Alles oor teëls

[divider]
vloerbedekkings[divider] Ou teëls is dikwels die eerste wat opgekap word wanneer opknapwerk begin. Maar waarmee vervang jy dit? Daar is ‘n magdom verskillende soorte teëls en sementafwerkings te kry – om nie eers van al die ontwerpe of kleure te praat nie. Ons kyk na die jongste opsies vir harde vloerbedekkings. Kies maar self!

Keramiek

Keramiek is een van die algemeenste teëlmateriale en is bekend vir sy duursaamheid en bestandheid teen water, chemikalieë en brand. Dit is dikwels die meer ekonomiese opsie en is amper heeltemal onderhoudvry. Keramiekteëls word gemaak deur klei onder groot druk en by hoë temperature te bak. Dit skep ‘n ligte, maar baie harde teël.

Die teëls is gewoonlik geglasuur en dit is dus nie nodig om dit te seël nie (hoewel die bryvoë geseël moet word). Keramiek is in enige kleur, patron en tekstuur onder die son te kry. Standaard-teëls is gewoonlik vierkantig, maar jy kry ook reghoekige teëls. Verskillende soorte kan gemeng word om ‘n unieke visuele effek te skep.

Porselein

Porseleinteëls word ook van keramiekstof gemaak, maar word teen hoër temperature gebak sodat dit verglaas. Dit is van ‘n beter gehalte as keramiek en is ook duurder, maar dan weer goedkoper as natuurlike klip. Die beter materiaal en spesifieke bakproses verseker ‘n baie digter, harde teël wat water- en vlekbestand is – dus ideaal vir hoëverkeerareas.

Porselein trek na natuurlike klip soos kalkklip en dit werk goed in meer kontemporêre wonings. Porselein is in ‘n groot verskeidenheid glanslae en afwerkings, wat wissel van mat tot hoë glans, te kry. ‘n Ongeglasuurde porseleinteël kan gepoleer word tot hoë glans en omdat die teël regdeur dieselfde lyk, is afsplintering minder sigbaar.

Terracotta

Terracotta is die warmste van al die teëlsoorte en het ‘n ontspanne bekoring. Terracotta word van klei gemaak, maar teen laer temperature as ander teëlsoorte gebak. Dié proses laat klein lugblasies in die materiaal en dit skep ‘n poreuse oppervlak wat hitte behou. Dit beteken wel dit kan maklik deur water beskadig word as dit nie behoorlik verseël is nie. Daar is gevolglik ook kleurverskille in dieselfde baksel wat bydrae tot terracotta se oneffe individualiteit.

Terracotta is een van die oudste vloermateriale in die wêreld. Die landelike karakter van dié teël, dikwels beklemtoon deur breë bryvoë, maak dit uiters geskik vir kombuise. Terracotta-teëls kom in ‘n verskeidenheid aardse kleure – van baksteenrooi tot sagter pienk, warm oranje, mosterdgeel en elke skakering van bruin.

watter teel waar[divider] Watter teël, waar?

As jy teëls vir ‘n spesifieke vertrek kies, moet jy die handelaar vra wat die PEI-gradering daarvan is. PEI staan vir Porcelain Enamel Institute. Volgens Tile Africa meet dié gradering die afslytingsweerstand van teëls op ‘n skaal van 1 tot 5:

Gradering

PEI1 :
Waar : Badkamers en Vertrekke
Gebruik : Vertrekke met min voetverkeer waar ligte of elastiese skoene gedra word. Dit is nie geskik vir vertrekke wat by buiteareas aansluit nie, aangesien klippies ingetrap kan word.

PEI2 :
Waar: Vertrekke ligte voetverkeer
Gebruik: Dit is geskik vir vertrekke waar gewone skoene gedra word en ‘n klein hoeveelheid klippies moontlik ingetrap word.

PEI3 :
Waar : Binne en buite, sowel as kantore
Gebruik : Dit kan reg deur die huis gebruik word, insluitende portale, gange, kombuise en stoepe. Dit kan ook in ligte kommersiële areas gebruik word, soos kantore met min verkeer.

PEI4 :
Waar : Kommersieel en swaar verkeer
Gebruik: Dit is geskik vir alle openbare geboue soos winkels, hospitale, vulstasies, restaurante en industriële kombuise.

PEI5:
Waar: Industrieel
PEI 5 is ‘n industriële gradering vir fabrieke, sportstadions en werkwinkels.

Natuurlike klip[divider] Natuurlike klip

Klip is klassiek en verhoog die waarde van jou huis omdat dit duursaam en esteties tydloos is. Elke klip het sy eie unieke visuele voorkoms en elke teël verskil van die ander. Die meeste produkte kan binne en buite gebruik word, asook teen mure. Natuurlike klip is baie jare later steeds te kry en jy sal dus altyd teëls kry wat pas. Klip is te kry in lei, kalksteen, sandsteen, travertyn, graniet en marmer.

Klip word as blokke verkoop in verskillende groottes teëls, wat dikwels kleiner, dunner en effens ligter is. Alle soorte klip vereis ‘n sterk vloer om die aansienlike gewig te kan dra.

Leiklip is ‘n kompakte, harde klip wat onder groot druk in die aarde se kors gebak is. Dit sal nie skilfer of verdof nie, is redelik bestand teen water en vlekke en steek vuilis goed weg – dus ideaal in die kombuis, badkamer en buite.

Kalksteen word meestal gevorm uit ‘n mineraal genaamd kalsiet, wat bestaan uit die fyngemaakte oorblyfsels van seeorganismes en afsaksels in water. Dis ideal vir sjiek minimalistiese huise.

Sandsteen word gevorm deur ontelbare saamgeperste korrels sand, minerale en grond. Dit is ‘n gewilde opsie omdat dit duursaam is, in verskeie kleure kom, maklik is om te onderhou en goedkoper is as kalksteen.

Travertyn word ook dikwels travertyn-marmer genoem. Water syfer deur kalksteen, en in die proses word koolsuurgas vrygestel wat verskeie gaatjies in die klip agterlaat. Dit word gewoonlik met hars of ander vullers gevul, maar die klip kan ook grofgepoets word en ongevul gelaat word om dit ‘n effens ruwe, ouwêreldsevoorkoms te gee.

Marmer is eintlik gekristalliseerde kalksteen en word gevorm deur die chemiese veranderinge wat plaasvind wanneer klip aan volgehoue hitte en druk in die aarde se kors blootgestel word. Marmer hoort tuis in groot en ruim vertrekke en huise met ‘n meer formele voorkoms.

Graniet is ‘n stollingsgesteente wat gevorm is deur die stadige afkoeling van magma ondergronds of lawa bogronds. Dit is een van die sterkste klippe wat jy kry.Graniet het spikkels, terwyl marmer are het. Dit is ideaal vir hoëverkeer-areas en sou dit beskadig word, kan dit maklik gepoleer word.

Gegote sementteëls
Gegote sementteëls word van ‘n mengsel van nat sement, kleurpigmente en ander bestanddele gemaak. Die mengsel word in vorms gegiet om teëls te maak wat dieselfde natuurlike voorkoms as regte klip het. Sementteëls is duursaam en prakties en ‘n kostedoeltreffende alternatief vir klipprodukte. Die meeste teksture lyk soos sandsteen of leiklip en kan volgens jou behoeftes gekleur word. ‘n Seëlaar versterk die kleur en keer vlekke.

Naatlose vloere[divider] Naatlose vloere

Naatlose sementvloere blyk gewilder as ooit te wees en ding vandag beslis mee met enige ander harde vloerbedekking. Beton kan in ‘n enorme verskeidenheid kleure gekleur of geverf word. Die doeltreffendste manier is om pigmente by die mengsel te voeg, wat beteken die kleur sal nie deur afsplintering of skrape geraak word nie. Daar is ook spesiale vloerverwe wat op bestaande beton gebruik kan word. Die oppervlak moet geseël word om dit teen vog en ander spatsels te beskerm.

Beton-afvlaklae bestaan uit sand, sement en water. Afvlaklae kan met pigment gekleur word – donker kleure werk gewoonlik beter as die ligteres indien jy grys sement gebruik, maar wanneer jy ‘n ligter skakering verkies, moet jy wit sement en wit sand saam met die pigment gebruik (dit werk net baie duurder uit). Afvlakking kos sowat R250/m², afhangend van die kontrakteur.

Cemcrete Colour Hardener is ‘n granoliet waarmee betonvloere versterk en gekleur word. Dit is ‘n spesiale verbinding van sement, sterk aggregaatmateriale, pigmente en chemiese bymiddels wat so hard soos klip en uiters slytbestand word. Dis in 14 kleure te kry. ‘n 20 kg-sak kos sowat R333, en sal 5 m² dek.

Stukadoorspleister is ‘n mengsel van sand, sement, pigmente en bymiddels, wat saam met ‘n emulsievloeistof verskaf word. Daar is 15 kleure in die reeks van Stucco Italiano. Dit kos sowat R300/m² as ‘n kontrakteur dit doen.

Cemcrete floorcrete is ‘n selfnivellerende gekleurde vloerafwerking. Dit word op ‘n gelyk houtgestrykte betonvloer of oor ‘n afvlaklaag aangewend. Dit gee ‘n gladde, duursame vloerafwerking van 2 mm dik. Dit kos sowat R392 per 20 kgsak, wat 5 m² sal dek.

Epoksi is ‘n sintetiese swaardiensdeklaag met ‘n glansafwerking, wat duursaam en bestand teen olie en vetterigheid is. Die hedendaagse enkelvoudige epoksiprodukte het geen katalisators nodig nie en is dus uiters gebruikervriendelik. ‘n Wye reeks kleure is beskikbaar. Dit kos sowat R480 vir 5 liter, waarmee jy omtrent 15 m² kan bedek.

Quartz Carpet is ‘n unieke naatlose vloerstelsel wat bestaan uit ‘n lag ingevoerde natuurlike gletser-aggregaat wat gekleur en daarna intern met helder epoksi en ekstern met poliuretaanhars vermeng word. Dit word met ‘n troffel op die vloerbasis aangewend. Daar is 34 kleure in die reeks beskikbaar en dit kos sowat R600/m².