Klein maar mooi

Klein maar mooi

Gedink jou meenthuistuin het te min plek waar jy op lang, warm dae en soel someraande kan braai en ontspan? Ons wys hoe toor jy met ’n klein ruimte.

Rustige ruimte

  • Al is jou tuinspasie klein, kan dit steeds pragtig uitgelê word. Speel met strukturele elemente soos mure, plaveisel, pilare en grondbedekking as agtergrond vir sagter elemente soos ’n paar gemaklike kussings op ’n mooi bank en houerplante van verskillende groottes, en jy kan ’n pragtige, gemaklike hoek skep.
  • Ontwerp slim: Gebruik jou mure en vloer as fokuspunte om die perfekte agtergrond vir jou gemaksone te skep. As jy onooglike mure nie met klip of hout kan bedek nie, kan jy dit met ’n treffende muurskildery of trompe l’oeil versier om ’n gevoel van ruimte te skep. Welriekende klimplante gee ’n welige, romantiese gevoel en sal mettertyd die perfekte bedekking bied. Plaveiklip wat met dek- en beddingplante versag is, kan die pad na jou mooi hoekie aanwys. ’n Gemaklike bankie in ’n ontwerp van jou keuse of ’n vrystaande, weervaste hangmat, omraam met ’n groot sambreel vir skuiling, is al wat jy nodig het om van jou sorge te vergeet.

Bring die braai nader

  • ’n Somer sonder ’n braai is ondenkbaar in ons wonderlike klimaat – dis immers ’n nasionale tradisie. Vir toegewyde onthalers is ’n ingeboude braai op die stoep, lekker naby die kombuis en beskut teen son en wind, ideaal. As die ruimte baie beperk is, is ’n vrystaande, mobiele of draagbare braai net so ’n goeie keuse – daar is ’n groot verskeidenheid beskikbaar wat elkeen se smaak en sak pas. Die soort wat jy kies, sal weer eens afhang van die doel waarvoor jy dit gaan gebruik. Wil jy dit hê as gewone braai, vir potjiekos, die rook van vleis of vis, of sommer net as ’n knus buitekaggel?
  • Ontwerp slim:  Die beplanning van jou braaiplek is redelik maklik. Die beste plek is naby die kombuis, met ’n werkoppervlak en wasbak daarby om dit nog geriefliker te maak. Sorg vir genoeg sitplek sodat gaste kan sit en eet. As die plek nie beskut is nie, sal een of twee groot sambrele nuttig wees om die son af te weer. Sterk wind kan sake lelik deurmekaar krap by jou braai – maak seker dis nie in die pad van wind nie, anders gaan jy en jou gaste seer oë kry van die rook. Home Fires hou ’n groot verskeidenheid braaikaggels aan, van ingeboude tot vrystaande eenhede wat ideaal vir klein ruimtes is. Wanneer jy ’n braai gaan koop, moet jy seker maak dit is stewig en, as dit verskuifbaar is, kyk of die wiele glad loop.

Lekker min onderhoud

  • Ons het nie almal die tyd – of die lus – om selfs ’n klein tuin in stand te hou nie. Vir ’n tuin wat min onderhoud verg, maar steeds mooi sal wees, moet struktuur ingespan word. Jy moet dalk tyd (en geld) aan die ontwerp en nodige elemente bestee, maar die eindproduk sal die moeite werd wees: ’n standhoudende, treffende ruimte wat jou veel vreugde gaan bring.
  • Ontwerp slim:  Min onderhoud beteken nie noodwendig yl nie. Weer eens sal jou keuse van grensmure (beton, baksteen of heining); grondbedekking (plaveisel, gras, gruis of ’n kombinasie daarvan) en oordekking (prieel of boë) die algemene voorkoms van die ruimte bepaal. Klip, baksteen, plaveistene, gruis en selfs teëls kan maklik en bekostigbaar die toon aangee vir ’n rustige hoekie. Al is die ruimte te klein vir ’n swembad, kan jy dalk ’n verfrissende, geteëlde buitebad bou.

Waterlafenis

  • As jy nie plek het vir ’n koel, verfrissende swembad nie, hoef jy nie ’n kalmerende oase in jou binnehof te ontbeer nie: ’n waterelement het ’n baie meer kalmerende uitwerking op die sintuie as ’n swembad. Dit hoef nie yslik groot te wees om trefkrag te hê nie, solank dit net by die omgewing inpas. En met ons beperkte waterbronne is dit hoe kleiner, hoe beter. Water skep die illusie van koelheid, wat waarde toevoeg, en dit word dikwels die fokuspunt in ’n tuin. Kwekerye en tuinsentrums hou ’n wye verskeidenheid bakke, dammetjies en interessante houers aan en dis gewoonlik maklik om te installeer. Jy kan een bou of ’n klaargemaakte een koop – of selfs die ruimte ontwerp rondom die een wat jy installeer; die moontlikhede is oneindig. Al wat nodig is, is dat jy ’n bietjie skeppend dink oor hoe joune moet lyk.
  • Ontwerp slim:  As jy dit oorweeg om ’n waterelement te installeer, kyk na die plek, grootte, styl, veiligheid en die soort plante wat jy graag daarin of rondom wil hê. Die styl van jou waterelement moet by jou tuin pas – ronde en vierkantige dammetjies is byvoorbeeld ideaal vir ’n formele tuin. Sorg vir minder onderhoud deur jou waterelement weg van bome te sit, anders gaan jy die hele herfs lank blare uithaal. En sit dit op ’n beskutte plek as jou tuin aan sterk wind blootgestel is. Die meeste waterelemente word met ’n pomp daarby verkoop en dit het gewoonlik ’n 10 m-kabel; as jy dit langer wil hê, kry ’n elektrisiën.
  • Het jy geweet? ’n Waterelement het estetiese sowel as funksionele aantrekkingskrag: enige hoeveelheid water koel ’n ruimte op ’n warm dag af deur vog in die lug vry te stel. ’n Waterelement kan in jou binnehof gebou word, soos hierbo, of jy kan ’n vrystaande een koop wat by jou tuinontwerp inpas.

Wondermure

  • ’n Grensmuur wat goed ontwerp is, kan geweldig baie bydra tot die trefkrag van die tuin – en dit hoef ook nie net van bakstene en sement te wees nie: ’n heining of groep plante kan ’n mooi en doeltreffende skerm skep. Mure kan ook bedek word met gekapte of ruwe klip. Klaargemaakte rame en latwerke kan ook gekoop en aan baksteenmure vasgespyker word vir ’n kitsoplossing, of jy kan ’n skrynwerker vra om een volgens jou eie ontwerp te maak. Verf of vernis sal dit duursamer maak. Onthou om latwerke ’n entjie van die muur af vas te sit sodat plante daardeur kan rank … en genoeg lug, lig en reën kry. Pasgemaakte ystertralies kan ’n muur ’n heel ander voorkoms gee, of jy kan mure bedek met puik groen grafika, soos ’n diamantvormige klimop (Hedera helix).

Deel

Teken in op ons e-pos nuusbrief updates te kry.

, , ,

Nog geen kommentaar.

Laat 'n antwoord