Genoeg vir: 2 ruim porsies
Bereidingstyd: 20 minute
• 1 klein ui, fyngekap
• 45ml witwyn- of dragonasyn
• 5 swartpeperkorrels
• 4-5 takkies dragon
• 2 eiergele
• 5ml Dijonmosterd
• 150g sagte botter

1 Plaas die ui, asyn, peperkorrels en dragon in ’n klein kastrol. Verhit tot kookpunt en laat prut dit totdat die vloeistof tot sowat 20ml verminder het.

2 Plaas die eiergele en mosterd in ’n glasbak wat bo-op ’n ander kastrol pas. Giet kookwater sowat 2 cm diep in die kastrol en maak seker die glasbak raak nie aan die water nie. Klits aanhoudend oor die pruttende water totdat die eiermengsel verdik. Voeg die asyn by die eiergele (hou die ui, swartpeperkorrels en dragon terug met ’n houtlepel of met die deksel) en klits weer tot dik.
3 Voeg nou die botter blokkie vir blokkie by terwyl jy aanhoudend klits. Die sous sal verdik en fluweelagtig van tekstuur raak. Wees versigtig om dit nie te oorverhit nie, omdat die sous kan skif. Hou die temperatuur van die water op ’n stadige prut. Geur die sous met ’n bietjie sout. Hou die sous warm oor die warm water (jy kan die plaat nou heeltemal afdraai) terwyl jy die vleis rooster.

WENK Indien die sous geskif het, kan jy dit probeer red deur ’n eetlepel kookwater daarby te roer. Verwyder die glasbak van die hitte en dompel dit in ’n wasbak met koue water voordat jy die kookwater byklits. Hou aan met klits solank as wat jy kan. Of begin oor met 2 nuwe eiergele en klits die geskifte sous bietjie vir bietjie oor lae hitte by.













Kook en wen R200 000!

Nog geen kommentaar.