3 planne met deeg

Hou jou lyf bobaasbakker met dié drie heerlike resepte.

Pekanneutpasteitjies

Appel-brie-en-pekanneutpasteitjies

• 500 g bevrore botter-blaardeeg, ontvries
• 1 groen appel
• 15 ml suurlemoensap
• 30 ml Huletts Castor Sugar
• geklitste eier
• 125 g brie of camembert
• 125 ml gekapte pekanneute

1. Rol die deeg versigtig oop en sny dit in 8 ewe groot vierkante. Ontkern die appel en sny dit in papierdun skyfies; sprinkel die suurlemoensap en suiker oor.

2. Verf die rande van die deegvierkante met eier; verdeel die appel, kaas en neute en skep dit in die middel van die vierkante. Vou toe in ’n driehoek en knyp die punte vas om dit te verseël.

3. Pak die pasteitjies op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is, verf met nog eier en sprinkel ’n bietjie ekstra suiker bo-op. Jy kan ook ekstra neute oorsprinkel. Bak in ’n voorverhitte oond teen 200 °C vir 15 minute; draai dan die hitte af tot 180 °C en bak vir nog 10 minute of tot goudbruin. Sit dié kaserige bederfies warm voor.

Vrugtetert

Vryvorm-vrugtetert

• 100 g (180 ml) koekmeelblom
• 2 sakkies Huletts EquiSweet
• 30 ml droë klapper
• knippie sout
• 62,5 g botter
• 1 eiergeel
• 2 klein piesangs, geskil en in skywe gesny
• 200 ml appelliefies, gehalveer

1. Meng die meel, versoeter, klapper en sout. Vryf die botter met jou vingerpunte daarby in tot die mengsel soos growwe broodkrummels lyk. Voeg die eiergeel by en knie tot ’n gladde deeg.

2. Rol die deeg op ’n vel bakpapier uit in ’n groot reghoek. Pak die vrugte bo-op, maar los ’n deegrand van sowat 3 cm rondom die vulsel. Jy kan gerasperde suurlemoenskil en versoeter oorsprinkel as die vulsel te suur is. Vou nou die deegrand versigtig oor die vulsel (sien foto). Sit die tert op ’n bakplaat en bak in ’n voorverhitte oond vir 25–30 minute teen 180 °C tot goudbruin en bros. Sit voor met Griekse jogurt, vars ment en klapperskaafsels.

Konfyttert

Rissietamatie-konfyt-tert

• 500 ml (280 g) koekmeelblom
• 125 ml (65 g) Huletts Icing Sugar
• knippie sout
• 200 g botter
• 1 eiergeel
• 30–45 ml rissietamatiekonfyt
• vars basilie as garnering

1. Meng die meel, versiersuiker en sout en vryf die botter met jou vingerpunte daarby in tot die mengsel soos fyn broodkrummels lyk. Voeg die eiergeel by en knie tot ’n gladde deeg vorm. Verdeel die deeg in twee ewe groot dele, vorm in plat sirkels en draai toe in kleefplastiek. Verkoel vir 30 minute.

2. Haal die deeg uit die yskas en rol dit uit in twee ewe groot sirkels. Smeer die konfyt op een en sit die ander deegsirkel bo-op. Sny die sirkel in skywe (deur albei lae), maar moenie tot in die middel sny nie (sien skets). Draai elke skyf dan twee keer na regs terwyl jy die middeldeel vasdruk met jou vinger. Druk die rande weer vas. Bak in ’n voorverhitte oond teen 180 °C vir sowat 20 minute of tot goudbruin. Sit voor met ’n strooisel basilieblare.

KOS-footers-2