Heerlike vingerhappies

Trakteer jou vriende op smullekker, veelsydige Suid-Afrikaanse varkvleis – dié happies is perfek vir ’n skemerkelkie of as peuselkos langs die braaivleisvuur.

Happies-nuusbrief

Varkworsrolletjies

• 1 rol (400 g) goeie blaardeeg
• 8 skyfies (sowat 125 g) dun ham
• 30 ml korrelmosterd
• 6 vars varkworsies, vel verwyder
1⁄2 klein wit ui, fyngekap
• 4 gemarineerde songedroogde tamaties, gekap
• 15 ml platblaarpietersielie, fyngekap
• 1 eier, geklits
• 10 ml sesamsaad

1. Rol die deeg oop op ’n skoon werkoppervlak en sny dit in twee ewe groot lengtes. Pak nou 4 velletjies ham oor die lengte op elke deegstrook en smeer 15 ml mosterd oor elke strook. Voeg al die worsvleis saam en rol dit in twee lang worse. Meng die ui, tamaties en kruie en rol die vleis daarin.

2. Plaas ’n worslengte op elke voorbereide deegstrook. Rol nou versigtig die deeg oor die vleis om twee lang worsrolle te vorm. Sny elke lengte in vier gelyke dele (sny tussen die velletjies ham) en maak drie insnydings oor elkeen. Pak die rolletjies op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is en verf met die eier. Sprinkel die sesamsaad oor en bak in ’n voorverhitte oond teen 200ºC vir sowat 35 minute of tot goudbruin en gaar.

Baba-aartappels met crème fraîche en salami
Kook of bak baba-aartappeltjies tot gaar. Sny ’n kruisie bo in elke aartappel en druk sodat dit effens oopbreek. Skep ’n lepel crème fraîche of roomkaas op elkeen en draai ’n kwartskyfie salami soos ’n rosie boop. Sprinkel met grasuie, en siedaar!

Spanspek-en-ham
Spanspek en Parmaham is ’n klassieke kombinasie, maar Swartwoudham, wat ’n bietjie goedkoper is, werk net so goed. Rol ’n reep van die rokerige ham om ’n happie spanspek of ’n skyfie nektarien en steek dit vas met ’n basilieblaartjie vir die mooi. Meesterlik!

KOS-footers-2