Ontspanne en romanties in wit

’n Kreatiewe siel met ’n passie vir wit wys hoe ontspanne en romanties sy besonderse dekorstyl is.

0213FOmontagu-97

 

Deur Anneke Blaise • Foto’s: Francois Oberholster

Die kunstenaar en meubelontwerper Clive Biden se nuutgeboude huis van 164 m2 in die skilderagtige dorpie Montagu lyk of dit nog altyd daar was. “Ek wou hê die huis moet deel van die omgewing wees, en ek dink dit skakel pragtig daarby in.”

Die grootste opwinding was om te kyk hoe bouwerk aan die reghoekige struktuur in 2011 vorm aangeneem het. Alles het begin met ’n staalraamkonstruksie wat binne drie dae opgerig is, gevolg deur ’n plat dak en vier meter hoë mure wat die huis groter laat lyk as wat dit werklik is. Clive het die bou- en binneversierprojek van begin tot end bestuur en het alles self gekies – en in die meeste gevalle self gemaak!

Die inspirasie vir die huis se ontwerp en interieur het in Parys, Frankryk ontstaan, verduidelik Clive. “Die stukke van die legkaart het in plek geval nadat ek ’n rukkie in die Cité Internationale des Arts in die hartjie van Parys, met ’n uitsig op die Seine en Notre Dame, gebly het. Ek was gaande oor die argitektuur. Hoewel ek omring was deur museums en galerye, was die grootste kunswerke van Parys vir my die geboue, en het ek besef dat ek pleks van skilderye op doek, meer funksionele kuns wil skep – soos meubelstukke met ’n Franse kinkel.”

Die huis is in ’n tipiese Karoo-styl gebou met hoë rietplafonne, ontblote dakbalke, betonvloere en ’n stoep wat 18 meter lank en drie meter breed is. Die oopplan-leefarea-en-kombuis met die twee gastekamers links en die hoofslaapkamer met sy en suite-badkamer regs bepaal die stemming vir die hele huis.

Die algehele wit kleurskema was ’n vanselfsprekende keuse. “Vandat ek kan onthou, was ek mal oor wit. Dit weerspieël my persoonlikheid en is kalmerend, sag op die oog en laat my goed voel. Dis ’n leë skilderdoek waarop die prentjie voortdurend deur die dag wissel namate die lig verander.”

Slider loading...
  • Voor


  • Voor


  • Voor


  • Elke oggend kom ek uit my slaapkamer uit en sê : Hallo, liefste huis! – Clive Biden


  • Die kaggel met sy eenvoudige, dog treffende omranding, tesame met die takbokkop, anker die vertrek.


  • Lig stroom by die talle vensters in; die kombuiskasstrukture is in sement gegiet en die houtdeure is met fleur-de-lismotiewe versier.


  • Die Karoostyl-voorstoep met sy sinkdak begroet gaste met ’n ligte, hartlike gevoel danksy die kontrasterende teksture: Deursigtige gordyne wat hitte keer, witgeverfde horings, lineêre Adirondack-stoele en ’n Franse bank met ’n “afdakkie” weerspieël die elegante styl wat jy regdeur die huis vind.


  • Die mengsel van plaaslike vondste en meubels uit ander lande pas perfek in die leefarea en lyk selfs meer indrukwekkend in die ruimte met sy hoë plafonne.


  • Clive het die stewige eetkamertafel en armoire self gemaak, asook al die kroonkandelare waarvoor hy 180 kg loodvrye kristalle ingevoer en elkeen sorgvuldig aan die kandelare vasgesit het om die vertrek ’n dramatiese voorkoms te gee.


  • Die gasstoof pas netjies in die eiland en is nie sigbaar vanaf die sitarea nie; hier kuier vriende graag op die stoele rondom die eiland terwyl Clive kosmaak. Die eiland is ideaal vir gesels en onthaal terwyl daar kos gemaak word en bied ’n lieflike uitsig op die agtertuin. Die klein hangliggies was oors pronklik kershouers van Mr Price Ho me.



  • Clive het die staanspieël in een van die gastekamers gemaak; dié kamer se deure maak op die voorstoep oop. Die wit beddegoed en deursigtige drapeersels skep ’n rustige en romantiese atmosfeer.


  • Die en suitebadkamer het oorgenoeg ruimte om gerieflik te bad of stort.


Die siel van die huis is te danke aan Clive se vermoë om ruimtes op ’n knap begroting mooi te maak. Hy gebruik alledaagse meubelstukke en bykomstighede wat hy herskep of self maak; die riete waarvan die plafonne gemaak is, kom van ’n naburige plaas. Die gesellige gevoel is verkry deur die slim gebruik van tekstuur in artikels soos geverfde horings, swierige houtspieëlrame, Ngunivelmatte en die kaggelomranding, wat die wit ruimte diepte gee. Nes die beroemde 20ste-eeuse argitek Mies van der Rohe, heg Clive groot waarde aan detail: Selfs die plafonne het onder sy kunstige hande deurgeloop met vernuftige vakmanskap wat in die staallasse te sien is.

Die groot leefarea het vier duidelik afgebakende sones vir sit, eet, kosmaak en werk. Die ontwerp en uitleg van die kombuisarea, wat ongetwyfeld die hart van die huis is, is naatloos en funksioneel, met kombuistoerusting wat slim versteek, maar binne bereik is: Die spens is byvoorbeeld ’n instapkas, die yskas word agter deure toegemaak en die eiland maak die gasstoof minder opsigtelik. Clive het self die eiland en kombuiskaste gemaak en het dit met Franse detail in die vorm van fleur-de-lis-motiewe afgerond; dié detail word beklemtoon deur die natuurlike lig wat by die dubbele oopswaaideure en vensters, wat op ’n fontein in die agterplaas uitkyk, instroom.

Clive se wenke om ’n wit interieur te laat werk
WEES DAPPER As dit die voorkoms is wat jy begeer, moenie dat enigiets of enigiemand jou van stryk bring nie. ’n Wit interieur is nie steriel nie – onthou, daar is baie skakerings van wit wat verander namate die lig verander, en dit skep ’n vreedsame ruimte waarin vorm en tekstuur beklemtoon word.

VISUALISEER die eindresultaat en hou by jou plan. Vandat die eerste steen gelê is, het ek ’n duidelike prentjie gehad van hoe my huis moes lyk, en die resultaat is presies wat ek wou gehad het.

MOENIE AFSKEEP NIE Om dié voorkoms te laat werk, moet daar harmonie en balans wees.

VERTROU JOU INSTINK Jou huis is jou toevlugsoord; laat dit dus net so individualisties wees soos jy.

GENIET DIT Om met ’n beperkte palet te werk, is ’n kreatiewe proses wat, te midde van uitdagings, baie bevredigend is.

Vertel vir ons …

Wat is jou gunsteling-ruimte? Beslis die bank op die stoep. In die oggend drink ek graag koffie daar terwyl die son oor die berge opkom.
Wat inspireer jou? Die grootsheid van die natuur … Parys … Groot, oop ruimtes.
Enige wenke vir voornemende opknappers? Visualiseer al die moontlikhede, vertrou jou instink en doen dit net!
En jou tuin? Het jy groen vingers? Ek wens ek het tyd gehad vir tuinmaak, maar ek het te veel idees in my kop en te veel nuwe dinge om te ontwerp en te maak.
Wat is volgende? Ek wil graag mense help om hul huise in lieflike, stylvolle, inspirerende, gerieflike en rustige leefruimtes te omskep. As jy slim te werk gaan, hoef dit nie ’n fortuin te kos nie. So, ek wil dus meer huise bou en my meubelreeks uitbrei.

Het jy geweet?

• Die fleur-de-lis-simbool, wat letterlik “blom van die lelie” beteken, was ’n simbool van volmaaktheid, lig en lewe. In die 12de eeu het koning Lodewyk VI die eerste Franse monarg geword wat die fleur-de-lis op sy skild gehad het. Bron fleurdelis.com
• Die verskil tussen Victoriaanse broekiekant en dié van die Karoo? Eersgenoemde is van yster, en laasgenoemde van hout.

LEES NOU:

Só gee jy jou huis Franse flair

Só gee jy jou huis Franse flair

WEB-FOOTERS-afr