Kraakvars groente uit die tuin

Om kraakvars groente uit jou tuin te oes, is iets waaroor die meeste van ons net droom. Maar met ’n bietjie kennis en heelwat sonskyn kan jy dit ook doen!

’n Groentetuin is glad nie so moeilik om aan die gang te kry en aan die lewe te hou nie. Selfs al het jy net ’n klein stukkie grond of ’n binnehof, kan jy groente vir jou en jou gesin kweek. Kom ons kyk hoe jy moet maak…

Begin by die begin
Volgens Jenny Louw, tuinier en skrywer van die boek Earth Artist is dit belangrik om reg te begin as jy sukses in jou groentetuin wil behaal – dit maak nie saak of jy in ’n bedding, ’n balie of ’n blombak groentetuin  maak nie. En “reg begin” beteken:
(1) Besluit hoe groot jy jou groentetuin wil hê, met inagneming van jou ruimte;
(2) Vind uit wat jy wanneer kan plant; en
(3) Berei jou grond baie goed voor.

Hier is haar raad:
• Kies ’n sonnige plek – jou groentetuin moet minstens ses uur se direkte sonlig per dag kry. Dis belangrik om te beplan en met die maklike groentes te begin voor jy die moeilike kalante aanvat.
• Meng jou grond met genoeg kompos. Jenny meng sowat 5 cm se kompos in die boonste 20 cm van die grond as sy ’n nuwe bedding maak. Koop die beste organiese kompos wat jy kan kry of vra ander suksesvolle tuiniers wat hulle gebruik.
• As jy jou groente in ’n houer plant, gooi eers genoeg klippe onderin vir dreinering. Gebruik dan 40% organiese kompos en 60% potplantgrond vir ’n goeie grondmengsel. Jy kan vermikuliet byvoeg om die vogtigheid in die grond te help behou, asook mikro-organismes, wat ’n belangrike element van gesonde grond is. (Jenny gee in haar boek nog baie raad oor die voorbereiding van die grond.)
• Saai nou jou saad of plant jou saailinge. Gooi ’n goeie deklaag om jou saailinge of om jou saad sodra dit opkom. ’n Dek- laag hou die grond koel en help om vrugbaarheid te behou. Strooi is ’n goeie deklaag; of maak jou eie van tuin- en ander afvalmateriaal soos droë gras, karton, blare en/of houtsnysels.
• Volgens Jenny is dit nie nodig om ’n gereelde voedingsprogram in die groentetuin te volg nie en voed sy haar groente net as sy sien dit is nodig. Al voed jy jou groente met organiese voedingstowwe, moet jy dit nie meer gereeld en in groter dosisse toedien aswat die houer voorskryf nie. En indien ’n probleem opduik wat jy nie kan oplos nie, neem van die blare of groente na jou kwekery vir (organiese) raad.
• Hou die grond klam – dit moet nooit uitdroog nie, maar jou groente moet ook nie te veel water kry nie. Behalwe dat jy jou groente gaan “verdrink”, maak te veel water die mikro-organismes in die grond dood.
• Kyk uit vir enige peste en plae en gebruik Jenny se tuisgemaakte spuitmiddel indien nodig. En sorg dat onkruid nie die oorhand kry nie.

Jenny se tuisgemaakte spuitstof
Druk 3 knoffelbolle fyn. Neem sowat 10 rissies (gebruik die skerpste rissies wat jy kan kry) en maak dit fyn. Meng die knoffel en die rissies met 2 liter water en laat staan dit vir twee weke in ’n glashouer. Gooi die mengsel in ’n spuitkannetjie en spuit dit op en om jou groente. Geen gogga sal dit gou weer naby waag nie! Jenny strooi ook rissiepoeier tussen haar saailinge om hulle teen slakke en ander goggas te beskerm. Jenny se tuisgemaakte spuitstof