Timmer 'n ottoman met pakplek

 

 

 

 

 

 

 

Harde werk: 4/10
Vaardigheidsvlak: 6/10

Projeknotas

  • Neem die breedte van jou lap in ag wanneer jy die grootte van jou ottoman uitwerk.
  • Bou jou boks van Supawood.
  • Ons deksel is los bo-op, maar jy kan dit heg met skarniere of Velcro.

Inkopielys

  • twee 1 000 x 500 x 16 mm-stukke (basis en deksel)
  • twee 1 000 x 335 x 16 mm-stukke (lang sye)
  • twee 468 x 335 x 16 mm-stukke (kort sye)

Ander items

  • 6 mm x 40 mm-spaanderbordskroewe
  • vier 60 mm-snyskroewe
  • kouelym
  • gedraaide houtpote
  • swaardienskramme
  • aanspuit-kontakkleefmiddel
  • lap
  • watteersel en 50 mm-spons
  • oortrekknope
  • koord of tou

Gereedskap

  • koordlose boor en 3 mm-kombinasie-versinkboorpunt asook 5 mm-boorpunt
  • krampistool
  • naaimasjien
  • skêr
  • maatband
  • gompistool

Diagram

 

So maak jy

1 Bou die raamwerk vir jou boks deur die 1 000 x 335 mm en die 468 x 335 mm-dele aanmekaar te sit. Die korter sye pas tussen die langer sye. Boor eers gidsgate en sit vas met kouelym voor jy die 40 mm-spaanderbordskroewe indraai.

2 Sit die basis (1 000 x 500 mm) net so aan die raamwerk vas. Sit die pote aan deur van binne die boks eers gidsgate te boor en dan die pote met die 60 mm-snyskroewe vas te skroef.

3 Trek die kis met die watteersel oor en kram dit aan die binnekant van die boks vas, soos aangedui.

4 Meet die boks en knip materiaalpanele uit om die oortreksel mee te maak. ONTHOU: Sorg dat daar ‘n naattoelating van minstens 25 mm is. Gebruik ‘n naaimasjien om die panele aanmekaar te stik (of laat maak die oortreksel).

5 Vou die ekstra materiaal oor die rand van die boks en kram dit aan die binnekant vas. Slaan die materiaalrand om en keer so dat dit uitrafel.

6 Merk agt punte eweredig gespasieer op die deksel uit vir die knope en gebruik die koordlose boor om 5 mm-gate te boor. Gebruik dan ‘n aanspuit-kontakkleefmiddel en plak die spons aan die deksel (1 000 x 500 mm) vas.

7 Knip nou ‘n stuk watteersel en genoeg lap om oor die deksel te pas; vou die rande van die lap om en vou dit oor die deksel se rand en kram aan die onderkant vas.

8 Gebruik nou ‘n lang, stewige naald en ryg koord deur die gate wat in stap ses geboor is.

9 Ryg die koord deur die ogies van die oorgetrekte knope en weer terug deur die gate.

10 Trek die koord styf genoeg dat dit ‘n behoorlike duik in die deksel maak. Gebruik stukkies lap om te keer dat die knope deur die gate glip.

11 OPSIONEEL Sit galon aan die onderste rand vas met ‘n gompistool. Spuit ‘n bietjie gom op die materiaal en druk die galon daarop vas.