3 planne met beslag

Dié maklike beslag vorm die basis van ons drie stroperige resepte.

BASIESE BESLAG

• 175 ml karringmelk
• 30 ml olie
• 2 ekstragroot eiers, geskei
• 100 g (180 ml) bruismeel
• 30 ml Huletts Castor Sugar
• knippie sout

Klits die karringmelk, olie en eiergele saam. Sif die meel. Klits die eierwitte en strooisuiker saam tot dit stywe punte vorm. Vou die meel en eierwit by die karringmelkmengsel in en laat rus vir 20 minute.

Plaatkoekies

Plaatkoekies met gekaramelliseerde spek

• 8 repies spek
• 30 ml Huletts Maple Flavoured Syrup, plus ekstra vir voorsit
• 15 ml olyfolie
• 1 hoeveelheid basiese beslag
• oondgeroosterde kersietamaties
• vars basilie of origanum

1. Braai die spek in ’n kleefvrye pan tot amper bros; moenie enige ekstra olie gebruik nie. Sprinkel die stroop oor en braai tot gekaramelliseer – pasop dat dit nie brand nie. Hou eenkant.

2. Gooi ’n bietjie olyfolie in die pan, skep drie groot lepels vol beslag in die pan en sit ’n repie spek op elkeen. Braai liggies tot die oppervlak begin borrel; draai om en braai die ander kant tot gaar. Sit voor met die spekkant na bo en ekstra Maple Flavoured Syrup, oondgeroosterde kersietamaties en vars basilie of origanum.

Ontbytmuffins

Ontbytmuffins

• 1 hoeveelheid basiese beslag
• 125 ml gemengde droëvrugte, neute en klapperskaafsels
• 1 klein piesang, geskil en in skywe gesny

VERSIERSEL

• 125 ml mediumvet-roomkaas
• 100 ml Huletts Icing Sugar, gesif
• 5 ml vars suurlemoensap

1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer 8 holtes van ’n muffinpan en verdeel die beslag tussen die holtes. Sprinkel die droëvrugte, neute, klapper en piesang bo-oor en bak vir 20 minute tot goudbruin en ’n toetspen skoon uitkom.

2. Klop die roomkaas, versiersuiker en suurlemoensap tot net gemeng. Sit die muffins voor met die versiersel of Huletts Chocolate Syrup, vars bessies en ’n sifsel versiersuiker.

Wafels

Sjokoladebrokkie-wafels

• 1 hoeveelheid basiese beslag
• 250 ml sjokoladebrokkies
• Huletts Maple Flavoured Syrup of Chocolate Syrup
• vars ment en klapperskaafsels

Voorverhit ’n elektriese wafelpan en spuit dit met kleefwerende kossproei. Skep ’n lepel vol beslag op die plaat en sprinkel die sjokoladebrokkies oor. Maak toe en bak tot goudbruin. Herhaal met die res van die beslag en sjokoladebrokkies. Sit die stapel wafels warm voor met ’n ruim hoeveelheid Maple Flavoured Syrup of Chocolate Syrup, enige oorskiet-sjokolade en die ment en klapperskaafsels.

Njam! Met ’n skep roomys of twee is dié stroperige genot ’n heerlike nagereg.

KOS-footers-2