Kweekwenke vir kaktusse en vetplante

Kaktusse en vetplante is die ideale huisplante: maklik om te kweek, sonder fiemies en boonop hoogmode.

Slider loading...
  • ’n Kaktus of twee kan wondere verrig in ’n vaal kombuis (dit sal ook dolgelukkig wees in dié vogtige, warm groeiplek). Plant dit in ’n mooi emaljebak en verfraai dit verder met klippies.


  • Vul ’n glassilinder met lae fyn gruisklip in verskillende kleure (dis by die meeste ysterware- en troeteldierwinkels te koop). Meng skoongewaste riviersand en ’n handjie vol kompos vir die boonste laag en maak dan ’n holte waarin jy ’n jong aalwyn kan plant.


  • Omdat dié eksotiese Euphorbia-soort, Euphorbia ‘Gracia’, te delikaat is om op sy eie wortelstelsel te groei (dit vrot maklik), word dit geënt op die stam van ’n meer geharde kaktussoort. Dit lyk ’n bietjie soos ’n kalkoennek en sal die beste vaar naby ’n venster wat baie lig kry (nie direkte sonlig nie).


  • ’n Ouma-se-stoelkussing (Echinocactus grisonii, ook bekend as ’n “ivory pillow cactus”) rus in ’n elegante breëbek-keramiekpot.


Die regte plek

• Hoewel die meeste vetplante in die natuur in volson groei, is daar baie soorte wat hou van ligte skaduwee gedurende die warmste deel van die dag. Volg die goue middeweg en hou dit binnenshuis naby ’n venster of enige plek wat baie natuurlike lig kry.

• Hou die plante weg van besige plekke in die huis – party se dorings kan ’n mens lelik beseer, terwyl ander se takke weer baie bros is, maklik breek of melk uitskei wat die vel kan irriteer.

Die regte houer

• Jy kan letterlik enige houer gebruik, maar as jy ’n lewende kunswerk wil skep, moet plant en pot darem bymekaar pas. Vlakkerige houers wat die plante sal inhibeer sonder skade, is perfek omdat die meeste kaktusse en vetplante nie ’n diep wortelstelsel het nie. Die plant sal wel laat weet as die houer later te beknop raak.

• Breëbekpotte is ideaal vir plante met baie dorings.

• Goeie dreinering is noodsaaklik. As die houer wat jy wil gebruik, nie dreineringsgate het nie, moet jy ’n dik laag klipsplinters onderin strooi. Gooi ook ’n stuk houtskool by om die grond vars te hou voordat jy die grondmengsel ingooi.

Die regte grond

• Spesiale grondmengsels vir vetplante en kaktusse is by kwekerye beskikbaar. Jy kan ook jou eie meng: twee dele goeie leemgrond, twee dele gewaste riviersand, een deel skerp klipsplinters en een deel kompos. Jy kan ook ’n bietjie beenmeel bygooi.

• Plant kaktusse effens hoër as die grondvlak waarin hulle in kwekerypotjies gekweek is. Vul dit verder op met ’n deklaag van spoelklippies, klipsplinters of ander ornamentele klippies – dit sal help keer dat die plantbasis of stam vrot.

Water en kos

• Die goue reël is droë voete. Laat die grondmengsel eers behoorlik uitdroog voordat jy die plante weer natgooi. In die lente en somer – die seisoene wanneer die plante die meeste groei – het dit meer water nodig (al om die ander week), maar in die winter hou hulle van droë grond en warmte. Die hoeveelheid water sal natuurlik deur die grootte van die plant en die pot bepaal word – potte sonder dreineringsgate het letterlik net ’n paar eetlepels water op ’n slag nodig.

• Voed jou vetplante twee keer per jaar met ’n vloeibare misstof soos Nitrosol, wat in al hulle stikstofbehoeftes sal voorsien.

• Dra die plante af en toe buitentoe om ’n rukkie in die son deur te bring. Was dit met ’n tuinslang en fyn sproeikop skoon en los die plante buite (nie in skerp sonlig nie) tot dit goed uitgedroog het. Plante in houers sonder dreineringsgate kan terselfdertyd in vars grond oorgeplant word.

vetplant-skoonmaak

Hou die pokkels skoon

Vergeet van stowwerige kaktusbolletjies en gebruik ’n tandeborsel om jou plante silwerskoon te borsel. Spuit dit ook gereeld skoon met ’n klein missproeibotteltjie.

vetplant-uitplant

Oorplant sonder pyn

Beskermende dik handskoene is die beste as jy ’n kaktus moet verplant, maar jy kan ook ’n koerant inspan. Gooi die plant die vorige dag goed nat om die grond sag te maak. Vou ’n dik “lint” van koerantpapier en draai dit om die kaktus. Hou die punte stewig bymekaar en draai die pot op sy sy. Trek die plant versigtig uit en sit dit in die nuwe houer.

LEES NOU:

Alles wat jy wil weet oor ’n boorgat sink

Alles wat jy wil weet oor ’n boorgat sink

 WEB-FOOTERS-afr