Inkopielys
- ± 120 vuurvaste boustene
- bousand
- sement
- klip
Gereedskap
- maatband
- waterpas
- grawe
- troffel
- houtpenne
- tou
Ander items
- bindvloeistof
- 3 mm-staalplaat in ‘n sirkel, 950 mm in deursnee, gesny*
Projeknotas
- Dis belangrik om vuurvaste bakstene, wat die hoë temperature kan weerstaan en nie so maklik sal kraak nie, te gebruik.
- Moenie binne die eerste paar dae nadat jy die struktuur gebou het, daarin vuur maak nie.
- Spuit die hele struktuur vir die eerste paar dae gereeld (soggens en saans) nat. Dit help die sement om te verhard en keer inkrimping.
- Ons het ‘n staalplaat in ‘n sirkel van 950 mm in deursnee laat sny om in die onderste binnerand van die braai te pas. Meet die grootte eers nadat jy jou braai gebou het – die mates kan verskil.
So maak jy
1 Besluit waar jou vuurput moet kom. Vermy plekke te na aan geboue of onder boomtakke. Slaan ‘n houtpen in die grond om die middelpunt uit te merk. Gebruik die maatband en meet ‘n stuk tou ongeveer een meter lank. Bind ‘n lus by elke punt, sodat die lengte uiteindelik omtrent 80 cm is. Skuif een lus oor die houtpen en plaas ‘n houtpen in die lus op die ander punt. Trek nou ‘n sirkel van ongeveer 160 cm in deursnee. Grawe die grond tot ‘n diepte van minstens 15 cm uit.
2 Meng die sand, klip en sement vir die fondasie. Vul die gat tot jy ‘n fondasie van ongeveer 10 cm dik het.
3 Gebruik ‘n waterpas en kap (omtrent soos jy pietersielie sou kap) die nat sement van hoek tot kant om seker te maak dit is gelyk. Laat die fondasie oornag droog word.
4 Volg dieselfde metode as in stap een en maak nog ‘n lengte tou, dié keer sowat 45 cm lank, met ‘n lus aan elke kant. Kap ‘n spyker in die middel van die fondasie in terwyl die sement nog effens nat is en merk ‘n sirkel met ‘n deursnee van ongeveer 90 cm uit, soos hierbo.
5 Plaas ‘n sirkel bakstene buite-om die sirkel, soos op die foto. Spasieer hulle eweredig uitmekaar sodat die openinge aan die buitekent ewe groot is.
6 Meng jou dagha (voeg bindvloeistof by om dit sterker te maak en beter te laat bind) en lê jou eerste baksteen. Maak met die waterpas seker die stene lê gelyk. Gebruik die troffel se steel of rand en kap die steen in die dagha vas tot jy seker is dit sit stewig (en waterpas) in die dagha.
7 Herhaal die proses vir die volgende lae en wissel die stene so af dat opeenvolgende rye mekaar oorvleuel. Vul die groter openinge aan die buitekant met dagha namate jy vorder.
8 Die laaste ry stene word kop aan kop buite-om geplaas, soos aangedui. Ons braai bestaan uit vyf lae stene wat langs mekaar lê, met ‘n sesde ry kop aan kop bo-om die rand.
9 Nadat jy al die openinge tussen die bakstene gevul het en dit effens laat set het, gebruik ‘n nat spons en die oorblywende dagha en “saksmeer” die hele struktuur. Jy doen dit deur die effens verdunde dagha met ‘n smeerbeweging oor die bakstene aan te wend. Laat die struktuur ‘n paar dae staan om uit te droog, maar spuit dit elke oggend en aand nat. Dit help dat die sement goed verhard. Hoe langer jy die struktuur toelaat om te verhard, hoe sterker word dit – gee dit minstens twee weke.











Comments are closed.