Katte en honde: 5 algemene gevaarsones

Hond

Maak seker jou huis is troeteldiervriendelik, veral oor die vakansietyd. Wees bedag op dié vyf alledaagse gevaarsones.

Elektriese koord
Ou Trix weier nou al maande lank om aan daai speelding te kou wat jy spesiaal vir daardie doel gekoop het. Maar hoe lekker is die Kersliggies se elektriese draad nie! Behalwe dat sy die skok van haar lewe gaan kry, beland daar dalk net ook ’n lamp, voedselverwerker, broodrooster of strykyster op haar kop.

Tref voorsorg: Steek elektriese drade onder matte of agter meubels weg óf plak dit stewig teen die muur of vloer vas.

Gevaar: ‘Vars’ kos
’n Vars muis of fladderende voëltjie klink darem net soveel lekkerder as daai droë pilletjies in die bakkie, of hoe? ’n Jagter stel nie net homself in gevaar nie, maar ook jou en jou gesin, aangesien hulle die parasiet Toxoplasma gondii kan inkry wat in hulle uitwerpsel beland. Dis veral gevaarlik vir swanger vroue omdat dit tot geboorteafwykings kan lei.

Tref voorsorg: Hou katte binnenshuis en omhein jou erf as jy honde het; gaan stap met jou hond aan ’n leiband;
as jou hond simptome van diarree het, moet jy dadelik die dierearts raadpleeg; skort Ma se katbakdiens op tot ná die baba se geboorte.

Oop deksels
Ons het al gepraat oor ’n wasmasjien… Hou ook altyd die toilet of asblik se deksel en die mikrogolf of tuimeldroër se deurtjie dig toe.

Tref voorsorg: Maak altyd voor jy ’n elektriese toestel aansit, seker daar’s geen besoekers wat ’n nare verrassing
gaan kry nie.

Skoonmaakmiddels
Onthou, wat giftig is vir kinders, is waarskynlik ook giftig vir jou troeteldier. Veral stowwe met ’n bleikmiddel, ammoniak of ontsmettingsmiddels is gevaarlik.

Tref voorsorg: As jy die bevlieging kry en met ’n emmer en skropmiddels die bad- en slaapkamers invaar, moet jy nooit enige skoonmaakmiddels laat rondstaan nie en dadelik opvee as jy ’n bietjie Handy Andy mors. Sluit skoonmaakgoed altyd veilig toe met die proppe en deksels styf toegedraai.

Plante
Jy weet mos: As Kiets lus voel vir naar word, knibbel sy aan iets groens. Maar blote stuitigheid kan énige hond of kat laat proe aan die plante in jou voorkamer. Wees ook versigtig met die blombolle wat jy uit die tuin opgrawe, asook perskepitte (wat sianied bevat) en rabarberblare. En daai selonsroos wat jy jou nare buurvrou wil inja… pasop!

Tref voorsorg: Hou jou troeteldier fyn dop as hy in die tuin baljaar; wees op die uitkyk vir tuinplante waaraan gekou is; gebruik heininkies om diere van giftige plante af weg te hou; maak by jou kwekery seker plante is nie giftig nie – ’n dierearts behoort ook te kan raad gee.