Skep ’n romantiese leefruimte


Romanse beteken verskillende dinge vir verskillende mense. As jy ‘n romantiese leefruimte wil skep, wil jy persoonlike elemente daar gebruik om uit te druk wie jy is. Dis immers hoe ‘n huis ‘n tuiste word: deur ‘n eerlike beeld te skep van sy inwoners en hoe hulle dit gebruik. Besluit self of jou liefdesnessie snoesig en warm, of koel en kalm gaan wees. Want hoe kompleks die taal van die liefde ook al is, jou verhouding met jou huis hoef jou nooit moeite te gee nie. Volg dié paar riglyne om ‘n romantiese stempel daarop af te druk.

1. IN ‘N ANDER LIG

Beligting hou die sleutel tot die algehele stemming en voorkoms van ‘n vertrek. Bepaal eers hoe die natuurlike lig in die ruimte werk en besluit dan hoe en waar jy kunsmatige beligting kan inspan. Kry byvoorbeeld ‘n verdofskakelaar sodat jy die gewone beligting vir romantiese aande kan bewimpel, of ‘n kristalkandelaber om die sterre in jou oë te weerkaats – kies uit die talle ontwerpe beskikbaar, solank dit jou ruimte karakter gee en meer omtrent jóú sê. En wat ook al die okkasie of tyd van die dag, ‘n kaggelvuur of kerse laai altyd die atmosfeer met beloftes van innige samesyn.

2. BEELD EN SKYN

Spieëls het ‘n manier om glans aan enige vertrek te verleen, en plaas jou reg binne jou eie feëverhaal. Afhangende van die vertrek en die tipe spieël wat jy kies, kan dit as fokuspunt óf as versiering dien. Dis ‘n bykomstigheid wat ‘n vertrek oopmaak sodat dit groter lyk as wat dit regtig is, en straal ‘n bekoring uit wat die atmosfeer met nog meer romantiek laai. Wanneer jy spieëls gebruik om ‘n vertrek op te helder, moet jy die grootte, wat jy daarmee wil bereik en jou eie individualiteit in gedagte hou.

3. VARS UIT DIE VELD

Die buite-onthaalarea langsaan, met sy lieflike uitsig op die tuin, omraam die hele vertrek en hang ‘n kosbare landskap in jou huis. Die natuur sal sy dromerige, mymerende bekoring oor jou kuierplek spoel – nooi hom net binne! Gebruik blomme vir ‘n kleurespel in ‘n andersins neutrale vertrek – dit kos min en die suiwer parfuum sal deur die hele huis syfer. Jaye Niemi, ‘n Australiese geurkenner, sê: “Geur is belangrik in die huis, want die aroma wat ons kies om ons ruimte te deurdrenk word vasgelê in die geheue van elkeen wat dié ruimte binnekom.”

4. SPEKTRUM VAN GEVOEL

Die kleure wat jy kies is net so persoonlik as die betekenis wat jy aan die woord “romantiek” heg. Hou altyd in gedagte dat kleur jou gemoedstemming in ‘n groot mate beïnvloed – besin voor jy op skakerings vir jou huis besluit, want dit kan ‘n groot verskil maak aan hoe jy ‘n ruimte ervaar. Bring kleurtone in wat warmte en ‘n sensuele gevoel skep, wat jou lewendig laat voel en ‘n positiewe uitwerking op jou gemoedstemming het.

5. SENSUELE SENSASIE

Jou huis moet al jou sintuie bevredig. En dit gebeur as jy al die teksture en oppervlakke wat tot jou siel spreek, in perfekte balans saamgooi. In dié vertrek meng koel teëls met ruwe mat, verweerde houtmeubels met glansryke kandelaber, rou linnegordyne met gepoleerde glas – almal gesellig saam in ‘n warm, sensuele ruimte wat jou hartlik verwelkom. Leer ken jou voorkeure en afkere sodat jy die huis kan skep waarvan jy hou. Jou huis sal jou viering van mensheid word.