Beeskortrib

Dié veelsydige braaisous kan ook met varkribbetjies of ’n plathoender oor die kole gebruik word.

Beeskortrib-nuusbrief

Genoeg vir 6
Bereidingstyd: 20 minute, plus marineertyd oornag
Gaarmaaktyd: 3½ uur
Oondtemperatuur: 180 °C

• 1 groot ui, fyngekap
• 1 heel knoffelhuisie
• 15 ml olie
• 30 ml tamatiepasta
• 125 ml appelkooskonfyt
• 30 ml worcestersous
• 30 ml sojasous
• 30 ml Dijon-mosterd
• 60 ml appelasyn
• 2 gedroogde rissies, gekap
• sowat 1,6 kg individuele bees-kortribbetjies (vra die slagter om elke rib in die helfte deur te saag sodat jy kort, vet stukke het)

1. Braai die ui en knoffel in die olie tot glansend. Verwyder die knoffel en gooi weg. Voeg die tamatiepasta by en braai vir nog 3 minute. Voeg die res van die bestanddele (behalwe die ribbe) by en verhit tot kookpunt. Verwyder van die hitte en geur na smaak met sout en peper. Laat heeltemal afkoel. Meng die braaisous met die ribbetjie in ’n groot Ziploc-sakkie en sit oornag in die yskas.

2. Voorverhit die oond. Sit die ribbe saam met die marinade in ’n oondroosterpan en voeg sowat 200 ml water by. Bedek met foelie en bak in die oond vir sowat 2–3 uur of tot sag. Bedruip af en toe met die marinade.

3. Verhit die roosterelement en rooster die ribbe oop tot klewerig. Bedruip gereeld. Sit voor met oondgebakte aartappelskyfies.