Plant ’n tamatie of drie

As jy net een groentesoort plant, plant ’n tamatie. En kies sommer die kersie-tipe, want hy dra maklik en graag.

Om in die aand met jou vergiettes tuin toe te stap en die mooiste klein tamaties met hul songebakte rooi skilletjies uit te soek, is een van die lewe se groot lekkertes. En sodra jy kersietamaties onder die knie het, kan jy heerlike groot tamaties plant – ’n winkeltamatie kan nou maar eenmaal nie kers vashou by ’n tuintamatie nie. Hoewel die tamatie botanies gesproke ’n vrug is, is dit nie so soet soos vrugte nie. Dit het ’n subtiele soetheid wat deur ’n effe bitter en suur smaak gekomplementeer word. Tamaties word dikwels met Italiaanse kookkuns verbind, maar dit kom oorspronklik uit die weste van Suid-Amerika, insluitende die Galápagos-eilande. Die tamatie is die vrug van die plant Lycopersicon lycopersicum en is lid van die Solanaceae- oftewel nastergal-familie. In Latyn beteken Lycopersicon “wolfperske”, en die benaming kom van die ou bygeloof dat die vrug, nes ’n wolf, gevaarlik is (maar eintlik is dit net die blare wat giftige alkaloïede bevat).

Plantwenke
• Plant saailinge in ’n lekker sonnige kol.
• Berei die grond goed voor met kompos en ’n bietjie 2:3:2.
• Tamaties het ’n rankerige groeiwyse en sal baat by ’n raamwerk om die plant te stut en waarteen die sytakke vasgebind kan word. Dit is veral noodsaaklik vir die groter variëteite.
• Gooi ’n deklaag van strooi om die plant sodat die vruggies wat laag hang, nie in aanraking kom met die grond en die organismes daarin nie.

Kweekwenke
• Hou tamaties deurentyd goed nat.
• Verwyder gereeld sylote namate die plante groei, om ’n netjiese bos te verseker.
• Sodra vrugte begin vorm, moet jy dit elke tien dae met ’n vloeibare kunsmis voed.

Oeswenke
• Hoewel tamaties geoes kan word wanneer dit net begin verkleur, is dit die lekkerste as dit ryp gepluk en dadelik geniet word.
• Ryp tamaties gee mee as jy dit effens druk en dit het ’n merkbare soet geur.

Peste en plae
• Kyk uit vir witvlieë, plantluise en rooispinnekopmyt. Vermy dié plae deur plante nie te dig opmekaar te plant nie om goeie lugsirkulasie te verseker. Gesels met jou kwekery se personeel oor ’n geskikte organiese plaagdoder.
• Rokers moet hul hande deeglik was voordat hulle aan ’n tamatieplantjie raak, want hulle kan die tabakmosaïek-virus oordra. Dié virus tas die tamatie se blare, blomme en vrugte aan en dit belemmer die groei van die plant.

’n Tamatie elke dag laat die dokter wag
Tamaties is ’n uitstekende bron van vitamien C, A en K. Dit is ook ryk aan kalium, mangaan, dieetvesel, chroom en vitamien B1. En dit is nie net ’n ouvroustorie nie: die likopeen in tamaties bied inderdaad beskerming teen prostaatkanker.