Dis weer tyd om al wat ’n selfdoener, amateur- en naweek-huisopknapper is nader te roep… Ja, vandeesmaand skop ons volgende Regruk met flair- kompetisie af en ons hoop julle staan soos altyd gereed om die spyker op die kop te slaan met inskrywings van jul fantastiese, vernuftige en inspirerende opknapprojekte! Ons kan nie wag om dit te sien nie, want ons weet nou al dit word elke jaar beter!
As jy dus op dié stadium voel jou huis is te vaal of te klein of uit die oude doos, hoop ons die groot pryse sal jou oorreed om jou gereedskapkis af te stof en daardie probleemvertrek of buite-area onder hande te neem. Tuis is vasbeslote om dié kompetisie elke jaar groter en beter te maak.
Sodra al 10 finaliste gekies is, gaan Tuis almal se projekte in die tydskrif wys, waarna jy die geleentheid gaan kry om vir die top-3 finaliste te stem. Ons kondig hulle in die Augustus-uitgawe aan, met die finale beoordeling tydens ons jaarlikse spoggeleentheid in November.
Die prys Die beoordelaars sal tot 10 finaliste aanwys wat elkeen ’n koopbewys vir R2500 se produkte van Pennypinchers en Timbercity sal ontvang. Daarna word die top-drie finaliste gekies. Die naaswenners gaan elkeen ’n koopbewys ter waarde van R3500 van Pennypinchers en Timbercity kry en die wenner, wat tydens die Regruk met flair-gala aangekondig gaan word, slaan die groot prys van R25000 se koopbewyse los.
Hoe dit werk
• Stuur vir ons ’n voor- en ná-foto (in hoë resolusie) van die ruimte, verkieslik uit dieselfde hoek afgeneem.
• Sluit ’n koste-ontleding in.
• Verskaf jou kontakbesonderhede, selnommer en huisadres waar ons gedurende kantoorure met jou in verbinding kan tree.
• Voltooi die vorm hieronder en skryf elektronies in
• E-pos inskrywings na regruk@tuis.co.za of pos dit na Tuis/Regruk met flair-kompetisie, Posbus 1802, Kaapstad 8000
Onthou Tuis is ’n praktiese, dog inspirerende tydskrif wat bekostigbaarheid op prys stel, en die beoordelaars gaan kyk of jou projek hieraan voldoen. Gaan haal jou gereedskapkis en pak daardie afskeep-area. En wys vir ons wat jy gedoen het!











Nog geen kommentaar.