Kry jou yskas in orde

[divider]
Vraag: My yskas bly vol en deurmekaar. Hoe skep ek orde daarin?

Antwoord: Dis maklik om jou yskas te organiseer as jy die volgende in gedagte hou:

Wenke vir die yskas

  • Gerasperde kaas is nuttig, maar dit neem meer spasie op as ongerasperde kaas. As jy die kaas nie dadelik nodig het nie, kan jy die hele blok rasper en dit vries. Gerasperde kaas ontdooi binne minute.
  • Gooi oorskietmelk wat in ‘n bekertjie was terug in die melkbottel, mits dit nog koud is en oorspronklik uit dieselfde bottel kom. So nie kan jy die melkbeker langs die ketel neersit en die oorskiet in jou volgende koppie tee gooi.
  • As jy gereeld onthaal kan jy gerus belê in plastiek- of sinkbaddens. Pak dit vol ys en hou al jou drinkgoed daarin koud. Jy kan selfs klaar opgeskepte dienborde so koud hou. Bedek die bord met kleefplastiek en sit dit direk bo-op die ys op ‘n koel plek. So spaar jy nog yskasruimte.
  • Margarienbakkies wat amper leeg is neem ook ekstra plek op. Skraap dit in kleiner houertjies uit.
  • Sommige mense eet nie gereeld brood nie en bêre dit dan in die yskas om dit langer vars te hou. Vries liewer die brood en ontdooi die snytjies in die broodrooster soos nodig.
  • As jy twee groot houers met jogurt het en albei is halfvol, skraap die een se inhoud by die ander.
  • Bêre vars vleis op die onderste rak of in ‘n bak sodat die vleissap nie op ander kosse drup en dit besmet nie. Dierlike proteïen bederf makliker en gouer as ander kos. Hou vleis koel en sit dit so ver moontlik agter in die yskas.
  • Moenie appels en wortels saam berg nie, want appels gee ‘n gas, etileen, af wat wortels ‘n bitter smaak gee.
  • Was jou yskas elke twee weke met ‘n flou oplossing van bleikmiddel en water.

Waar pak ek wat?

  • Die boonste en middelste rakke is geskik vir suiwelprodukte, smere, souse, room, oorskiet- en gaar kos en oopgemaakte houers met mayonnaise, mosterd en tamatiesous.
  • Waak daarteen om jou yskas te vol te pak, want dit belemmer die lugvloei: die yskas moet dan ekstra hard werk om koud genoeg te bly.
  • Pak eiers in die eierrakkies. Daardie kartonhouertjie met een of twee eiers binne-in neem baie plek in beslag.
  • Berg kos in lugdigte houers wat bo-op mekaar gestapel kan word om ruimte te bespaar. Op dié manier droog dit nie uit nie en sal sterk reuke ook nie ander produkte in die yskas aantas nie.
  • Hou bottels melk en koeldrank langs mekaar in die yskasdeur.
  • Benut groente-kompartemente optimaal. Dit gebeur soms dat hulle nie goed gepak is nie en dat houertjies wat halfvol is onnodig plek opneem. Draai die stukkie oorskietbroccoli liewer in kleefplastiek toe en bespaar so ruimte.

Het jy geweet?

Die ideale temperatuur vir ‘n yskas is 4 °C en vir ‘n vrieskas -15 °C.