Tuintake vir April: Jaarplante vir lentekleur

Nou, terwyl die grond nog warm is, is ’n goeie tyd om nuwe bome en struike te plant of ander wat op die verkeerde plek groei, te skuif.

Iceland-poppy-nuusbrief

Jaarplante vir lentekleur

Plant jaarplante soos gesiggies en petunias nou vir ’n kleurvolle lentetuin. Plant dit in massas om die aandag op ’n bepaalde deel te vestig: Maak ’n breë strook langs paadjies en beddingrande, vul ’n bedding op waar bolle in die lente gaan blom, voeg dit by houers, vensterbakke en hangmandjies, of helder ’n sonnige rotstuin op.

Gee kleur aan groente- en kruietuine met oranje en geel gousblomme. Kweek dit in liggies gekomposteerde, goed gedreineerde grond in die son. Te ryk grond sal tot meer groei as blomme lei.

Die helder en pastelkleurige blomme van Yslandse papawers is pragtig tussen lentebolle of met gesiggies en hoër groeiende lente-jaarplante tussenin. Kyk uit vir kompakte kultivars wat winderige toestande kan weerstaan.

Iets wilds

Lok en beskerm die voël- en dierelewe deur ’n ruigte van die inheemse vlam-van-die-vlakte (Bauhinia galpinii), syselbos (Plumbago auriculata), wildedagga (Leonotis leonurus) en oranje, geel of appelkoos Kaapse kanferfoelie (Tecoma capensis) in ’n hoekie van jou tuin te plant.

Vul holtes in verweerde rotse met water sodat klein voëlsoorte dit kan drink en daarin kan bad. Los ’n paar saadkoppe aan jou agapante, echinacea en grasse as kos vir saadvreters – hulle gaan jou herfstuin opvrolik!

Bolle wat in die lente blom

Bolle wat nou geplant word, sal wortels in die grond uitstuur op soek na kos en vogtigheid ter voorbereiding vir hul asemrowende lente-skouspel. Maar probeer vanjaar iets nuuts benewens die lentebolle wat elke jaar in jou tuin groei: Plant bolle vir geurige blomme naby ’n oop venster of deuropening, en versprei die bolle van inheemse freesia, sparaxis, tritonia en ixia in ’n voorbereide sonkol om ’n vrolike laslappie-mat te skep.

Tuinwenke vir April

• Gebruik vallende blare as deklaag rondom struike of gooi dit op jou komposhoop. Sif laas jaar se kompos en versprei dit deur jou tuin. Gebruik enige materiaal wat nie afgebreek het nie as basis vir ’n nuwe komposhoop. Wissel dit af met lae droë en nat materiaal om verdigting te voorkom.

• Dis nie raadsaam om jaarplante jaar ná jaar op dieselfde plek te plant nie, aangesien dit tot ’n tekort aan sekere voedingstowwe en tot die verspreiding van siektes in die grond kan lei. As jou plantspasie min is, verwyder soveel van die grond moontlik en vervang dit met grond uit ’n ander deel van jou tuin.

• Maak jou tuin in die middel van die oggend nat sodat plante kan uitdroog en die grond kan opwarm voor die aandkoelte neerdaal.

• Strooi riviersand oor die grond waar jou bolle geplant is; dan sal jy hulle nie per ongeluk uitspit of beskadig nie.

• Maak plante uit die winterreënstreek, asook asaleas, rododendrons en kamelias een keer per week deeglik nat om te keer dat hul blomknoppe afval. Moenie nou struike wat in die lente blom, terugsny of snoei nie, want dan is hul blomme daarmee heen.

• Strooi insekdoderkorrels onderom groot sipresbome en spuit klein konifere teen plantluise om sipresluis-skade in die winter en vroeë lente te vermy.

• Gee gevestigde struike ’n dosis gebalanseerde misstof, maar onthou: Party inheemse struike wil nie bemes wees nie – doen navraag by jou plaaslike kwekery.

• Maak seker water bereik die wortelarea wanneer jy besproei. Strooi ’n dik laag growwe kompos, dennenaalde of bas om vogtigheid te behou.

Tuinwenk van die maand

Maak seker daar’s heelwat plante met kleurvolle loof in jou herfstuin, soos die inheemse riviervaderlandswilg (Combretum erythrophyllum) met sy wilgeragtige groeiwyse en blare wat eers geel en dan rooi verkleur. Die beste nuus? Dis droogtebestand!

LEES NOU:

Tuintake vir Maart: Spaar water!

Tuintake vir Maart: Spaar water!

 

WEB-FOOTERS-afr