Sjokolade-en-neutstafies

Tuisgemaakte nougat is 9 uit 10 keer ’n taai gemors, gewoonlik óf te sag, óf te hard. Dié slim idee om malvalekkers vir ’n soortgelyke effek te gebruik, het ons raakgesien op die blog howsweeteats.com, en dit is verslawend lekker.

Sjokolade-en-neutstafies-nuusbrief

Genoeg vir sowat 14 stafies
Bereidingstyd: 40 minute
Gaarmaaktyd: 25 minute
Oondtemperatuur: 180 °C
Sjokoladebrosbrood

• 160 g sagte botter
• 25 ml ingedampte melk
• 125 g strooisuiker
• 350 ml meel, gesif
• 25 ml kakao

Vulsel

• 125 g botter
• 250 ml strooisuiker
• 100 ml ingedampte melk
• 250 ml groot grondboontjies, grofgekap
• 12 wit malvalekkers, kleiner geknip

Bolaag

• 200 g donkersjokolade

1. Bak die brosbrood Voorverhit die oond. Klits die botter, ingedampte melk en strooisuiker saam tot lig en donsig. Sif die meel en kakao by en klits tot net gemeng. Druk onderin ’n langwerpige losboom-tertpan (13 x 35 cm) en prik met ’n vurk. Bak vir sowat 25 minute of tot net gaar. Laat in die pan op ’n draadrak afkoel.

2. Kook die vulsel Smelt die botter en voeg die suiker en ingedampte melk by. Roer oor lae hitte tot kookpunt en kook vir sowat 5 minute. Wees versigtig; dit brand maklik – roer aanhoudend. Verwyder van die hitte en roer die neute en malvalekkers by tot gesmelt. Giet oor die brosbrood en laat afkoel.

3. Vir die bolaag Smelt die donkersjokolade en drup oor die vulsel in die pan. Wag tot dit stol, keer die tert uit en sny in stafies. Bêre in ’n lugdigte houer.