Kweek jou eie groente

Min tuinmaak-ervarings gee ’n mens groter bevrediging as om sappige wortels, wolkerige blomkool of kraakvars slaaiblare net buite jou eie agterdeur te gaan pluk.

[divider]

Waarom sal ’n mens tyd en geld bestee aan die maak van ’n groentetuin as ons omring word deur supermarkte wat selfs buite seisoen in al ons behoeftes kan voorsien? In Amerika het kombuistuine die gewildste “groen” stokperdjie geword, en in Europa spog elke tweede huishouding deesdae met ’n groentetuin, sê die Sentrum vir Landboubestuur aan die Vrystaatse Universiteit. In Suid-Afrika het die kweek van kruie vinnig mode geword en nou kan ons gerus beskikbare tuinspasie, ons goeie klimaat en ’n natuurlike liefde vir die grond verder benut deur groentetuine te plant. En dit hoef nie reusagtig te wees nie – jy kan ’n groentetuin wat in die behoeftes van ’n gesin van vier sal voorsien, in ’n ruimte so groot soos jou agterdeur uitlê. Klimaat speel wel ’n rol. In kouer gebiede waar dit soms ryp, sal vinniggroeiende groentesoorte wat gou ’n opbrengs lewer, beter vaar. In warmer dele kan jy regdeur die jaar sonder veel kommer en moeite iets vir die pot kweek, sommer so tussen die ander tuinplante.

Beplan jou kombuistuin
Jy het nie veel nodig om met ’n groentetuin weg te spring nie. Die basiese vereistes is vrugbare grond wat ryk is aan organiese materiaal, goeie dreinering, volson vir minstens vyf uur per dag, onkruidbeheer, ’n paar stukkies tuingereedskap soos ’n tuinvurk en -graaf, skoffel, gieter of tuinslang, handgrafie en -vurkie, ’n halfuur per week en ’n paar pakkies groentesaad. Kwekerye hou ook saadbakkies met groenteplantjies aan, en dis glad nie duur nie.

Wat kan ek nou saai en plant?
Party saad kan regstreeks in die voorbereide groentebeddings gesaai word, maar ander moet eers in kissies of in ’n aparte saadbedding gesaai en sterk gemaak word voordat hulle groentetuin toe kan gaan. Laasgenoemde is gewoonlik ook die soorte wat jy in saailingbakkies plantgereed by kwekerye kan koop.

Saai regstreeks
Boerbone, beet, wortels, seldery, ertjies, aartappelmoere (in winterreënvalstreke), radyse en rape.

Saai in kissies of ’n saadbedding óf koop saailinge
Broccoli, kool, blomkool, blaarslaai, pietersielie (in winterreënvalstreke), uie, preie (slegs in somerreënvalstreke) en spinasie.

Saaiwenke
• Somerreënvalstreke: Plant somergewasse in die lente as die ryp verby is. Wintergroente moet geplant word ná die ergste hitte van die somer en vroeë herfs.
• Winterreënvalstreke: Omdat die groeiseisoen so kort is, moet jy eerder so vroeg as moontlik wegspring.
• Groot sade: Saai dit in vore sowat 30 cm uitmekaar, 1-3 cm diep (na gelang van die grootte van die saad), en die sade sowat 10 cm uitmekaar.
• Fyn saad: Wortels, beet en rape moet oor die algemeen in vore van sowat 15 cm uitmekaar en 1 cm diep gesaai word. Gooi die saadjies twee keer per dag liggies nat om die grond klam te hou totdat hulle ontkiem. Die plantjies sal dig opkom en moet twee keer uitgedun word sodat die uiteindelike afstand tussen twee plante ongeveer 5 cm is vir wortels, 7 cm vir beet en 5 cm vir rape.
• Moenie te veel saad op ’n keer saai nie – dis veel beter om met ’n tussenpose van drie tot vier weke nog ’n paar sade te saai. Só duur die oesseisoen langer en word daar nie gemors met te veel oesbare groente op dieselfde tyd nie.
• Dis die moeite werd om groentesoorte te saai wat skaars en duur in groentewinkels en supermarkte is, of besonderse variëteite, eerder as om te speel met die soorte wat jy dalk goedkoper kan aanskaf. Gaan kuier gerus tussen die saadrakke van die verskillende saadhandelaars en kyk op die pakkies vir volledige kweekinligting. Besoek ook hulle webruimtes indien jy meer wil uitvind.

-0033330306_tuin