Heerlike hamterrien

Geborg deur SA Pork

Sit hierdie feestelike hamterrien as voorgereg koud voor met dun snye roosterbrood, piekels, blatjang en ’n lekker salsa.

Genoeg vir 3 broodpannetjies van 14 x 7 cm
Bereidingstyd: 25 minute
Gaarmaaktyd: 90 minute

• 750 g varkmaalvleis
• 250 g vars varkworsies, vel verwyder
• 100 g spekrepe, gekap
• 1 Granny Smith-appel, gerasper
• 5 ml heel groenpeperkorrels
• sowat 10 ml seesoutvlokkies
• 3 takkies tiemie, blaartjies gestroop
• 60 ml platblaarpietersielie, gekap
• 30 ml korrelmosterd
• ’n knippie neutmuskaat
• 1 eierwit
• 250 g vierkantige skyfies ham
• 3 dun 14 cm-kaasworsies, vel verwyder
• 2 preie, wit gedeeltes gekap en gebraai
• 15 ml geroosterde dennepitte

So maak jy:

1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Meng die maalvleis, varkworsievleis, spek, appel, peper, sout, tiemie, pietersielie, mosterd, neut en eierwit in ’n mengbak.

2. Smeer die pannetjies en voer dit uit met die ham. Laat van die ham oor die pannetjies se rande hang sodat jy dit later oor die vulsel kan vou. Skep die pannetjies halfvol met die maalvleismengsel; druk dit styf vas.

3. Sit 1 of 2 snytjies ham (so lank soos die pannetjies) plat neer en skep ’n lepel preie en ’n paar dennepitte daarop, gevolg deur ’n kaasworsie. Rol die worsie styf in die ham op en sit dit in middel van een van die terriens. Herhaal met die ander.

4. Skep die res van die maalvleismengsel bo-op die worsies in die drie pannetjies sodat hulle effens boepens staan – die vleis krimp wanneer dit gaar word. Vou die oorhangende ham bo-oor en bedek styf met foelie.

5. Sit die terriens in ’n oondbak en vul die bak met warm water tot halfpad teen die pannetjies op. Bak vir 1 1/2 uur. Haal uit die oond, dreineer die water en sit ’n gewig (soos ’n kapplank met blikkieskos) bo-op die terrien om dit te kompakteer. Laat staan so tot afgekoel. Haal die foelie af en keer die terrien versigtig uit – daar kan dalk vloeistof in die pannetjie wees, so pasop vir mors.

Lus vir iets anders?

Varkpasteitjies met salie

Varkpasteitjies met salie

 

KOS-footers-2