Kweek so jou eie knolgroente

Knolgroente-nuusbrief

Die vars smaak en voedingswaarde van knolgroente uit jou eie tuin is nêrens te koop nie. Dis boonop die perfekte bestanddeel vir bredies en sop. Ons deel belangrike saai- en oeswenke.

Danksy al die betakaroteen, magnesium, kalium, kalsium en vitamiene A, B en C in geelwortels (Daucus carota var. sativus) word dit beskou as een van die beste wapens in die stryd om goeie gesondheid te help verseker. ’n Mens kan dit boonop regdeur die jaar kweek – dit groei net stadiger in die winter. Goeie buurplante is radyse, ertjies, blaarslaai, tamaties en uie.

Kweek en oes

  • Geelwortels hou van volson en kan elke drie weke gesaai word om ’n oes regdeur jaar te verseker.
  • Saai die saad 1-1,5 cm diep op die plek waar dit gaan groei – dit sal binne 10-14 dae ontkiem. Dis onnodig om wortels uit te dun. Trek net gereeld die babawortels uit en gebruik dit in slaai sodat daar genoeg oorbly wat groter kan word (los minstens 3 cm oop tussen elkeen).
  • Erd die grond gereeld op sodat geen deel van die wortel bo die grond uitsteek nie, anders sal die wortels groen en hard word.
  • In warm streke kan ’n mens dikwels teen die agste week al begin oes.

 

Uie (Allium cepa) en minder pikante preie (Allium ampeloprasum) het ’n lang groeiseisoen (4-6 maande), maar ten minste is daar van nukke en grille nie sprake nie. Albei is ’n ryk bron van kalsium, fosfor, kalium en anti-oksidante.

Kweek en oes

  • Preie kan regdeur die jaar gesaai word, behalwe in die koue wintermaande. Plant dit ná 6-8 weke uit (wanneer die plante sowat 15 cm hoog is) en los minstens 10 cm tussen elkeen. Dis veel makliker om uieplantjies by ’n kwekery te koop. As jy dit self wil saai, moet jy by die kwekery uitvind watter variëteit die beste in jou klimaatstreek sal aard. Die saad ontkiem binne 10-14 dae, maar is gewoonlik ná drie maande eers reg om uitgeplant te word.
  • Wees versigtig wanneer jy preie natlei – moenie sand in die kroontjies laat val nie. Die groente kan geoes word wanneer die plante sowat 50 cm hoog is en as die buitenste skil teen die stam (onderkant die blare) begin verdroog.
  • Uie kan uitgetrek word as die blare begin vergeel en verlep. Laat dit baie goed in die son uitdroog voordat jy dit op ’n koel, droë plek ophang. As die bêreplek te warm is (soos onder ’n motorhuis-sinkdak), sal die uie te gou weer begin uitloop.

Nugter weet hoekom rape (Brassica rapa) nog nooit gewild was in Suid-Afrikaanse huistuine nie, want dis baie voedsaam en veelsydig met ’n sterk, neutagtige smaak.

Kweek en oes

  • Rape sal in volson en halfskadu goed vaar.
  • Saai die saad in die lente sowat 1-1,5 cm diep op die plek waar dit gaan groei. Gee dit veral aan die begin genoeg water en dun die plante mettertyd uit tot sowat 5-10 cm tussen elkeen.
  • Afhangende van die variëteit kan jy enigiets van 30-90 dae later begin oes. Die knolle moet omtrent so groot soos ’n gholfbal wees en die wit vleis sal ’n rooierige skynsel aan die bokant kry.

 

Knolseldery (Apium graveolens var. rapaceum), ’n tweejarige familielid van seldery, is een van die lelikste eendjies in die groentetuin omdat die knolle knoetserig en effe skrikwekkend lyk (sien foto op bl. 108). ’n Mens kry selde saailinge by kwekerye en selfs die knolle is meestal net by organiese markte te koop (ons het ons s’n by die Bellville-mark opgespoor). Moontlike redes hiervoor is die baie lang groeiseisoen (sowat 7 maande), of die feit dat die knolle moeilik is om skoon te maak en af te skil. Maar oor die buitengewone geur van knolseldery kan ’n mens net ’n dankpsalm neurie, en buitendien is dié afskeepkind nie naastenby so vol fiemies soos sy neef seldery nie.

Kweek en oes

  • Die saad is baie fyn en moet in die vroeglente sowat 1 cm diep gesaai word op ’n plek waar dit genoeg son sal kry. Hou die grond klam en plant die saailinge sowat 15-20 cm uitmekaar wanneer dit groot genoeg is (dit groei ook goed in potte).
  • Oes die knolle wanneer die wortelbal sowat 5 cm in deursnee is – dit kan tot 10 cm word, maar hoe kleiner dit is, hoe geuriger. Gebruik dit in slaai, sop en bredies.

 

0107TS098_9.pdf 0107TS098_9.pdf 0107TS098_9.pdf

 

Patats (Ipomoea batatas) is nie geskik vir klein tuine nie omdat die ranke wyd uitsprei (en selfs as grondbedekkers kan diens doen), maar ’n mens kan wel vir die plesier daarvan een in ’n groot pot plant.

Kweek en oes

  • Patatranke word tussen Oktober en Desember geplant en ’n mens kan dit by spesialiskwekers koop.
  • Maak jou eie patatrank: Koop ’n gesonde patat by die supermark, plant dit en hou die grond klam. Die ranke loop vinnig uit, en binne twee maande kan jy steggies sny van die lote se bopunte. Sorg dat daar minstens drie ogies vir onder die grond en twee vir bo die grond is. Sny die stingel net onder die vyfde ogie af en sorg vir sowat 2,5 cm bo die boonste ogie. Maak die grond goed nat en plant die ranke die volgende dag minstens 60 cm uitmekaar. Dit sal binne drie weke begin groei.
  • Van nou af moet jy nie te veel water gee nie – hoogstens een keer per week. Trouens, jy kan maar vergeet van die plant totdat die knolvorming in die laatsomer begin.
  • Patats kan teen einde Mei versigtig met ’n graaf uitgelig word. Laat dit in die son uitdroog en bêre dit op ’n koel, droë plek. ’n Paar peste en plae het ’n oog op knolgroente – van slakke, skoenlapperruspes en snywurms tot wortel- en selderyvlieë, donsskimmel en vele meer. Gesels met jou kwekery oor organiese plaagdoders en lees meer in die boek Kweek jou eie groente en kruie deur Mariénne Uys. Om sukses te behaal met enige soort knolgroente moet die grond deeglik voorberei word, verkieslik in die seisoen voordat die saad gesaai word óf minstens twee maande voor die tyd.
  • Knolgroente haat kleigrond en verkies ligte, sanderige leem- of veengrond wat deeglik met organiese materiaal soos kompos of baie goed verrotte kraalmis, 15 ml 3:1:5-kunsmis per vierkante meter en selfs saagsels en grassnysels verryk is. (Moet nooit vars kraalmis inwerk nie.)
  • Stikstofryke, effe suur grond (pH 5.5-6.5) is die beste. Die grond moet te alle tye klam bly, maar ook goed dreineer.
  • Die grond moet diep – minstens 50 cm – omgespit word. Verwyder alle klippe en stokke wat misvormde groente kan veroorsaak.

 

Witwortels (Pastinaca sativa) het ’n ligte selderyagtige smaak en soet, neutagtige geur. Dis al eeue lank ’n gesogte groentesoort omdat ’n mens dit lank kan bêre (tot ses maande in die yskas). Witwortels is laag in kilojoules, maar ryk aan vesel, foliensuur, kalsium, yster, sink en vitamiene B en C.

Kweek en oes

  • Witwortels het ’n lang groeiseisoen (3-5 maande) en die saad verslaan binne ’n jaar (en dit ontkiem ontsettend stadig). Hulle verkies volson, maar sal ook in halfskadu groei.
  • Saai die vars saad sowat 1-2 cm diep in die herfs en op die plek waar dit gaan groei. (Week die saad oornag om ontkieming aan te jaag.) Hou die grond klam en dun die saailinge later uit tot 5-10 cm uitmekaar.
  • Wanneer die wortels ná 4-5 maande sowat 2-5 cm in deursnee is (20-30 cm lank) kan dit met ’n tuinvurk uitgelig word. Maak die grond rondom eers effens los voordat jy begin oes.

0108TS103

Beet (beta vulgaris) sal maklik groei op enige sonnige plek mits dit in tuingrond geplant is wat goed dreineer. Die plante groei vinniger in die koeler maande, maar dis ’n aanpasbare groentesoort wat heeljaar gesaai kan word, behalwe in baie warm klimaatstreke waar Maart tot Julie die beste planttyd sal wees.

Kweek en oes

  • Beet kan van die vroeë lente tot in die herfs gesaai word. Saai dit regstreeks in die voorbereide beddings in rye wat sowat 20 cm uitmekaar is.
  • Week die beetsaad eers vir sowat twee uur in warm water voordat dit gesaai word. Dit sal help om die saad vinniger te laat ontkiem.
  • Hou die grond klam totdat die saadjies ontkiem het. As die plantjies te dig opkom, kan hulle uitgedun word tot sowat 8 cm uitmekaar.
  • Hou die plantjies deurgaans goed nat en voed gereeld met ’n algemene vloeibare kunsmis. Beet moet vinnig groei om soveel as moontlik van hul soet sappigheid te behou.
  • Moenie die beet plant in beddings wat onlangs met kraalmis bemes is nie. Beet verkies grond wat nie te ryk is nie. Hulle hou ook nie van grond waar ’n ander groentesoort onlangs suksesvol gekweek is nie.
  • Begin die beet oes as die knolle omtrent so groot soos gholfballetjies is. Só verseker jy die groente is soet en sappig.
  • Oes beet net deur dit aan die blare uit die grond te trek, óf gebruik ’n tuinvurk om dit versigtig uit te lig.
  • Verwyder die blare met ’n vinnige draaibeweging sowat 3-5 cm bo die knolle. Los die kort steeltjies net so aan die knol omdat dit sal keer dat die beet “bloei” en hulle dieprooi kleur verloor wanneer dit gekook word.

 

LEES NOU:

Tuintake vir April: Jaarplante vir lentekleur

Tuintake vir April: Jaarplante vir lentekleur

 

WEB-FOOTERS-afr