Maklike Benedict-eiers

[divider]

Bederf spesiale gaste of jou gesin met dié sonskyn-ontbytgereg.

 

Genoeg vir:4

Bereidingstyd: 30 minute

Gaarmaaktyd: 2-3 minute (vir die eiers)

 

4 Engelse muffins of sagte broodrolletjies, gehalveer
4 snytjies gerookte ham
15 ml witwynasyn
4 ekstragroot eiers

HOLLANDAISESOUS
40 ml witwynasyn
1 lourierblaar
3 swartpeperkorrels
2 eiergele
100-125 g ongesoute botter, in blokkies gesny
sout en witpeper

Eiers stap 11 Maak die hollandaisesous: Verhit die witwynasyn, lourierblaar en swartpeperkorrels in die mikrogolf. Laat dit ‘n rukkie staan om die asyn te geur en giet dit dan deur ‘n sif.[divider]

Eiers stap 22 Gooi die louwarm asyn by die eiergele in ‘n mengbak terwyl jy dit aanhoudend klop oor stadig pruttende water in ‘n kastrol. Maak seker die water raak nie aan die mengbak nie.[divider]

Eiers stap 33 Klop die botterblokkies een-een by die eiersous – hou aan klop totdat elke blokkie smelt voordat jy nog een bygooi.[divider]

Eiers stap 44 Sodra die helfte bygevoeg is, kan die res vinniger bygeklop word. Geur die sous met sout en witpeper. Rooster solank die Engelse muffins of broodrolletjies, smeer dit met botter en hou dit eenkant warm.[divider]

Eiers stap 55 Posjeer die eiers in ‘n posjeerpan met water waarby asyn gevoeg is. Doen die volgende (soos op die foto) as jy nie ‘n posjeerpan het nie: Gebruik ‘n kastrol en laat die water saggies kook (“soft rolling boil”), breek ‘n eier in ‘n glasbakkie of piering en glip dit in die water deur die bakkie of piering so na moontlik aan die water te hou. Gebruik ‘n lepel om die eierwit van die begin af by die eiergeel te hou.[divider]

Eiers stap 66 Laat die eiers vir 2-3 minute prut en skep uit.[divider]

7 Om voor te sit: Sit ‘n snytjie ham op elke muffin, skep ‘n eier bo-op en bedek dit met warm hollandaisesous. Sit dadelik voor.