Projeknotas
• Ons het besluit om al die verf van die ou laaikas te stroop.
• Ons het nuwe pote gemaak om hoogte en struktuur by die algehele ontwerp te voeg.
• Toe het ons asimmetriese patrone oor die laaie se voorkante en sye getrek.
• Daarna het ons dié vorms in helder kleure geverf vir ’n speelse eindproduk.
Ashley sê As dit by die opknap van meubels kom, hang dit van jou af of jy die oorspronklike hout gaan ontbloot of toeverf.
Inkopielys
• houtvuller (indien nodig)
• 1800 x 44 x 44mm-dennehout
• verfstroper (indien nodig)
• onderlaag
• verf
• maskeerband
• 40mm-spaanderbordskroewe
Gereedskap
• skraper/spatel
• skaaf
• koordlose skroewedraaier
• skuurmasjien en skuurpapier
• verfkwas of sponsroller
• potlood
• skroewedraaier
Om die verf te verwyder het ons veeldoelige Plascon RemovAll-verfstroper, wat ’n waterbasis het, met ’n kwas aangewend en dit vir 20 minute aangelos.
Gebruik die regte skraper vir die bepaalde oppervlak en hou die reguit, skerp rand deurentyd plat teen die oppervlak.
So maak jy
1 Verwyder ou vernis of verf met die verfstroper. Indien die verflaag los is of afdop, moet jy soveel moontlik met ’n skraper afhaal voor jy die verfstroper aanwend. Gee dit kans om met die verf te reageer en gebruik dan ’n skraper om al die verf of vernis wat begin oplig het, af te haal. Werk versigtig saam met die grein, sodat jy nie die hout beskadig nie.

2 Skuur enige verfreste af met ’n wentelskuurder – begin met ’n 180-grint- en eindig met ’n 220-grint-papier. Werk die hout daarna glad af met staalwol om dit gereed te maak vir ’n onderlaag.

3 Saag die 1 800 mm-dennehout in vier 250 mm-lengtes. Maak ’n merk 20 mm van die een hoek en verbind dit met ’n reguit lyn met die teenoorstaande hoek.

4 Skaaf nou die hout weg om vier afgeskuinste pote te maak.

5 Maak basisse vir die pote met vier afvalstukke hout van sowat 120 x 120 mm. Sit dit met lym en skroewe aan die pote vas.

6 Skroef nou die vier nuwe pote onderaan die laaikas vas met 40 mm- spaanderbordskroewe – onthou om eers gidsgate te boor.

7 Teken die ontwerpe of vorms wat jy wil verf, met potlood. Blok dan dié fatsoene met maskeerband uit. Wend nou onderlaag aan op die dele wat jy wil verf.

8 Wag tot die onderlaag droog is, skuur dié dele liggies met 220-grint-skuurpapier en wend dan twee lae verf aan. Ons het Dulux Luxurous Silk, ’n akriliese PVA, gebruik.

9 Verwyder die maskeerband nadat jy die laaste laag aangeverf het.

10 Sit die laaiknoppe terug om die projek te voltooi.














Kook en wen R200 000!

Nog geen kommentaar.