’n Eklektiese huis vol versamelings in Oranjezicht

Van die soldervertrek tot die gesellige kombuis – die Van der Walts se huis is so reggeruk dat die historiese karakter regdeur behoue kon bly.

0815DECmagdel-web-1

In die portaal staan ’n telefoonkassie wat Magdel op Gumtree uitgesnuffel het. Die Marieke Prinsloo-beeld, ’n Kersgeskenk van Nico, het ’n spesiale plekkie hier. Magdel het die plakkaat laat druk van ’n poskaart deur Anderson Design Group.

Deur Marian van Wyk • Foto’s Francois Oberholster

Opgeknap van onder tot bo

Nico en Magdel van der Walt se huis in Oranjezicht, Kaapstad, dateer uit 1928 en hulle het al ’n paar opknapprojekte agter die rug – telkens uitgevoer met respek vir die geskiedenis en karakter van die huis. “Trouens, ons het van die vorige eienaars se opknapwerk terugverander, soos om die voordeur te skuif sodat ’n mens weer by die oorspronklike portaal inkom,” sê sy.

In een van die regrukprojekte het hulle reeds die oorspronklike kombuis aan die agterkant van die huis heelwat vergroot en ’n oopplan-eetkamer aangebou. Daar werk en speel hulle – dis nou as hulle nie in die soldervertrek (in 2012 aangebou) kuier nie.

0815DECmagdel-web-4

0815DECmagdel-web-3

0815DECmagdel-web-2

Die soldervertrek het ’n hoofslaapkamer, badkamer en sitgedeelte in ’n ruim oopplanuitleg. Magdel is ’n versamelaar van formaat en mede-eienaar van TinTown, wat allerlei prettige dekor-artikels uit staal vervaardig. Die koperbed in die soldervertrek het saam met haar oumagrootjie van Engeland af gekom. Die botaniese sketse kom uit The Book of Botanical Prints van Taschen.

Mengelmoes meubels

’n Mens voel amper asof jy iewers tussen die bladsye van ’n sprokiesverhaal is wanneer jy deur Magdel en Nico se huis stap. Uile, bokkies en hase loer van oral vir jou – op mure, uit nisse, en van lap en keramiekware af. Sy en Nico, ’n aktuaris, woon al 12 jaar hier.

“Ek hou van goed met ’n geskiedenis en is enige minimalis se ergste nagmerrie,” sê Magdel. “Ek is lief vir sterk kleure, ontwerpe wat my laat glimlag en humoristiese detail. Ek is mal oor hoe kreatief Suid-Afrikaners is en local-is-lekker-goed. En as daar ’n halwe verskoning is soos Paasfees, Kersfees, Halloween of ’n verjaarsdag – selfs die diere s’n – versier ek die hele huis.”

Die meubels is ’n mengelmoes van oud en nuut. Sy koop graag op Gumtree, soms by Block & Chisel of Loft Living, en is dol oor opskietwinkels en markte. “My arme long-suffering man is geweldig geduldig en vra altyd dat ek iets uitgooi wanneer ek iets nuuts inbring. Maar ek kan nie!”

0815DECmagdel-web-9

0815DECmagdel-web-10

0815DECmagdel-web-15

Leefstyl

Magdel sê sy en Nico vul mekaar goed aan. “Nico is die geduldige een. Hy is beslis rustiger en dis goed dat hy my soms kalmeer. Ons is albei mal oor kos en wyn; veral naweke kook en kuier ons. “Hy bak brood en het die dissipline om mooi af te meet en al die stappe te volg. Ek lees vyf resepte gelyk en volg dan nie een presies nie,” babbel Magdel, wat jare terug ’n sjefskursus geloop het toe sy uit haar werk as kopieskrywer bedank het.

“Ons is mal oor net by die huis wees. Ons al vier kan onsself goed besig hou en is baie lief daarvoor om vir mekaar te lag. Ek en Janneke is waarskynlik die heel gelukkigste op die mat onder ’n kombers saam met ons honde.”

0815DECmagdel-web-12 0815DECmagdel-web-13 0815DECmagdel-web-14 0815DECmagdel-web-11

In die gang hang ’n versameling blou keramiekborde deur Rob Ryan en découpage-werk deur Terry Angelos en Vanilla Concrete. Die blou deur-afdruk en stoeloortreksel in Emil se kamer is tongin- die-kies dekorstukke uit Parys. In die tuiskantoor, Nico se wegkruipplek, helder Janneke en Emil se kinderkuns die vertrek op.

Kuier-kuier

Die Van der Walts wou hê hul kombuis moet outyds en solied lyk, asof dit al amper ’n eeu saam met hul erfenishuis leef. Hulle het die hulp van Liesel Crafford van Konsep Studio ingeroep.

“Sy is my liefste vriendin, en draai altyd haar kop skuins soos een van my kokketiele as ek iets gedoen het wat rêrig nie werk nie – en dan help sy my om dit reg te ruk,” vertel Magdel. “Ek is mal daaroor om saam met haar te werk.”

Hulle het uiteindelik besluit op ’n kombinasie van handgeverfde kaste, houtelemente, en werkvlakke van vlekvrye staal en marmer. En die resultaat was presies wat Magdel wou hê.

“Als gebeur nou in die kombuis,” sê sy. Die kinders doen huiswerk, die honde slaap op die bankie en die voëls kry hul speeltyd hier. Dis definitief die gesin se hartsplek,” sê Magdel.

0815DECmagdel-web-5

0815DECmagdel-web-6 0815DECmagdel-web-7 0815DECmagdel-web-8

Haar gunsteling-elemente is die inham met die gekreukelde teëls en kopergoed wat daarteen hang, die groot oop potterak en die broodkassie … Die dun laaitjie regs van die oond is ’n messelaai; en skuins onder die wasbak links is ’n uittrekkapbord.
Die droograk is bo die wasbak in die opwaskamer gemonteer sodat die skottelgoed daarin kan droog drup. Die huis het nog sy oorspronklike spens en die opwaskamer was eens ’n kweekhuiskamertjie. Dis piepklein – selfs te klein vir ’n skottelgoedwasser – maar vir Magdel baie spesiaal. Die broodkassie is geïnspireer deur een wat sy in Kaapstad se Dear Me-koffiewinkel gesien het.

Liesel se wenke

Liesel het die volgende raad as jy jou droomkombuis begin beplan:

• Besin oor jul leefstyl. Wil jy ruimte vir vriende om die werkeiland hê, of moet jou kinders ook hier kan huiswerk doen?

• Hou in gedagte dat kombuise dikwels deel van ’n oop plan is wanneer jy afwerkings kies.

• Hou dit eg en speel met kontras.

• Skep ’n goeie werkvloei – nie net tussen die yskas, stoof en wasbak nie, maar sorg dat daar ’n vullisdrom en wasbak naby die skottelgoedwasser is, asook speserye en toebehore naby die stoof.

• Goeie taak- en atmosfeerbeligting maak dit ’n plesier om in jou kombuis te werskaf. Retro-aanknipligte is ’n goeie keuse vir oop rakke.

• Liefde is alles. Kies kleure en materiale waarvan jy hou, soos marmer, al weet jy wyn kan dit vlek.

Wat sou hulle anders doen?

Sover nog niks, sê Magdel. “Maar dit sou fantasties wees as ek die kombuis groter kon toor!”

Die afwerkings

1. Kaste van MDF ontwerp deur Konsep Studio, gemaak deur Instyle Creations en handgeverf met Plascon Smooth Waters; broodkassie en rakke van soliede eikehout
2. Teëls Provenza van Douglas Jones in die kleur Champagne
3. Werkvlakke Vlekvrye staal, Stoneform-sementblad en wit marmer van World of Marble & Granite
4. Stoof Smeg, model Victoria
5. Vloer Oorspronklike Oregon-den
6. Hangligte Weylandts

Inkopiegunstelinge

Magdel hou van dié kombuiswinkels: Le Creuset, Woolworths, LiV’iN, Culinary Equipment Company en Yuppiechef.com vir kombuisware; Mungo en Cath Kidston vir kombuislinne.