Meubels vir min ruimte

‘Groot idees laat selfs die aardigste klein plekkies stylvol lyk.’ – Sebastian Conran en Mark Bond

In ’n klein blyplek is dit dikwels die styl van die leefruimte wat in die slag bly. Dié vertrek word maklik oorvol omdat hier gelees, geëet, televisie gekyk, musiek geluister, gekuier en selfs gewerk word. Met soveel funksies is dit ’n uitdaging om ’n klein leefvertrek só in te rig dat dit nie in ’n oorvol deurmekaarspul ontaard nie.

Wenke
• Koop meubels met ’n maatband byderhand om seker te maak mense sal gemaklik verby dit kan beweeg. ’n Stuk moet nooit so groot wees dat jy skuins moet draai om verby te kom nie.
• Moet terselfdertyd nie bang wees om groot stukke in te bring nie: Minder groot stukke laat ’n vertrek groter lyk as ’n hele klomp kleiner stukke, mits dit nie die vertrek oordonder nie.
• Veeldoelige meubels is ’n moet, soos ’n koffietafel met pakplek; kubusse wat sitplek, kanttafeltjies, boekrakke en pakplek kan wees; ’n etenstafel wat ook ’n werktafel is, of ’n kis wat bêreplek en ’n koffietafel kan wees. En op wiele raak dit nóg meer funksioneel.
• Meubelstukke wat nie solied is nie, soos ’n rusbank met pote of stoele met ’n fyn raamwerk, laat ’n vertrek groter lyk as soliede stukke. Dieselfde geld vir lae meubelstukke.
• Meubels wat lig deurlaat of weerkaats, byvoorbeeld dié van glas, perspeks, staal of chroom, is ’n slim keuse. As jy bang is dit lyk koud, sal hout of ’n oorgooideken met baie tekstuur vir warmte sorg.


Slim met min
• Raak ontslae van tierlantyntjies. Dis die vinnigste manier om ’n vertrek kleiner te laat lyk.
• Breek binnemure uit. ’n Oop leefruimte kry baie meer lig en lyk groter as ’n paar klein vertrekke.
• Gebruik skuifdeure pleks van standaarddeure. Dit bespaar heelwat ruimte, maar net as jy dit kan bekostig om muurruimte te verloor.
• Gebruik oral een soort vloerbedekking. Span eerder los tapyte in om verskillende ruimtes te definieer.
• Kies ’n ligte kleurskema vir die vloere, mure en meubels. Wissel dit af met donker hout, of gebruik plek-plek aksentkleure. Dié kontras sal diepte skep in die klein vertrek.
• Gebruik weerkaatsende materiale, soos glas en spieëls, om die ruimte visueel te vergroot. As jy kan, gebruik dit verkieslik waar dit ’n mooi uitsig of iets van die buitewêreld weerkaats.
• Hou die vensterbedekkings subtiel met blindings of eenvoudige gordyne. Ingewikkelde draperings is beslis uit in ’n klein plekkie.
• Kombineer ingeboude pakplek en oop rakke met veeldoelige meubels.
• Bring iets van die buitewêreld binnetoe. ’n Groot venster of glasdeure, ’n kaggel, ’n bos blomme, droë takke of ’n potplant is ’n paar maniere om dit reg te kry.

Desk-kitchen 01Bathroom 2