Kroeg op wiele

Harde werk 4/10

Vaardigheidsvlak 4/10 (moet kraggereed- skap gebruik)

Tyd nodig Sowat vier uur (droogtyd uitgesluit)

Klaar grootte 1200 (l) x 900 (h) x 600mm (b)

 

Projeknotas

• Ons het ’n 1200mm-werkbank gekies – die aantal stroke vir die bekleding hang af van hoe groot jou werkbank is. (Werkbanke is te kry in standard-lengtes: 900mm, 1200mm, 1500mm en 1800mm.)

• Ons het 44 x 22mm-dennehout gebruik vir ’n raamwerk onderom ons kroegtoonbank, waaraan ons die 800mm-lengtes 22 x 22mm- meranti-bekleding kon vassit.

 

Inkopielys

• werkbank

• twee en twintig 2400 x 22 x 22mm-lengtes meranti, gesaag in 66 x 800mm-stroke

• een 2400 x 44 x 22mm-dennehoutplank, gesaag in: een 1200mm-lengte twee 600mm-lengtes (raam onderom)

• een 1800 x 44 x 22mm-dennehoutplank (as stut vir die glasrakkie)

• 38mm-houtgordynstok (vir voetrus)

Plus

• ± honderd en vyftig 40mm-spaanderbordskroewe

• ± dertig 30mm-spaanderbordskroewe

• houtlym

• vernis of verf

• rolwieletjies

• wasbakkie/vlekvryestaal-ysbak

• glasrakkie

 

Gereedskap

• boor en kombinasie-versinkboorpunt

• figuursaag

• potlood

• maatband

• 38mm-Forstner-boorpunt

• verfkwas of sponsroller

Ashley sê Die tuiskroeg is lankal nie meer die swaar, donker seeroog van ouds nie, maar ’n leefstyl-bykomstigheid.

 

So maak jy

Bou die basis

1 Dié standaard-werkbank se gedaanteverwisseling het begin deur dit wit te verf: eers met ’n veeldoelige onderlaag, gevolg deur twee lae duursame emaljeverf met ’n waterbasis. Om vir die hoogte van die wieletjies voorsiening te maak, het ons die pote 100 mm korter gesaag. Daarna het ons die rolwieletjies met 30 mm- spaanderbordskroewe vasgesit.
1111EObar- 16

2 Saag die 1 800 x 44 x 22 mm-dennehoutplank sodat dit oor die lengte onder die blad se raamwerk inpas. Die grootte van die glasrakkie bepaal hoe ver van die “voorkant” van die raamwerk af en hoe diep die plank vasgesit moet word. Gebruik die kombinasie-versinkboorpunt en boor versinkte gidsgate voor jy die plank op sy plek vasskroef.
1111EObar- 13

3 Skroef die glasrakkie aan die “voorste” rand van die blad se raam, asook aan die plank wat jy in stap 2 ingesit het, vas. Ons het die glasrakkie met 30 mm-spaanderbordskroewe vasgeskroef.
1111EObar- 14

4 Maak ’n gat vir die wasbak: Trek die buitemaat van die houer wat jy wil versink af, of gebruik ’n passer en trek ’n sirkel met dieselfde deursnee op die blad. Boor nou ’n 10 mm-gat net binne die sirkel as beginpunt vir die figuursaag se lem. Saag die sirkel uit. LET WEL Maak die gat effens kleiner as jy ‘n wasbak met ‘n lip wil insit.
1111EObar- 17

5 Meet die breedte van die kroegyskassie. Trek daarvolgens ’n lyn van voor na agter oor die middelste rak en saag die latte met ’n figuursaag deur.
1111EObar- 18

6 Sit ’n afvalstuk hout tussen die onderste rak en die hoek van die middelste rak om laasgenoemde te ondersteun. Lym en skroef dit vas.
1111EObar- 19

7 Skroef die twee 1 200 mm- en 600 mm- lengtes dennehout rondom die onderkant van die werkbank vas. Boor gidsgate en skroef dit vas met 40 mm-spaander-bordskroewe. LET WEL Dié ekstra raam is nodig om die bekleding in lyn met die groter boonste raam te bring.
1111EObar- 9

8 Plaas al die meranti-latte langs mekaar op jou werkoppervlak en trek lyne regoor almal op die punte waar hulle aan die raamwerk vasgeskroef moet word – sowat 100 mm van die “onderpunt” en 50 mm van die “bopunt” af. Boor versinkte gidsgate op dié lyne in elke lat. WENK Sit ’n afvalstuk hout onder die latte sodat die gate nie aan die onderkant splyt nie. Wend dan houtlym by die lasplekke aan en skroef die latte met die 40 mm-spaanderbordskroewe aan die raamwerk vas. Begin in lyn met die hoek van die werkbank se pote en spasieer die latte 22 mm uitmekaar.
1111EObar- 10

9 Saag twee 70 x 22 mm-stukke meranti uit ’n afvalstuk, sowat 250mm lank, as stutte vir die voetrus. Gebruik dan ’n 38mm- Forstner-boorpunt en boor gate by die een punt van elke stut.
1111EObar- 11

10 Skuif dié lengtes tussen die pote en eerste lat aan elke kant deur en skroef hulle met 40 mm-spaanderbordskroewe aan die pote vas. Saag die gordynstok in die regte lengte en skuif dit deur die gate. Skuur laastens al die rande van die meranti-latte liggies en rond dit af met twee lae helder vernis.
1111EOashleysbar- 12