Die Rosestad se doring!

’n Tuin vol rose – dis hoe Ernest en Elna Rood hul Bloemfonteinse roostuin beskryf. En nader aan die waarheid kan jy beswaarlik kom!

[divider]

Met sowat 1 200 roosbome op hul werf, het die Roods geen tekort aan blomme nie. Van September tot soms selfs in Mei maak dié rose ’n ongelooflike vertoning. Geen wonder hul tuin het verlede jaar by die Bloemfonteinse roosfees met ’n eerste plek weggeloop nie. “Die eerste eienaars van die huis, Johan en Ella Pienaar, was baie ywerige tuiniers. Ná hulle die huis verkoop het, het dit ’n paar keer van eienaar verwissel totdat ons dit in 1977 as jonggetroudes gekoop het. Aanvanklik het ons net die gras gesny en die tuin, wat intussen baie agteruitgegaan het, natgegooi. Ons was verbaas om te sien hoe die tuin net daarvan begin floreer het. Van die ou rose het begin blom en dit was pragtig. Sommige van die roosbome wat Ella geplant het, is steeds in die tuin en dra lieflike blomme. Só het ons liefde vir die tuin begin en het ons geleidelik meer en meer rose begin plant,” vertel Elna.

Met raad uit boeke en van tuinkenners het hulle meer van tuinmaak geleer. Mettertyd, vertel Ernest, het hulle hul eie koppe begin volg en baie van hul roosbome tussen ander plante begin plant. Hulle wou nie ’n formele roostuin hê nie, eerder een wat altyd kleurvol is, daarom die mengelmoes van ander plante en rose. Hul harde werk het vrugte afgewerp en in 2011 is die tuin by die Bloemfonteinse roosfees as die wenner in die afdeling vir middelgroot tuine aangewys.

Maar dit was nie die eerste keer dat hul tuin met die louere weggeloop het nie. “Ons dogter, Elana, het altyd gesê dat die tuin ekstra mooi moet wees as sy die dag trou, want sy wil haar troufoto’s daar laat neem. Sy is op 28 Oktober 2006 getroud en daardie jaar het ons tuin die eerste prys vir die mooiste roostuin, sowel as die algehele eerste prys, gewen,” vertel Ernest trots. Hoewel hulle albei van tuinmaak hou, doen Ernest hoofsaaklik die beplanning van die tuin en is hy die groot tuinier. “Weens werksverpligtinge kan ons ongelukkig nie soveel tyd in die tuin deurbring as wat ons graag sou wou nie en is ons vorige tuinman, Petrus, wat weens siekte moes aftree (hy sit wel steeds ’n handjie by) en ons huidige regterhand, Charles, vir ons goud werd. Ons geniet ons tuin baie en sit graag buite of eet op die groot stoep wat op die tuin uitkyk. Die baie verskillende plante lok heelwat voëls en dit dra alles by tot die atmosfeer in ons tuin,” gesels Ernest.

Die Roods maak sover moontlik organies tuin. Hulle gee hul rose baie water en sny gereeld die dooie roosknoppe uit. Wanneer dit nodig is, spuit hulle met Ludwig’s Insect Spray. En nadat hulle die rose einde Julie en begin Augustus gesnoei het, word organiese kompos en ’n korrelmisstof om die rose gestrooi; dit word ongeveer elke agt weke tot einde Maart herhaal. ’n Spesiale deel van die tuin staan bekend as “Mea se tuin”, waar sowat 120 roosbome in skakerings van pienk groei. “Ons dogter, Mea, is op 18-jarige ouderdom oorlede. Omdat sy baie lief was vir pienk rose, het vriende vir ons roosbome met pienk rose present gegee om ter nagedagtenis aan haar te plant. Só het die idee vir ’n herinneringstuin ontstaan, en met die hulp van die rooskenner Anneline Schoeman is Mea se tuin uitgelê.”

Ernest en Elna se gunstelinge
• Ernest se gunstelingroos is die pienk Duet en die geel- en- oranje Playboy. Elna hou weer van die karmynrooi Peter Frankenfeld.
• Staatmakers in hul tuin is die edel- of hibried-teeroos Duet, die rankroos Cocktail en die miniatuurroos Ocarina. Ocarina vorm ’n baie mooi rand in ’n bedding.
• Ernest se gunsteling-tuintaak is om die lentetuin te beplan. Elna verkies weer om blomme vir die huis te pluk.
• Ernest se gunstelingseisoen is die lente, want dan word alles nuut en begin weer lewe. Elna verkies die somer, omdat dit so lekker is om buite te leef en te eet – veral met Bloemfontein se wonderlike someraande.
• Hul ander gunstelingtuin is die groentetuin van ’n bejaarde inwoner op die eiland Skiathos in Griekeland. “Hoewel sy moeilik beweeg en buk, doen sy al haar tuinwerk self – gewoonlik laat in die middae as dit nie meer so warm is nie. Almal wat verbyloop, stop om haar pragtige en netjiese groentetuin te bewonder. Elke keer as ons daar kom, wonder ons of ons haar die volgende jaar weer daar gaan sien,” vertel Ernest.

bloem