Minestrone en kaasstrooitjies

Sit voor met pesto-kaasstrooitjies en ’n lepel basiliepesto deurgeroer.

Minstrone-en-kaasstrooitjies-nuusbrief

Genoeg vir 6
Bereidingstyd: 15 minute
Gaarmaaktyd: 1 uur

• 15 ml olyfolie
• 250 g gerookte spekstukkies
• 1 ui, fyngekap
• 4 vet preie, gekap
• 3 stingels seldery, gekap
• 2 groot wortels, baie fyn gekap
• 1 blik gekapte tamaties of kersietamaties
• 1 blik cannellini-boontjies
• 1 blik borlotti-boontjies
• 1 blik keker-ertjies
• sowat 1,2 liter hoenderaftreksel

Braai die spek tot gaar in die olie. Skep uit en braai die groente tot glansend; hoe langer dit braai, hoe geuriger die sop. Voeg die spek weer by en voeg die res van die bestanddele ook by (verwerk een van die blikke bone tot ’n puree om die sop te verdik). Laat vir minstens 45 minute prut. Geur met sout en peper en sit voor met pesto-kaasstrooitjies en ’n lepel basiliepesto deurgeroer.

Pesto-kaasstrooitjies-nuusbrief

Pesto-kaasstrooitjies Smeer sowat 150 g blaardeeg dik met sowat 30 ml basiliepesto en sprinkel met 15 ml gerasperde parmesaan. Sny in 2 cm stroke en draai elkeen om ’n lang spiraal te vorm. Pak op bakpapier op ’n bakplaat en bak teen 200 °C vir sowat 20 minute of tot goudbruin en geurig. Sit saam met die sop voor.