Faraway Cottage

Die skilderagtige dorpie Greyton vorm die perfekte agtergrond vir dié afgetrede paartjie se bekoorlike Faraway Cottage.

Peta en Ian Levin se kothuis staan reg in die middel van die bekoorlike Greyton in die Overberg – ’n baken vir inwoners sowel as toeriste. Trouens, besoekers aan die dorp sien die karaktervolle huis gereeld vir ’n gastehuis aan, sodat ’n geamuseerde Peta al menige “klant” op die stoep en selfs in die huis aangetref het waar hulle dié lieflik gerestoureerde huis bewonder. Vriende het al grappenderwys voorgestel dat sy prysetikette op haar meubels plak om te kyk of dit verkoop! Daar word vermoed dat dié tipies Victoriaanse huis vroeër jare verblyf aan koetspassasiers verskaf het, en die Levins het seker gemaak dat hul opknapwerk nie die integriteit van dié erfenis skaad nie. Hul visie was om ’n gerieflike tuiste vir hul goue jare te skep. Peta, ’n radiografis en Ian, ’n radioloog, het die huis in 2008 gekoop en begin opknap terwyl hulle nog in Constantia, naby Kaapstad, gewoon het. Twee jaar later kon hulle intrek en sedertdien het hul liefdesverhouding met hul nuwe huis net aanhou groei – iets wat ’n mens sommer dadelik besef as jy sien hoe hul tuin nou floreer. Petra bieg dat dit juis die pragtige ou hek was wat haar hart van die begin af gesteel het. Altwee is lief vir dekorelemente in die kothuisstyl; hul gesellige huis getuig van ’n leeftyd van wonderlike ervarings, en hul versameling kosbare kleinode skep ’n besielende ruimte waar die hede en verlede in perfekte harmonie verkeer. Peta reis graag na Frankryk en Brittanje, waar sy keer op keer nuwe vondste vir haar huis op die plaaslike markte uitsnuffel.

Die kringloop van die lewe
Die egpaar het hoofsaaklik praktiese veranderings aangebring, byvoorbeeld om  meer plek te maak vir nutsgoed soos ’n wasmasjien en ’n droër, asook ’n stoorkamer. Die meeste van die materiaal kom uit gesloopte huise of is herbenut. So ondersteun bloekompale uit die huis se oorspronklike pergola nou rankplante by die swembad, terwyl die fontein met die leeukop van elders op die eiendom na sy nuwe fokuspunt geskuif is. Al die binnedeure is hergebruik nadat mure uitgebreek is om die ruimte beter te benut; die oorspronklike voordeur is na hul badkamer in die solder geskuif toe hulle ’n nuwe voordeur geïnstalleer het. Daar was ’n ou skuifslot aan die voordeur wat, volgens die kurator by die dorpsmuseum op Genadendal, heel moontlik deur die sendelinge op dié geskiedkundige buurdorp gemaak is, aangesien die museum daar net so ’n slot het. Om die tradisionele voorkoms tydens aanbouings te behou, het Peta ou vloerplanke van Oregondennehout uit ’n gesloopte Karoo-huis bekom, met die groot voordeel dat herwinde hout uit die Karoo lekker droog is!

Ian, ’n ywerige hengelaar, het dié reënboogforel in die Drakens berg uitgetrek.

Die kombuis is na die oorspronklike badkamer uitgebrei; waar die opwashoekie nou is, het voorheen ’n bad gestaan.

’n Ontwerp wat Peta in ’n Franse boek gesien het, was die inspirasie vir dié kaggel; sy het ’n smeulstoof in die nis wat vroeër jare ’n oop kaggel was, laat inbou vir warmte tydens Greyton se strawwe winters.

Dié massiewe tafel was voorheen die Levins se eetkamertafel in Constantia; nou vorm dit die middelpunt van hul ingang as werk- én uitstalplek.

Die kombuis is huislik en gesellig danksy al die warm teksture, terwyl ’n klein laboratoriumwasbak die eiland mooi en funksioneel afrond.

Al die slaapkamers bied ’n lieflike uitsig op die tuin.

Die gastekamer is nuut aangebou; sy en suitebadkamer was voorheen die huis se oorspronklike slaapkamer.

Die oorspronklike voordeur.

Die hoofslaapkamer in die solder is ruim, rustig en gerieflik met hope pakplek.

Met so ’n groot badkamer is daar baie plek vir pamperlang.

Peta se dekorwenke

• Gee jouself genoeg tyd.
• Kry visuele inspirasie; laat die kreatiewe proses dan sy gang gaan en jou lei.
• Moenie bang wees om te eksperimenteer nie – kom uit jou gemaksone!