Plant 'n rusbank

[divider]

Sit sag en bedink waterspaar-planne, pamperlang jou lentebolle en geniet die winterstilte in jou tuin.

Inkopielys

  • twee 2 m-rolle behandelde houtpaaltjies (500 mm hoog) wat vir heinings of beddingrande gebruik word
  • behandelde stutpale (sowat 1 m lank en 5-7 cm in deursnee) – ons het 15 gebruik, maar dit sal afhang van die grootte van jou sitplek
  • kunsmis vir sterk blaargroei (13:2:5) – ons het Magic Lawns uit die Ed’s Garden Health-reeks gebruik, wat by die meeste groot tuinsentrums te kry is
  • rol Plantex-onkruidmat
  • 10 sakke potplantgrond vir buitenshuise gebruik
  • 5-6 kruiwaens vol riviersand
  • sowat 10 blommende miniatuur-affodilplantjies
  • grassooie – ons het All Seasons Evergreen van Evergreen Turf gebruik
  • kabelstroppe

Wat het jy nodig?

  • voorhamer
  • skêr (om onkruidmat te sny)
  • veeldoelige skêr (om die gras te sny)
  • tuingrafie
  • tuinhandskoene
  • kruiwa en graaf
  • saag
  • kramgeweer

So maak jy

Stap 1 Kies ‘n boom met ‘n dik stam waarteen jy lekker kan terugleun. As die boomstam knopperig of stekelrig is, kan jy twee spykers inkap en ‘n kussing teen die stam hang.
[divider]
Stap 2 Saag die onderkante van die stutpale teen ‘n skuins hoek af sodat jy hulle maklik in die grond kan inslaan. Maak die grond vooraf deeglik nat. Kap die stutpale sowat ‘n halwe meter uitmekaar en minstens 30-40 cm diep in die grond in. Hou die stutpale minstens 15 cm weg van die boom se stam af, want die rol houtpaaltjies moet tussen die stutpale en die boomstam inpas. Moenie kortpad vat en die grond direk teen die boom se stam laat kom nie, want miere en termiete sal die bas afvreet en veroorsaak dat jou boom vrek. Kap die stutpale in ‘n dubbele halfsirkel om die boom in. As die grond baie klipperig is, moet jy gate grou, die stutpale inplant en die grond stewig rondom die pale vasdruk.
[divider]
Stap 3Rol die houtpaaltjies teen die buitekant van die stutpale af.
[divider]
4 Maak die rol paaltjies met kabelstroppe aan die stutpale vas. Saag die stutpale se bokante af sodat hulle net so hoog soos die houtpaaltjieheining is.
[divider]
Stap 5 Gebruik die kramgeweer en kram die onkruidmat aan die binnekant van die bankie teen die paaltjie-heining vas. Sorg dat die voering netjies teen die paaltjies pas sodat daar nie grond uitloop nie.
[divider]

Stap 6 Vul die bankie halfpad met riviersand.
[divider]
Stap 7 Vul die res van die bankie met potplantgrond.
[divider]
8 Strooi ‘n paar hande vol kunsmis oor die potplantgrond en meng goed deur.

Stap 9 Druk die grond deeglik vas en maak die grondvlak gelyk met die bokant van die paaltjies.
[divider]

Stap 10 Plant die affodille.
[divider]
11 Sny die grassooie om presies in die rondings van die bankie te pas. Sorg dat die gras oral goed aan die grond raak en dat die sooie nie oor die kante hang nie. Druk die grassooie goed vas. Sny klein deeltjies gras en pas dit knus om die stele van die affodilplante. Maak die gras dadelik nat. All Seasons Evergreen-gras moet die eerste paar dae ná dit geplant is 3-4 keer per dag water kry.
Daarna kan jy dit een tot twee keer per dag natgooi. Na sowat twee weke kan jy dit al om die ander dag natgooi. Dit moet nooit heeltemal uitdroog nie. Sny jou bankie se gras met ‘n hand-grasskêr, maar nooit korter as 7 cm in die skaduwee nie.