Twee funksies vir een vertrek

[divider]
Jy moet eerstens besluit wat die vertrek se hoofdoel is. ’n Sit/woonkamer is meerdoelig en geskik vir kuier, onthaal, ontspan, televisie kyk, en om die uitsig oor die tuin te geniet. Die vertrek waarvan ons hier praat, is ongeveer 4 x 4 m groot, met ’n deur wat uit die een hoek oopmaak en ’n groot dubbelvenster wat op ’n klein tuin uitkyk. Die eienaar wil graag tydlose, maar tog kontemporêre meubels aanskaf, maar weet nie wat om doen nie.

Drie rangskikkings

1 Kuier saam

Maak die vertrek ontvanklik vir gaste deur hulle in te lok na ’n “oop” rangskikking. Plaas die sofa teenoor die ingang sodat dit die eerste, groot “kom sit hier”-element is wat ’n mens kan sien. Rangskik die twee gemakstoele rondom die mat en koffietafel sodat gaste op die stoel en die bank met mekaar kan gesels, en sodat daar steeds ’n uitsig oor die tuin is. Plaas die staanlamp tussen die bank en die gemakstoele sodat dit taakgerigte beligting verskaf as iemand sit en lees. Die helderrooi laaikas vorm ’n fokuspunt teen die muur om die sitgedeelte te balanseer.

2 Geniet die omgewing

Maak die venster ’n fokuspunt in die vertrek. Vul die muurspasie aan weerskante met prente, kuns, foto’s en wat nog om die muur ’n galerygevoel te gee – dan raak die venster deel van die uitstalling. Skuif die bank sodat dit teenoor die venster staan. Sit die twee gemakstoele verkieslik aan die regterkant van die bank sodat dit nie die vertrek se ingang blokkeer nie (dit lei steeds gaste in). En maak met die rooi laaikas ’n sekondêre fokuspunt agter die twee gemakstoele. Blomme of ’n spieël teen die muur is ideaal om die natuur in te nooi of lig te weerkaats. Plaas die staanlamp links van die venster sodat dit effens balans bring in die meubelplasing. Dit sal dan ook die portrette saans sagkens belig.

3 Televisie-ontspanning

Wanneer die ekonomie knyp, bly ons meer by die huis en raak die televisie ’n groot ontspanningselement. As dit die fokuspunt in die vertrek is, is dit gepas om dit teen ’n muur te plaas waar daar minimale steuring is (soos ver van die deur af) en waar die vensterlig vol daarop skyn. Die agterste muur is ’n goeie plek. Die bank staan wel met sy rug na die deur, maar as jy dit effens na die venster se kant toe skuif is daar ’n deurloop na die sitgedeelte. Die twee gemakstoele bied op dié manier ’n uitsig op die televisie én buitentoe. Trek die aandag van die televisie af deur dit op die laaikassie te plaas. As jy ’n muurgemonteerde televisie het, kan jy dit teen die muur hang. Verskans dit deur die muur vol portrette te hang.