Maklike hoenderpastei

Maklike-hoenderpastei-nuusbrief

Genoeg vir: 8 porsies
Bereidingstyd: 20–30 minute
Oondtemperatuur: 200 °C
Baktyd: 30 minute vir klein pasteitjies en 1 uur vir ’n groot pastei

• 1 gaar hoender
• 45 ml botter
• 3–4 preie, in skyfies gesny
• 400 g gemengde sampioene, in skyfies gesny
• ’n halwe hand vol vars salie
• 250 ml suurroom
• sout en swartpeper na smaak
• 400 g klaarbereide skilferkorsdeeg (ontdooi)

1. Verwyder die vel en bene van die hoender en vlok die vleis in kleiner stukkies. Hou dit eenkant in ’n mengbak.

2. Verhit die botter in ’n kastrol en soteer die preie tot sag. Voeg die sampioene by en braai die sampioene totdat hulle droog is en al die vog verdamp het. Voeg die groente by die hoender in die mengbak. Geur na smaak met sout en swartpeper.

3. Roer die salie en suurroom by die hoendermengsel. Skep dan die mengsel in klein individuele oondbakkies of een groot pasteibak. Laat dit heeltemal afkoel.

4. Verf die bakkies se rande met koue water. Sny die deeg effens groter as die rande en bedek die vulsel daarmee; druk die deeg op die rande vas. Verf die deeg met geklopte eiergeel en plaas dan die pasteitjies in die yskas vir ’n halfuur voor dit gebak word. Voorverhit die oond.

5. Bak die pasteitjies vir sowat 30 minute of tot gaar, goudbruin en uitgerys.

Wynvoorstel ’n Chardonnay sal vorentoe smaak saam met dié romerige trooskos.

KOS-footers-2