Hier’s ‘n paar idees vir Paasfees, langnaweke en slampampertyd.
Hasie in die holte
Bak Paashaas-, eier-en-mandjiekoekies, pak hulle in kleurryke blikemmertjies en steek hulle in die tuin weg – of hang hulle aan boomtakke – nog voor die jonges van dae uit die vere is! Jy kan die koekies ook in geskenkbokse pak en as presente uitdeel.
Kuiken Kordaat
Steek blikkies met Paaseiers in die tuin weg en versier hulle met goudgeel kuikentjies beskikbaar by Dash Decor.
Blomtee
Wees die laaste oorlewende koppie in jou stel genadig deur dit as blompot in te span. Probeer die motief op die koppie herhaal deur dieselfde soort blom daarin te rangskik.
Grys stof
Gebruik ‘n monochrome palet van wit, swart en grys in jou studeerhoek – dit help jou konsentreer. Die muurpanele kom van Smart Art en die lessenaar van Gordons’ Joinery.
Koekoeknes
Pak witsjokoladetruffels in ‘n wortelkoekring, melksjokolade-eiers in ‘n klam sjokoladekoekring en versuikerde amandels in ‘n vanielje-en-appelliefiekoekring.
Gaan jou gang
Kies jou gunstelingfoto en laat dit as muurpapier druk by Smart Art. Dit sal ‘n vaal muur of gang wonderbaarlik opkikker.
Skinker
Verf ‘n skinkbord wit, maar krap die verf plek-plek af met ‘n paletmes voor dit mooi droog is. Verf ‘n prentjie soos dié daarop.
Hemelbesems
Versag daardie verwaarloosde helling op die grens van jou erf deur ‘n ry sipresse aan te plant, asook bloke grondbedekkers in verskillende kleure in te span.
Elke pot kry sy plant
Komplementeer ‘n tuinpot met die regte soort en grootte plant. Hier versterk die robuuste blare van die plant die dramatiese voorkoms.
Vakansie sonder einde
Hou heeljaar vakansie deur ‘n fokusmuur te maak van ontspanne seefoto’s met dieselfde kleurskema. Laat elkeen blok en stel dan ‘n groter foto met die kleintjies saam.











Comments are closed.