Leserhuis

Dié vrygesel verkies wit

Toe Mornay de Villiers ses jaar gelede ’n ou huis in Da Gamaweg in die Strand koop, het hy nog effens nat agter die ore gevoel. Hy was skaars 26 jaar oud, maar het kans gesien om die hele plek te verander – wat hy toe ook gedoen het. Binnemure is uitgeslaan, die ingang van die systraat na voor geskuif om die vloei van die hoekerf te verbeter, en vir die eerste keer in sy lewe het hy tuingemaak. Gelukkig is Mornay deel van ’n baie hegte gesin, en sy ouers en twee susters het gehelp waar hulle kon.

Mornay en sy pa, Alwyn, besit ’n skrootmetaalonderneming, terwyl sy ma, Sandra, en susters, Natasha en Melissa, ’n gewilde antieke-en-koffiewinkel genaamd Pajamas & Jam op dieselfde perseel in die Strand bedryf. Dis hier waar die meeste van die interessante vondste in sy huis vandaan kom: ’n industriële haak waaraan ’n hangstoel uit die dak hang, ’n ou rooi Coke-yskas in die kombuis, en trokdeure met die motief van ’n Lions-vuurhoutjieboks wat nou as badkamerdeure dien! “Ek het aanvanklik gedink die winkel se goed is lelik, maar ek het darem intussen die lig gesien!”

Mornay se huis was nie altyd wit nie, maar is oor die laaste twee tot drie jaar stelselmatig verander. “Die vloere was daardie tipiese gelerige Oregondennehout, die spieëls het vergulde rame gehad en die gordyne was bloedrooi fluweel – alles baie dramaties!” Dié voorkoms het nie vir hom gewerk nie, want hy glo aan lig, en altyd tussen binne en buite leef. Die fluweel voor die reusevensters moes af en is vervang met melkdoekgordyne wat sy ma gemaak het. Dié hang op die grond en is altyd oop. “Baie mense wil weet hoekom ek sulke hoë mure om my erf gebou het, maar dis sodat ek nooit my gordyne hoef toe te trek nie – ek wil heeldag op my tuin uitkyk, ook saans. Alles hier bly altyd oop. Selfs as jy by die voordeur instap, dan is my slaapkamerdeur oop en kan jy regdeur sien. Dis hoekom dit belangrik is dat als mooi moet wees, met dieselfde deurlopende styl.”

Ná die nuwe gordyne is die meubels wit geverf. Die meeste van sy bal-en-kloustukke is met motorverf (Duco) gespuitverf vir ’n satyngladde voorkoms. Dit skep ’n kontemporêre, eerder as ’n landelike voorkoms. Mornay wissel dit af met ’n paar stukke wat met die kwas geverf is. Die mure is met CreteStone bedek en ongeseël gelaat vir ’n natuurlike voorkoms.

Die vloere was laaste aan die beurt. “Ek het lank gewik en weeg en was nie seker of ek dit moes verf nie. Almal sê mos altyd jy’s mal as jy houtvloere wil verf. Maar toe dit eers wit is, was ek eintlik spyt ek het dit nie al lankal gedoen nie!”

“Baie van my vriende sê dit voel asof hulle met vakansie is as hulle kom kuier, omdat alles so oop en lig is. Dis presies die gevoel wat ek wou hê.” Die meeste van Mornay se deure maak met werwelskarniere oop – soos die enorme Franse skuifdeure wat hy vir R2 000 opgeraap het. Hy het dit as voordeur ingespan, maar pleks dat dit net gedeeltelik oopskuif, swaai dit nou heeltemal oop. Dit lei jou direk tot in die oopplan-sitkamer-en-kombuis. Die ou rusbanke het nuwe oorgroot los oortreksels wat op die grond hang vir ’n informele voorkoms. Dit pas by Mornay se filosofie dat als groot, maar ontspanne moet wees. Die strooikussings van goiing kom natuurlik van Pajamas & Jam af, terwyl die verweerde ou matte by ’n tweedehandswinkel gekoop is.

In dié vertrek langs die kombuis word daar lekker gekuier. Die ou ysterbed kom van Pajamas & Jam, net soos die goiing-strooikussings. Sterk stutbalke is in die dak ingesit sodat Mornay later ’n dek bo-op kan bou vir ’n uitsig op Valsbaai.

“ ’n Spens het nog altyd vir my so lekker geklink – toe kry ek vir my ook een. My vriendinne geniet dit veral, want hulle kan net instap en sien waar alles is as ons kuier.” Die bal-en-kloukombuistafel spog ook met ’n sygladde wit afwerking en het wiele, sodat dit rondgeskuif kan word wanneer hulle die slag behoorlik partytjie hou. Stoele van natuurlike hout skep ’n ontspanne gevoel en breek die alles-wit-voorkoms. Net soos in die res van die huis, verskaf ’n kristalkandelaar ook hier ’n tikkie glans. Steeds is Mornay heeltyd aan die verander. Die kombuis het al twee gedaanteverwisselings ondergaan, en hy beplan om vanjaar nog veranderings te maak om die vloei verder te verbeter. “Ek het gelukkig ’n baie goeie kontak in Jaco van Workbench Products, wat nie net my kombuiskaste ingesit het nie, maar ook die vensters en deure spesiaal vir my gemaak het.”

Die huis het net twee slaapkamers. Albei het witgeverfde stapeldeure met kruldiefwering wat na buite oopmaak. Ook hier is die meubels hoofsaaklik geverfde bal-en-kloustukke. Selfs ’n ou argitekkas wat voorheen groen was, het nuwe lewe gekry in wit. In sy aantrekkamer staan twee bal-en-kloukaste regoor mekaar. Mornay het die deurpanele met spieëls vervang. “Maak nie saak of ek iets nuut of tweedehands koop nie – ek probeer altyd om iets daaraan te verander om my persoonlike stempel af te druk. Dis min dat ek ’n ding net so in die huis sal gebruik.” Die embuiakas in sy en suite is nog nie geverf nie en sy suster Natasha wil so graag hê dit moet so bly, maar Mornay skop vas: “Hy gaan binnekort sy laag wit verf kry!”

Mornay se mooimaakwenke

• Begin by een vertrek en maak dit klaar, anders kom ’n mens nêrens.

• Handhaaf dieselfde styl regdeur die huis. Hou dit eenvormig.

• Wit verf help my altyd. As jy nie seker is waar ’n stuk moet kom nie, verf dit wit en kyk weer.

• Waardeer jou tuin ook van binne – moenie die gordyne onnodig toetrek nie.

• Leer ken die goed op jou werf. Ek het nou wel self my swembadpomp en besproeiing- stelsel ingesit, maar selfs as jy dit laat doen, is dit die moeite werd om te weet presies hoe dit werk.

 

Deel

Teken in op ons e-pos nuusbrief updates te kry.

, , , , ,

One Response to Leserhuis

  1. Patty van den Heever February 21, 2012 at 7:38 am #

    Dankie vir die beste tydskrif in die mark! Ek geniet elke oomblik!

Laat 'n antwoord