’n Leefhuis met flair, sonder fiemies

Elbeth Travers het haar hart en siel in hierdie Frans geïnspireerde gesinshuis gestort; dis luuks dog gemaklik.

Deur Simone Borcherding • Foto’s Jan Ras

Frans-val-de-vie-1

Frans-val-de-vie-2

In 2012 het Elbeth Travers en haar veearts-man, Frank, Pretoria verlaat. Hulle was op soek na ’n minder gejaagde manier van lewe, en dis presies wat hulle in die hart van die Kaapse Wynland gekry het in ’n Frans geïnspireerde huis wat hulle laat bou het om perfek by hul ontspanne leefstyl te pas.

Vir dié paartjie gaan dit alles oor gemaklike weelde en ’n ruimte waar hulle as gesin saam kan tyd deurbring – Elbeth en Frank kuier graag met hul twee dogters, Megan en Leischen, en hul seun, Walter. “Ons gunsteling-tydverdrywe is lang, luilekker middagetes, lag, gesels en lees,” sê Elbeth. “Ons hou ook daarvan om saam as ’n gesin te kook, pragtige maaltye te skep en gehaltetyd saam deur te bring.”

Elbeth glo dis belangrik om jou gesin se behoeftes in ag te neem wanneer jy jou droomhuis beplan. “Elke gesin is uniek; dus sal elke huis se ontwerp en styl uniek wees. Dit is daardie verskille wat elke huis pragtig maak.”

Frans-val-de-vie-4

Frans-val-de-vie-3

Frans-val-de-vie-5

“Ek is dol daarop om eenvoudige, geurige geregte te skep en al fresco te eet.” – Elbeth

Verskeie teksture en afwerkings skep ’n intieme atmosfeer in dié kombuis-eet-en-leefvertrek met sy kuiervriendelike oopplanontwerp. Die eikehouteiland met sy wit marmerblad is deur Malco gemaak – in pas met Elbeth se wens van ’n aardse plaaskombuis. Die ligte kom van Kooperasie Stories in Simondium.

Elbeth sê haar stylvolle Falcon-stoof laat die hart van haar huis warm klop. “Ek hou daarvan om altyd iets wit en blou in my kombuis te hê; die broodblik het ek in ’n antiekwinkel raakgeloop.”

Elbeth het haar eetkamertafel en -stoele by Pine’s Antiques op Parys in die Vrystaat gekoop. Sy wou dit nie verf nie, want sy hou van die warm, plattelandse gevoel van die hout en hoe dit alles in die vertrek saamsnoer. Die silwerware op die buffet is erfstukke van haar ma, die kanttafeldoek kom van Merci in die Paarl en die lig bo die tafel van Salome Gunter Interiors.

Frans-val-de-vie-6

Gemaklike weelde

Elbeth en Frank, wat in April 2011 begin bou het en vroeg in Desember daardie jaar kon intrek, het elke liewe detail van die huis sorgvuldig beplan. “Die oomblik dat ons geweet het ons gaan bou, het ek deur tydskrifte begin blaai,” onthou Elbeth. “Ek wou niks aan die noodlot oorlaat nie; ek was baie puntenerig oor alles wat ons in die huis wou sit.”

Die Traverse het ’n verskeidenheid teksture gebruik en het oud en nuut gekombineer om die eenvoudige, plattelandse voorkoms te skep wat hulle wou hê.

“Hierdie huis is ’n ware weerspieëling van wie ek van binne en buite is. Elke detail herinner aan dit waarvoor ek lief is,” sê Elbeth.

Haar geheim is om altyd te streef na ’n ontspanne voorkoms, en baie van Elbeth se gunsteling-items is van geslag tot geslag oorgedra. “Ek het ’n paar stukke by my ma geërf, soos die groen tafeltjie wat nou ons bedkassie is. Dit was my ma se stryktafel – dit het selfs nog ’n brandmerk op,” sê Elbeth.

Frans-val-de-vie-8

Frans-val-de-vie-9

Elbeth wou ’n sjiek dog knus atmosfeer in die badkamer skep waar sagte, deurskynende gordyne nie die uitsig uit die bad met sy mooi kurwes in die middel van die vloer belemmer nie. Die elegante palet van room, grys en skakerings van naaswit is perfek vir dié vredige ruimte.

Flair sonder fiemies

Daar heers ’n gevoel van kalmte in hierdie gesinshuis – dit kon net sowel iewers in Provence, Frankryk, gestaan het.

“Ek en my man was nog altyd dol oor die gemak van die Franse plattelandse styl, en ons het die ontwerp en dekor hiermee in gedagte benader,” verduidelik Elbeth. Die paartjie het besluit op oop ruimtes en eenvoudige afwerkings om die pragtige omgewing en ontspanne leefstyl te komplementeer. Die toegeboude stoep met sy uitsig oor die grasperk en swembad is waar hulle die gereeldste kuier, of dit nou warm of koud is buite. Kompleet met ’n braai en informele sitkamer- en café-ruimte is dit die perfekte plek vir al fresco-etes.

Sleuteleienskappe van dié Frans geïnspireerde ontwerp behels ’n informele tuin met aksente soos swierige staalstrukture, houthortjies buite, hoë plafonne met unieke hangligte, ’n leef-en-kombuisarea met ’n oop plan wat verbind word deur ’n groot kaggel, rou sementvloere met los matte en kaal baksteenmure wat ’n industriële gevoel verleen. “Met hierdie voorkoms het ons die vryheid om eenvoud met ’n mate van flair te kombineer en só ’n rustieke, huislike en gemaklike omgewing te skep,” sê Elbeth. leserhuis

Elbeth se gunsteling-winkels

• Masquerade op Franschhoek
• Kooperasie Stories op Simondium
• Nerf-af in Durbanville
• Merci in die Paarl
• vintage-markte in die Kaapstad-omgewing

As jy jou hart in jou huis stort, sal jy lekker daarin leef. – Elbeth

Frans-val-de-vie-10

Frans-val-de-vie-12

Frans-val-de-vie-11

Salome Gunter Interiors het Elbeth gehelp met die stoep se ontwerp; dit is die ideale plek waar die gesin saam kan ontspan. Die klein ronde tafel van Hope Garden Furniture in Soutrivier is ideaal vir informele, intieme etes. Die bank en gemakstoele is van Salome Gunter Interiors en die kussings is met vintage-lap oorgetrek. “Ek hou van die verbleikte kleure; dit gee daardie ingeleefde gevoel wat my gaste laat tuis voel en lekker lank laat kuier,” sê Elbeth.

Die afwerkings

Verf Binne- en buitemure in Prominent Paints Elmwood; vensterrame en vensters in Prominent Paints Keystone; hortjies in Prominent Paints Corinthian Pillar; voordeur in Prominent Paints Corinthian Pillar en Melanie.

Materiaal Biggie Best, Salome Gunter en Kooperasie Stories. Ook antieke Franse lakens vir die hoofslaapkamer se gordyne.

Vloere Afvlaklaag van sement en wit sand.

Kombuis Wit marmertoonbanke met rou eikehoutdeure wat deur Malco vervaardig is.

Kaste Ingeboude kaste en wasbakeenhede wat soos losstaande kaste lyk deur Malco.

Beligting Hanglig in eetkamer van Salome Gunter Interiors, kombuisligte van Kooperasie Stories, stoeplig van Isabelina in Stilbaai, kandelaar in hoofslaapkamer van Toca Madera.

Staalwerk Traliewerk in die tuin deur Douw Steyn.

LEES NOU:

Ontspanne en romanties in wit

Ontspanne en romanties in wit

WEB-FOOTERS-afr