Hoe om kaas te bedien

Hoe om kaas te bedien
Kombuis:

Hier gee ‘Leon die Melkman’ raad oor kaas

Ingredients and Method

Hier gee ‘Leon die Melkman’ raad oor kaas.
Hoe bedien ek kaas?

Bedien alle kase by kamertemperatuur. Dit verseker dat die delikate – en soms minder delikate ­ – geure na vore kom. Onthou om die kaas uit die yskas te haal minstens een uur voor jy dit bedien. Harde kaas neem langer om kamertemperatuur te bereik.

Kaas lyk baie goed as jy dit op hout, marmer of klip uitstal, omring met vrugte, brood, neute, kraakbeskuitjiers en, natuurlik, wyn. Moenie die kaas voor die tyd sny nie – sit eerder ’n kaasmes daarby en maak die ervaring interessanter.

By ’n groot onthaal met baie gaste sal jy wel die kaas moet sny; sit dan ’n glaskoepel bo-oor om te keer dat dit uitdroog.
Basiese dinge om te onthou wanneer jy kaas bedien

As jy kaas gebruik as ’n voorgereg, vermy soet, ekstra romerige (ideaal vir nagereg), bloukaas (te sterk) of ander swaar gegeurde kase.
Drie tot vyf kase is genoeg.
Kaas ná ete sal tipies begin met ’n vars kaas (bv. chevre) of wit skimmelkaas (camembert), dan ’n halfsagte of mediumkaas (gouda), daarna ’n harder een (cheddar), gevolg deur ’n blou kaas (roquefort).
Kaas word altyd kloksgewys op ’n kaasbord gerangskik, met die eerste een op die twaalfuur-posisie.
Dit is ook ’n goeie idee om die melk-tipes af te wissel, byvoorbeeld bok, skaap en bees.

Wyn, bier en kaas – ’n eenvoudige gids

Tradisioneel word wyn gepaar met kaas uit dieselfde omgewing. Vars en matige kase gaan goed saam met vrugtige droëwyn, rosé en appelwyn.

Rooiwyn, en veral tannienryke rooiwyne, gaan goed saam met romeriger kase; ander kase proe maklik grinterig in jou mond omdat die tannien die proteïen se karakter bederf.

Bloukaas, verouderde cheddar en ander sterkgegeurde kase gaan weer goed saam met soetwyn, port en ook ligte rooiwyn. Bier en cheddar is ’n puik kombinasie.
Vra die kenners

Raadop, want die gesin soek ’n fees wat jy eenvoudig nie kan opdis nie? Soek jy nog inligting oor hoe om die perfekte gereg in 10 minute op te tower? Stuur vir ons jou kosvrae en ons beantwoord dit hier. Stuur jou vrae aan: beatricemn@tuis.co.za.

Verwante artikels
Sê kaas!
Die verskil tussen camembert en brie

Nog geen beoordelings

beoordeel hierdie resep

Wat dink jy van hierdie resep? Laat 'n ster-gradering, skryf' n resensie en druk op stuur.

Jy sal hierdie resep moet gradeer voordat jy jou resensie kan stuur.