Kyk- en luisterstyl

[divider]
Die tegnologie daag ons siening van dekor gedurig uit. Terwyl party mense daarvan hou om hul jongste tegno-aanwinste ten toon te stel, verkies ander weer dat dit eerder subtiel moet inskakel by hul individuele styl.

Die Johannesburgse binneversierder Ellare du Toit van Envision Living vertel ons meer.

As ‘n moderne, glansryke voorkoms jou styl is, sal ‘n tuisteaterstelsel jou die beste pas. Dan kan jy jou luidsprekers teen die mure monteer, of selfs ‘n draadlose stelsel installeer. Hierdie styl is skoon, minimalisties en spaar plek.

As jou liefde vir kuns jou verhinder om jou nuwe platskerm-TV te waardeer, probeer om dit tussen die res van jou kunswerke te monteer sodat hulle die aandag van die TV kan aflei en dit minder opsigtelik maak. Dis ook goed om te weet dat muurgemonteerde TV’s goed werk in huise met kleiner mure, as fokuspunte met of sonder ander, goed geplaaste muurversierings. Maar as dit nie met smaak gedoen word nie, kan dit onnet voorkom en vertrekke kleiner laat lyk.

Nog ‘n wenk is om muureenhede met skoon lyne onder so ‘n muurgemonteerde TV te sit, ter wille van balans. Een van die grootste kopsere – en ‘n seeroog – wanneer jy enige vermaakstelsel installeer, is die dosyne luidsprekerkabels wat nodig is. Jy kan hulle óf reg rondom die vertrek óf in ‘n pypleiding deur mure neem. Onthou net: Wanneer jy die kabels deur die muur sit, is dit permanent en sal dit die verskuiwing van jou luidsprekers in ‘n later stadium beperk.

Steek luidsprekers weg[divider]

Jy kan natuurlik ook jou luidsprekers “wegsteek” deur spesiale nisse in jou mure te bou, sodat die luidsprekers in die mure verdwyn. Of jy kan kubusvormige rakke bou wat by jou dekor inpas, hulle teen die muur monteer en die luidsprekers binne-in sit. Jy kan selfs soortgelyke rakke in verskillende groottes gebruik om ander items uit te stal, wat die aandag nog meer van die luidsprekers sal aflei.

Vir ‘n vertrek wat kleiner as 25 vierkante meter is, sal losstaande luidsprekers genoeg krag lewer. Hoe kleiner die luidsprekers in slaapkamers, kombuise en studeerkamers, hoe beter is die klank gewoonlik.

In meer tradisionele huise kan jy TV’s en hoëtroustelle in eenhede sit wat toegemaak kan word terwyl dit nie gebruik word nie. As jy so ‘n eenheid kies, is dit raadsaam om ‘n veeldoelige een aan te skaf. Dit moet groot genoeg wees sodat jy ander items soos boeke, CD’s, DVD’s en selfs bykomstighede soos vase, daarin kan bêre. Gebruik matglas- of perspex-deure of -panele voor die eenhede, want dit laat infrarooi deur en jy kan na hartelus kanale wissel.