Tuintake vir Maart: Spaar water!

Plant bome en struike en berei beddings voor vir jaarplante en dié wat in die winter en lente blom.

Pronkertjies-en-freesias

Pronkertjies
In 1699 het die soet geur van klein wynrooi-pers pronkertjies die Siciliaanse monnik br. Cupani se aandag getrek. Hy het toe die saad Engeland toe gestuur.

Hibridisering het mettertyd gelei tot die plooie en valle van die moderne pronkertjieblom, asook groter blomme op lang stele, maar die geur van die ou variëteite het nie oral behoue gebly nie.

As die geur vir jou belangrik is, kan jy die Heirloom-reeks pronkertjies beproef wat beskikbaar is in Kirchhoff se Blue Shades Mixed, Strawberry and White Shades en Dwarf Mixed Colours, en in BallStraathof se Old Spice-reeks.

Maart en April is die hoofmaande waarin pronkertjies geplant word. Hulle vra genoeg sonlig en goed bewerkte grond wat minstens ’n graafdiepte uitgegrawe is en met kompos en Bounce Back- organiese bemesting verryk is. Waar grond suur is, kan jy twee weke voor jy die blomme plant ’n hand vol kalk oor die oppervlak strooi. Pronkertjies wat rank, sal ondersteuning nodig hê.

Week die saad oornag in water om die harde buitekant te versag voor jy dit direk in die voorbereide grond plant. Hou die grond klam tot die saad ontkiem en voer met Multifeed Classic. Hoe meer jy pluk, hoe meer sal dit blom.

Bolle vir die lente

Koop plante wat in die winter en lente blom sodra dit beskikbaar is – so verseker jy die beste gehalte en variëteit. Maar wag dat grondtemperature daal voor jy plant. Vroeg April is die beste tyd.

Inheemse en eksotiese bolle wat in die lente blom, sal ’n tikkie kleur aan rotstuine, gemengde randakkers en houers gee. Plant in groepe eerder as afsonderlik en merk waar die bolle geplant is deur ligkleurige sand oor die plek te strooi; dit sal keer dat jy dit opgrawe of die bolle met ’n vurk stukkend steek.

Freesias is gunstelinge vir die lente, maar oorweeg ook die skoonheid van ander inheemse bolle soos Babiana, Ixia, viooltjies (Lachenalia), fluweeltjies (Sparaxis) en kalkoentjies (Tritonia). Die meeste bolle vra ’n sonnige posisie en goedgedreineerde, komposryke grond, maak nie saak of hulle in die tuin of in houers groei nie. Die uitsondering is die boslelie (Veltheimia), wat ligte skaduwee verkies.

Tuinwenke

• Lig bolle wat hul somerblomsiklus voltooi het en bêre dit in ’n koel plek. As jy dit in die grond los, merk hul posisie om skade te vermy.

• Moedig ’n goeie roosvertoning in die herfs aan met 30 g Ludwig’s Vigorosa per boom aan die einde van die maand.

• Grawe oorbevolkte agapante op en verwyder soveel moontlik grond van die wortels. As dit saamgekoek is, kan jy twee vurke gebruik om die plante te skei, of jy kan dit netjies met ’n skerp mes deursny. Verplant in vars grond op ’n sonnige plek, en hou die plante redelik groot om seker te maak dit blom volgende somer weer.

• Probeer om jaarplante nie jaar ná jaar in dieselfde deel van die tuin te plant nie. Dit kan tot gronduitputting lei en die plante kan siektes wat in die grond voorkom, opdoen.

• Camellia japonica blom van vroeg in die herfs. Soos alle kamelias moet dié struik gereeld besproei word om te keer dat die blomknoppe afval. Maak die wortelarea deeglik nat en strooi ’n dik deklaag kompos of dennenaalde om vog te behou, maar vermy die stele.

Nasionale Waterweek

Wêreldwaterdag op 22 Maart val in Suid-Afrika se Nasionale Waterweek. Baie van ons aanvaar die water wat ons het vir drink, was en sanitasie as vanselfsprekend, maar daar is steeds baie Suid-Afrikaners wat nie toegang tot skoon water het nie.

As tuiniers kan ons meer bewus van die omgewing wees en bespaar deur die maniere waarop ons water gebruik, te verander. Druppende krane kan byvoorbeeld tot 20 liter water per dag mors. Toets so of joune lek: Lees jou watermeter en moet dan vir twee uur geen water gebruik nie. Lees dit weer en as daar enige water gebruik is, beteken dit daar is ’n stadige lekkasie op jou eiendom. Stel dit reg.

Bespaar water deur reënwaterafloop van dakke in tenks te stoor, en belê in ’n gryswaterstelsel waar huishoudelike water in die tuin hergebruik word.

Vind uit watter plante min water nodig het, en verseker vog word in die grond behou deur deklae te gooi. Vervang ’n dors grasperk met gruis, wat water stadig in die grond laat syfer en nie afloopwater veroorsaak wat stormwaterafvoerpype kan blokkeer en riviere besoedel nie.

Groen vingers

17 Maart is Sint Patricksdag en dis gepas dat ons dink aan alles wat groen is. Groen tuinmaak is ekovriendelik, want jy kies plante wat pas by die klimaat en plaaslike toestande.

Plaas plante wat vog benodig aan die suide- en oostekant van geboue, en droogtebestande plante aan die noorde- en westekant. Groepeer plante wat die meeste besproei moet word naby die huis en in houers op die stoep vir maklik natgooi.

In ’n groen tuin word daar nie chemikalieë of skadelike spuitmiddels gebruik nie, wat verseker dat dit ’n veilige habitat vir die natuurlewe bly. Bring blomme in wat skoenlappers, bye, insekte en voëls as bestuiwers lok.

Wenk van die maand

Maak geute en afvoerpype in die winterreënstreek skoon en maak seker plante met vlak wortels, nuutgeplante bome en struike is gestut en vasgebind om windskade te voorkom.

LEES NOU:

Kan jy dié blomme uitken?

Kan jy dié blomme uitken?

 

WEB-FOOTERS-afr