Grensmure vir elke smaak

Die dae van onooglike grensmure is verby – nou is dit eerder fokuspunte!

Deur Maryke Roberts • Foto’s: Ed O’Riley • Stilering: Simone Borcherding

Solank veiligheid ’n kwessie in die land is, sal ons ons huise wil omhein. Die jongste neiging is om ’n verskeidenheid materiale soos hout, metaal en baksteen te kombineer om grensmure ’n fokuspunt eerder as ’n veiligheidsmaatreël te maak.

Jacques Orten, ’n Pretoriase argitek, sê mense moet onthou dat argitektuur nie ophou by ’n pragtig ontwerpte woning nie. “Goeie argitektuur vloei deur na die grensmure en ander elemente in die landskap. Herhaal byvoorbeeld die kleure en teksture van jou woning op ’n baie subtiele wyse in die grensmure.”

Voor jy met die beplanning van jou muur begin en ’n materiaal kies, kyk of daar enige bome in die pad van die muur staan en besluit dan of jy die bome gaan uithaal. Nader ’n boomkenner oor hoe aggressief die wortelstelsel is en of dit jou muur kan laat kraak. Waar boomwortels ’n probleem is, kan jy pleks van ’n fondasie ’n latei tussen die muur se kolomme inbou wat bo-oor die wortels span.

’n Welige groeier soos bougainvillea is ’n maklike manier om ’n pragtige fokuspunt te skep. Jy hoef ook nie juis aandag te gee nie, want dit floreer as dit afgeskeep word! Snoei net so af en toe vir ’n netjiese voorkoms.

’n Welige groeier soos bougainvillea is ’n maklike manier om ’n pragtige fokuspunt te skep. Jy hoef ook nie juis aandag te gee nie, want dit floreer as dit afgeskeep word! Snoei net so af en toe vir ’n netjiese voorkoms.

Soliede mure
Soliede mure word gewoonlik uit baksteen, boublokke of kleistene gebou en gepleister, en is ideaal vir privaatheid en sekuriteit. Moenie soliede grensmure op ooghoogte (1,7 m) aanbring nie, want dit plaas verbygangers net in die versoeking om oor te kyk. Dié tipe muur moet verkieslik 2 meter en hoër wees. Soliede mure is ideaal vir privaatheid, maar kan soms deur skelms gebruik word om agter te skuil as hulle wil inbreek.

Grensmure word normaalweg gebou met ’n ekstra baksteenkolom van 230 x 230 mm ná elke 3,5 meter vir strukturele ondersteuning. Die wind kan ’n groot effek op grensmure uitoefen: Waar soliede grensmure dikwels ongewenste turbulensie veroorsaak, kan geperforeerde grensmure meer doeltreffend wees aangesien dit die intensiteit van die wind demp.

Wenk: Vir Suid-Afrika se warm klimaat moet grensmure naby ’n huis liefs nie spierwit geverf word nie – dit sal die son se hitte na die huis weerkaats en die huis nog warmer maak. Effens donker kleure en teksture werk hier beter.

Soliede gepleisterde mure wat wit geverf is pas by verskeie huisstyle.

Soliede gepleisterde mure wat wit geverf is pas by verskeie huisstyle.

Palissades
’n Palissadeheining is die ideale oplossing as sekuriteit jou grootste oogmerk is. Heelwat huiseienaars bring tralies bo-op bestaande lae muurtjies aan, of bou ’n basismuur van 1-1,2 m en bring dan die palissades bo-op aan. ’n Geboude basis keer dat troeteldiere en klein kinders deur die palissade kan uitglip straat toe.

Palissades kan van staal of hout gemaak word, met verf of seëlaar behandel of selfs gegalvaniseer of met epoksi bedek word vir ekstra langdurigheid.

Onthou net dat palissades geen privaatheid verskaf nie en moeiliker kan wees om self op te rig.

Wenk: Indien daar van staal of houtpilare gebruik gemaak word, is dit goeie praktyk om ’n klein betonblok te gooi wat bogronds uitstaan en die kolom daarop vas te sit. Dit hou die staal of hout weg van klam grond en vertraag die roes- en verrottingsproses.

’n Staalpalissade gekombineer met soliede pilare bied goeie veiligheid, maar nie juis privaatheid nie.

’n Staalpalissade gekombineer met soliede pilare bied goeie veiligheid, maar nie juis privaatheid nie.

Keermure
Wanneer jou erf teen ’n natuurlike helling van meer as 45 grade loop, het jy behoorlike keermure nodig. Raadpleeg altyd ’n siviele ingenieur omdat die hoogte, fondasiegrootte en -diepte belangrik is, veral by keermure hoër as 1,22 m.

Orten stel voor dat jy ’n dreineringspyp van 100 mm in deursnee elke paar meter insit om ontslae te raak van grondwater wat agter die keermuur kan opdam. Gewone uPVC-pype is ideaal. “Indien dit ’n hoër keermuur is met baie grondwater, kan ’n geperforeerde uPVC-pyp, toegedraai in geotekstiel, in ’n laag gekapte klip aan die onderste binnewand van die keermuur aangebring word. Laat dié pyp parallel met die keermuur loop en die dreineringspype daaruit vertak.”

Ander opsies wat nou gewild is, is draadmandjies wat met klippe of herwonne buitebande gevul en as skansmure opmekaar gestapel word. Dié met buitebande moet teen ’n vlakker helling gebruik en met grond gevul word vir stabiliteit – laat dit toegroei met rankplante.

Verfraai ’n eenvoudige draadheining met ’n rankplant wat in ’n diamantvorm opgelei is.

Verfraai ’n eenvoudige draadheining met ’n rankplant wat in ’n diamantvorm opgelei is.

Spitspaalheinings
Baie jongmense droom van ’n eie huis met die wit spitspaalheining, die groot langhaarhond in die voortuin en malvas in blombakke by die voordeur. Dié tipe houtheining is baie eenvoudig om te installeer en ondernemings soos Swartland Windows and Doors vervaardig lengtes daarvan in verskillende hoogtes – dié panele is by die meeste ysterwarewinkels te koop. Jy kan behandelde of onbehandelde dennehout kies en hekke in ooreenstemmende hoogtes daarby aanskaf.

Verf dit wit vir ’n tradisionele voorkoms of seël die natuurlike hout, sê Charl Jacobz van Swartland. Bly net weg van kleurlose seëlaar, want dit dien as vergrootglas vir die son en kan meer skade as goed doen.

Spitspaalheinings is ideaal wanneer huiseienaars eenvoudig hul erf se grense wil afbaken, privaatheid verlang of klein kinders of troeteldiere wil binnehou. Hoe hoër die heining, hoe meer privaatheid. Dis veral geskik in behuisingsontwikkelings waar die heining bloot privaatheid – en nie sekuriteit nie – hoef te bied.

Dié heinings pas by verskeie argitektoniese huisstyle, maar is veral geskik vir kontemporêre koloniale, Georgiaanse, Victoriaanse en rustieke plaashuise.

Spitspaalheinings is eenvoudig om te installeer, heelwat goedkoper as geboude mure en rond ’n huis mooi af. “Maar,” waarsku Charl, “houtmuurtjies is nie die ideale oplossing vir sekuriteit rondom jou huis nie. Dit verg ook jaarlikse instandhouding om voortdurend mooi te lyk en om verrotting te voorkom.” Om hout se natuurlike prag te bewaar, beveel hy Maxicare-olie of ’n waterbasisseëlaar aan omdat dit hout beskerm teen die son en reën, maar ook swamwerende bestanddele bevat wat verrotting kan vertraag.

Houtheinings gee ’n ouwêreldse, aardse voorkoms. Kombineer dit met ’n elektriese heining vir ekstra veiligheid.

Houtheinings gee ’n ouwêreldse, aardse voorkoms. Kombineer dit met ’n elektriese heining vir ekstra veiligheid.

Raad met betonmure
Voorafvervaardigde betonmure (Vibracrete) bly maar onooglik, en die meeste van ons sit met so ’n muur in die agterplaas. Behalwe om dit met plante te verbloem, kan jy ook firmas raadpleeg wat in die verfraaiing van Vibracrete spesialiseer. Classy Crete se unieke patent maak hulle baie gewild in die omskepping van vaal voorafvervaardigde mure in ’n klassieke, soliede muur. Hulle bedek nie net die muur nie, maar verbreed ook die pilare en die borand, en kan die mure in verskillende style afwerk. Die mure is sterker en volgens eiendomsagente verhoog dit die waarde van jou eiendom. Ander firmas, soos Revelstone, gebruik spesiale bekleding of pleistertegnieke om betonmure af te werk.

Wenk: Bly liefs by die kenners as jy Vibracrete-mure wil pleister. Die betonpanele van dié mure is los van mekaar en beweging kan daarin plaasvind, wat krake kan meebring.

Voor en na:

Voor en na: betonmure

Versekering
Versekeringsmaatskappye maak nie onderskeid tussen die verskillende grensmure en heinings as dit by premies kom nie.

Munisipale regulasies
Hoewel enige grensmuur deur jou plaaslike owerheid goedgekeur moet word, verskil die vereistes van munisipaliteit tot munisipaliteit. In party stede hoef jou muur byvoorbeeld nie deur ’n tekenaar of argitek wat by die Suid-Afrikaanse Raad vir die Argiteksprofessie geregistreer is, ontwerp en geteken te word nie – maar maak seker voor jy begin bou. Grensmure moet wel volgens die ontwerpreëls in die Nasionale Bouregulasies, SANS 10400-K en SANS 2001-CM2, opgerig word.