• As jy jou eie saadjies opvang, bêre dit in papiersakkies op ’n koel, droë plek.
WENK Moenie te veel saad op een slag koop nie. Begin liewer met minder en namate jy sukses behaal, kan jy nog saai. En moenie moed verloor as jy die eerste keer nie so suksesvol was nie. Probeer net weer!













Kook en wen R200 000!

Nog geen kommentaar.