So maak jy ’n swierige werkstasie

DIY, table, bench,annie sloan, shutterply

Dié tafel en bypassende bankie staan minder as ’n vierkante meter vol.

PROJEKGIDS
Harde werk 4/10
Vaardigheidsvlak 4/10
Tyd nodig 2–4 uur (verftyd uitgesluit)
Maak dit vir onder R600 (hout en skroewe; verf uitgesluit)

Projeknotas

• Onthou om gidsgate te boor.
• Laat saag al die stukke hout pasklaar by jou naaste houthandelaar – dit sal jou taak aansienlik vergemaklik.
• Ons het ons bankie se sitplek en die tafelblad met Annie Sloan-verf in die kleur Old White geverf en die pote in Giverny.

Wat jy nodig het

GEREEDSKAP
• koordlose boor en 3mm-boorpunt
• potlood
• maatband
• figuursaag
• klamp
• skuurmasjien
• kwas

INKOPIELYS
• een blad 18mm-laaghout, soos volg gesaag:
vyf 530 x 70mm (tafelraam en -stutte)
twee 1080 x 70mm (tafelraam)
vier 750 x 200mm (tafelpote)
vier 750 x 180mm (tafelpote)
een 1200 x 650mm (tafelblad)
vyf 200 x 100mm (bankieraam en -stutte)
twee 910 x 100mm (bankieraam)
vier 430 x 100mm (bankiepote)
vier 430 x 80mm (bankiepote)
een 970 x 300mm (bankie-sitplek)
• een pakkie 6mm x 40mmspaanderbordskroewe
• stuk hardebord
• houtvuller
• 150-grint-skuurpapier
• vernis of verf

So maak jy die tafel…

1. Skroef twee van die 530 x 70mm-planke tussen die ente van die 1080 x 70mm-planke vas om die raam te vorm. Plaas twee van die oorblywende drie 530mm-planke in die hoeke en een in die middel van die raam en skroef vas. Jy gaan later die blad aan dié stutte vassit.

2. Teken ’n patroon vir jou pote op hardebord en trek dit op die 750 x 200mm- en die 750 x 180mm-planke vir die tafelpote af. Saag die patroon uit met die figuursaag. Skroef die 180mm-planke haaks aan die 200mm-planke vas om die pote te vorm.

3. Plaas ’n poot op elke hoek van die tafelraam en skroef dit van die binnekant af vas. Sit die raam met pote onderstebo op die blad neer en skroef dit by die stutte aan die blad vas.

4. Vul alle skroefgate netjies met houtvuller en laat dit goed droog word. Skuur die tafel glad en verf of vernis dit in die kleur van jou keuse.

So maak jy die bankie…

1. Plaas twee van die 200 x 100mm-planke tussen die ente van die 910 x 100mmplanke en skroef vas om die raam te vorm. Plaas twee van die oorblywende drie 200 x 100mm-planke in die hoeke en een in die middel van die raam en skroef vas.

2. Skroef die 430 x 80mmplanke haaks aan die 430 x 100mm-planke vas om die pote te vorm. Plaas ’n poot op elke hoek van die raam en skroef dit van die binnekant af vas.

3. Sit die raam met pote onderstebo op die sitplek neer en skroef dit by die stutte aan die sitplek vas.

Ter afronding
Vul skroefgate met houtvuller en laat dit droog word; skuur dan die bankie glad en verf of vernis dit in die kleur van jou keuse.