Welkom, 2017! Dekor-idees vir jou Oujaarsfees

Kyk wat jy klaar in jou huis het, kry ’n paar bekostigbare ekstras en gebruik dié praktiese partytjietruuks vir ’n gul,
glansryke Oujaarsfees. So maak jy …

partytjie-1

1. Die tent-effek
Ligte lap oor jou tafel en partytjie-area gedrapeer is ’n heerlike manier om jou gaste teen die namiddagson te beskerm. Dit skep ook ’n jolige sirkus-atmosfeer.

So hang jy die lap: Gebruik stewige stokke of tappenne (kies dit effens langer as die breedte van jou lap), stik ’n soom wat breed genoeg is vir jou stokke of penne op elke ent van die lap en skuif die stokke daardeur. Bind tou aan elke punt van die stokke en hang die lap van die dak of van ’n boom in jou tuin.

2. Laat daar lig wees
Kombineeer LUDfeetjieliggies met gloeilampe aan kabels en gee die partytjie skop. Koop stringligte per meter by jou supermark of ysterwarewinkel.

partytjie-2

3. Meng en pas
Vir die beste partytjie-atmosfeer ooit, is meer altyd meer! Gebruik dus wat jy het en meng vintage-lap, speelse keramiekware, ’n tikkie goud en koper vir iets blinks. Gooi helderkleurige tafeldoeke en vrolike lap oor jou tafel vir ekstra feestelikheid.

Dis wat ons gedoen het: Ons wou ’n effense vintage-bekoring skep en het ons kerse met doilies opgekikker; dit keer ook dat kerswas op die tafeldoeke drup. Leë wynbottels en flesse is gespuitverf en met lint toegedraai, en ingespan as vase met blomme uit die tuin. Horlosies uit die huis is ’n speelse herinnering dat die ou jaar se tyd aan die uitloop is!

partytjie-3

4. Sit aan
Formele eetkamerstoele saam met tuinmeubels, moderne stoele, bankies, ou stoele met ’n lagie nuwe verf en selfs melkkratte sal jou gaste welkom laat voel. Ons hou van hoe dié mengelmoes saamwerk.

Slim plan! Tooi melkkratte op vir ekstra sitplek: Bind eenvoudig kussings daarop vas met linte, dan sit jou mense lekker sag.

Wenk Beskerm stoelpote met stukkies ou lap wat jy met tou daarom vasbind – nou kan jou gaste hul stoele in- en uitskuif sonder om hulle oor skade aan die pote te bekommer.

partytjie-4

5. Mooi genoeg om te eet
Bring die kunstenaar in jou na vore en gee gewone breekgoed ’n blinknuwe baadjie deur eetbare goudpoeier met vodka (alkohol werk beter as water) tot ’n pasta te meng en op jou borde te verf. Dis nie permanent nie en was maklik af – en natuurlik kan jy dit eet.

partytjie-5

6. Klink ’n glasie!
Gebruik linte en mengeldrankies, spookasem, aarbeie, en pienk sjampagne om jou dranktrollie op te dollie. En klink ’n glasie op die nuwe jaar!

partytjie-6

7. Ná sit en staan …
Dra jou los matte buitentoe om die vloer te versag en ’n gesellige knusheid te skep. Met ’n mat en kussings pleks van ’n kombers op die grasperk kan jou gaste intieme groepies vorm (of ’n vinnige uiltjie knip).