Bevrore tiramisu

As jy nie kans sien om die mascarponeroomys te maak nie, kan jy net vanieljeroomys van goeie gehalte gebruik.

Bevrore-tiramisu-nuusbrief

Genoeg vir: 4
Bereidingstyd: 40 minute, plus vriestyd

  • 180 ml (150 g) strooisuiker
  • 150 ml water
  • 250 g mascarponekaas
  • 250 g roomkaas
  • 400 ml vanieljeroomys
  • 10 ml kitskoffie (opgelos in 30 ml kookwater)
  • 30 ml koffielikeur
  • 80 g vingerbeskuitjies
  • kakao en sjokoladekrulle (vir versiering)

1. Maak die mascarponeroomys: Gooi 135 ml (115 g) van die strooisuiker en water in ’n kastrolletjie en verhit dit oor matige hitte. Roer tot al die suiker opgelos het en verhit dan tot kookpunt. Haal die stroop van die plaat af om af te koel en sit dit dan in die yskas om yskoud te word.

2. Klop die mascarpone- en roomkaas in ’n mengbak tot glad. Gooi die koue suikerstroop geleidelik by. Bedek en sit dit in die vrieskas. Roer ná 2 uur deur en meng dit met die vanieljeroomys. Sit dit dan terug in die vrieskas om hard te word.

3. Meng die koffie-oplossing met die orige strooisuiker en gooi die likeur by.

4. Skep ’n derde van die mascarponeroomys in ’n geskikte bak of vorm waarin jy die tiramisu gaan vries (dit moet minstens 1 liter kan hou). Doop die helfte van die beskuitjies in die koffiemengsel en pak dit bo-op die roomys, gevolg deur nog ’n derde van die roomys. Doop die laaste helfte beskuitjies in die koffiemengsel, pak dit ook netjies bo-op, en eindig met die laaste derde roomys. Bedek en sit dit in die vrieskas om te vries.

5. Keer die tiramisu uit op ’n opdienbord of skep porsies daarvan in mooi glase. Sif kakao oor en versier dit met sjokoladekrulle.

Lus vir iets anders?

Pekanneut-blondie-en-karamelkaaskoek

Pekanneut-blondie-en-karamelkaaskoek

 

KOS-footers-2