Gee jou huis kleur

Daar’s ’n goeie rede waarom ’n kleurvolle eksterieur gewild geword het.

[divider]

Met ’n vars laag verf kan jy jou huis ’n splinternuwe baadjie gee en boonop die waarde van die eiendom verhoog, maar dan is dit belangrik om ’n kleur te kies wat die huis en sy omgewing komplementeer, sê Adrian Goslett, hoof-uitvoerende beampte van RE/MAX: Southern Africa. “Hoewel die omgewing rondom die huis jou ’n idee sal gee waar om te begin, is elke huis en huiseienaar anders – wat vir die een werk, sal nie noodwendig vir die ander werk nie. Wees uniek en laat jou huis jou styl en persoonlikheid weerspieël.” Volgens Adrian kan huiseienaars die akroniem PALET as riglyn gebruik wanneer hulle ’n kleur vir hul huis moet kies – slim, nè?

P = patroon
Hou die omgewing, asook die boustyle en -materiale wat in jou buurt gebruik is, in gedagte wanneer jy ’n kleur vir jou huis kies. ’n Huis wat by die patroon van sy omgewing inskakel, versterk die samehang in die buurt en maak dit aanlokliker vir toekomstige kopers.

A = argitektuur
Party kleure pas beter by ’n sekere boustyl as ander, en word bepaal deur die algehele voorkoms en gevoel van die eiendom. In sekere dele van die land gaan bepaalde boustyle hand aan hand met ’n spesifieke kleurskema wat daardie tipe argitektuur die beste laat vertoon: Kaaps-Hollandse huise is gewoonlik wit, en Victoriaanse huise in enige kleur kry trefkrag met wit aksente.

L = ligging
Waar jou huis geleë is – hetsy in die stad, op die platteland of aan die kus – behoort ’n rol te speel in die kleur wat jy dit verf. Let dus op na algemene kleurpalette en elemente in die omgewing, soos die landskap, blare, teksture en aangrensende geboue. Die meeste neutrale kleure sal by enige omgewing inskakel. Jy kan ook jou huis wit verf en ’n aksentkleur van jou keuse gebruik om die argitektoniese detail te beklemtoon.

E = elemente
Die permanente ontwerpelemente aan die buitekant van ’n huis, soos fondamentklippe, siersteenmure en paadjies, het dikwels dieselfde kleurskema, en kan afgerond word met dakteëls of verf in komplementerende kleure.

T = tradisie
As jou huis in ’n area met ’n ryk geskiedenis, aan die kus of op die platteland geleë is, behoort jy die kenmerkende kleure van die bepaalde area te bewaar. Die natuurlike omgewing speel dikwels ’n groot rol in die kleur wat ’n huis geverf word: in kusgebiede, byvoorbeeld, word verskeie skakerings van blou gebruik om die kleure van die see te weerspieël.

011012HMM068.pdf