Voor en ná: Verjongingskuur vir ’n tagtigjarige huis in die Strand

Ná haar verjongingskuur vertoon dié tagtigjarige woonhuis in die Strand ’n wulpse skoonheid.

Deur Maryke Roberts • Foto’s: Francois Oberholster

0614DECMaryke-strand-reno-web-1

0614DECMaryke-strand-reno-web-2

“Ons het 17 jaar in ons vorige huis gebly, waarvan die groot stoep (“Van afdak tot soeperstoep”, Tuis, Oktober 2009) ons laaste groot bouprojek was. Toe ons ’n ander plek op die dorp begin soek waar ons en my pa saam kan woon, was ons skepties dat ons ooit weer so ’n lekker ou, karaktervolle huis sou vind,” vertel Maryke Roberts van haar en haar man, Clifford, se huis in die Strand.

“Die derde huis waarheen die agent ons neem, is toe dieselfde een wat ons al jare lank op ons aandwandelings deur die buurt bewonder – en heimlik begeer! Ons aanbod is op Valentynsdag aanvaar,” vertel Maryke.

Die tweeslaapkamerhuis, wat in 1933 gebou is, het nog net vier eienaars gehad. En die houtvloere, kosyne en deure was in ’n uitstekende toestand. Die huis is heel voor op die andersins oop dubbelerf geplaas (iets seldsaams in die Strand), met drie akkerbome van tussen 40 en 80 jaar oud wat oor die huis en enkelmotorhuis waak.

“Behalwe dat ons vir my skoonpa ’n woonstel moes bou, het ons ook nog ’n garage nodig gehad. Daarby wou ons ’n kantoor buite ons huis inrig, en natuurlik moes daar weer ’n groot kuierstoep wees!” vertel Clifford.

Die Robertse is terug na hul argitek wat sewe jaar gelede die soeperstoep ontwerp het. Maryke het vier plakboeke gemaak van oulike idees uit tydskrifte en Marcus Smit het met sy sketse begin.

Maar benewens die munisipaliteit moes die Wes-Kaapse Erfenisstigting ook die planne goedkeur, aangesien die huis ouer as 60 jaar is. Omdat die huis se karakter nie geskend mag word nie, was uitbreek na buite om addisionele vertrekke te bou, buite die kwessie.

“In ons vorige huis was lig en ruimte beperk, en dus vir ons albei noodsaaklik in die nuwe een. Kaste, mure, teëls en badkamers moes spierwit wees vir die grootste hoeveelheid lig, met kristalhandvatsels en kandelare om die lig te weerkaats. Ook het ons meubels minder gemaak en net dit wat ’n oopplanleefwyse en beste gebruik van die ruimte sou komplementeer, behou.”

Sekerlik die grootste oorweging – naas styl – was die koste. Heelwat van die huis se vensters en binnedeure is hergebruik, en vir die nuwe strukture is daar op sink besluit, omdat die boukoste daarmee sowat R1 000/m² laer as baksteen is. Hul bouer, Abel Vicente van VPM Building, het dié grootse uitdaging aanvaar en die stoep, die woonstel vir Maryke se pa, die tweede garage en kantoor bo-op gebou met sink, wat spierwit geverf is.

Uit respek vir die huis se ouderdom is besluit om sekere elemente te herhaal, soos die staalraamvensters en -deure wat ook as stortdeure gebruik is, en die leiklip op die voorstoep wat in die buitestort en op die stoep herhaal is.

0614DEC-Maryke-strand-reno-web-VOOR-kombuis

0614DEC-Maryke-strand-reno-web-3.jpg

0614DEC-Maryke-strand-reno-web-6

0614DEC-Maryke-strand-reno-web-4.jpg

0614DEC-Maryke-strand-reno-web-5

0614DEC-Maryke-strand-reno-web-8

0614DEC-Maryke-strand-reno-web-7

Kombuis, eet- en leefarea

Die huis het geen eetkamer gehad nie en die kombuis was donker, met Novilon bo-oor die ou Oregonplankvloer. “Ons het besluit om die muur tussen die sitkamer en kombuis uit te breek en twee staalraamdeure in die leefarea in te bou,” verduidelik Maryke.

Die toegeboude agterstoepie is by die kombuis geïnkorporeer as waskamer en die ou kombuisdeur is spens toe geskuif om op die tuin oop te maak. Waterpype en kragpunte is verskuif en nuwes aangelê waar nodig.

Terwyl ’n rooi stoof lieflike kontras met die wit metroteëls, kaste en werkblaaie bied, sluit swart hangligte bo die eettafel weer treffend by die tafel se pote aan.

0614DEC-Maryke-strand-reno-VOOR-badkamer

0614DEC-Maryke-strand-reno-web-9

Badkamers

Die geel en beige bad, stort, wasbak en toilet in die ou badkamer is uitgebreek, die mure wit geteël en ou “skoolteëls” in wit en steenkool op die vloer gelê. Dis nou die gastebadkamer. Die vorige stoepkamer is ingerig as en suite, waar ’n staalraamdeur en wit pootjiesbad die gevoel van ruimte versterk.

0614DEC-Maryke-strand-reno-web-12

0614DEC-Maryke-strand-reno-web-13

0614DEC-Maryke-strand-reno-web-14

Slaapkamers

Die vorige eienaars het in die voorste kamer geslaap en die tweede slaapkamer as eetkamer gebruik. Eersgenoemde is groter, maar het beplanning vir ’n en suite bemoeilik. Nou is die vorige eetkamer die hoofslaapkamer nadat die muur na die ou stoepkamertjie gedeeltelik uitgebreek is. Hier strek die kaste tot teen die plafon, met wit materiaal in die deure se binnepanele om sagter tekstuur in te bring; ’n skoenelaai voor die venster spog met ’n dik kussing waarop jy in die wintersonnetjie kan sit en lees.

0614DEC-Maryke-strand-reno-web-10

0614DEC-Maryke-strand-reno-web-11

Stoep en garage

Op die stoep gee witgeverfde ontblote houtbalke – daar’s geen plafon nie – die indruk van ’n plaasskuur. Die woonstel en kantoor se binnemure langsaan is beklee om soos soliede geboude mure te lyk, kompleet met prentlyste.

Wenke

• Vra soveel as moontlik vriende se raad voor jy begin planne teken. Hulle is onpartydig en sien dinge anders as jy.

• Bepaal presies wat in jou huidige huis ’n irritasie is en vermy dit in die nuwe een. Neem foto’s van jou huidige huis, want jy sien baie meer op foto’s raak as met die blote oog. Sodoende kan jy beter beplan in die nuwe huis.

• Moenie intrek voor die huis heeltemal klaar is nie.

• Moenie volgens die modegiere bou nie, maar kies ’n tydlose styl – dit hou jou huis langer “in die mode” en is voordelig wanneer jy eendag wil verkoop.

• Begroot vir een derde meer as jou bouer se kwotasie en reken ook een derde by die tydsduur van die projek.