Kry jou huis knus in 4 stappe

[divider]


1 Verf jou mure

‘n Groot, ligte vertrek is dikwels nie baie gesellig nie. Vir ‘n drastiese verandering het ons ‘n donker verfkleur, Plascon Double Velvet se Everest Blue (B5-E1-2), gekies. Hoewel die mure ‘n blou ondertoon het, hou die baie hout in die vertrek die atmosfeer warm. Kleur help jou om met min moeite en onkoste ‘n vertrek anders te laat lyk.

2 Bring teksture en lae in

Knus teksture nooi ‘n mens om voor die kaggel op te krul en dit hou die koue buite. Kies ‘n sagte mat, strooikussings met wollerige teksture, ‘n kniekombersie en, indien nodig, nuwe gordyne.

3 Gee jou eie styl met ornamente

Gee verdere karakter aan die vertrek deur ‘n paar weldeurdagte ornamente in te bring. Bly by interessante items in aardse teksture en kleure om die voorkoms subtiel te versterk. Hoewel hier ‘n gaskaggel in die vertrek is, sorg ‘n mandjie vol hout op ‘n bekostigbare manier vir tekstuur.

4 Rond dit af met beligting

Skep atmosfeer met beligting. Kies dekoratiewe lampe met skerms wat skadu’s teen die muur gooi. Feetjieliggies gee daardie verrassingselement wat ‘n vertrek onopgesmuk laat voel. Kerse en ‘n kaggel werk altyd, veral vir laat aande met musiek en rooiwyn.