Herwin jou kombuis

[divider]
As jou kombuis se afgeleefde sestiger-voorkoms jou teen die mure uitdryf, maar jy het nie ‘n begroting vir ‘n nuwe kombuis nie, moenie moed verloor nie – hoekom gee jy dit nie net ‘n nuwe baadjie nie?

In dié kombuis, ontwerp deur Katie Thompson van REcreate, is al die bestaande kaste en toebehore behou: in plaas van om die kaste te vervang, is dit met wit hoëglansverf oorgeverf en gekleurde perspeks is as skuifdeurtjies gebruik om ‘n meer moderne retro-gevoel te skep. Die diefwering van ‘n ander vertrek is aangepas vir die kombuisvenster. Nou het die kombuis ‘n besliste retro-voorkoms, maar dit bevat ook industriële, kontemporêre en sommerso-sjiek elemente in ‘n heerlike kombinasie van teksture, afwerkings en style.

Kaste [divider]

Slim pakplek

Slim pakplek [divider]

Omdat die kombuis so klein is, moet alles ‘n spesifieke plekkie vir leef of uitstal hê ten einde ‘n praktiese werkruimte te vorm.

  • Glasbottels word in twee inkopiemandjies bo die yskas gebêre tot dit herwin kan word.
  • Koerante word in ‘n mandjie gehou tot dit herwin kan word.
  • ‘n Stukkende kombuisskaal is in ‘n horlosie omskep, wat ook as ‘n treffende vrugtebak dien.
  • Die kombuis het net een laai, daarom word alle kookgereedskap in speelse blikke en potte gebêre.
  • Bykomende pakplek is teen die mure geskep in die vorm van ‘n hangrak langs die wasbak.
  • Die spykerbord is ‘n ware uitkoms: enigiets van pakkies, sakke, skryfbehoeftes, rekeninge en pos of sleutels kry ‘n plekkie hier.

Die afwerking

Kaste Ou kaste geverf in Plascon se universele emaljeverf “Super white”. Oranje perspeks-skuifdeurtjies pasgemaak deur Recreate.

Spatplaat Wit en oranje glasmosaïekteëls van Tile Africa (REcreate het met verskillende patrone gespeel om die effek te verkry).

Vloer Gewone sementvloer met Epoxy Clear Gloss van Earthcote geverf.

Diefwering Ontwerp deur REcreate en vervaardig deur Charlie’s Gates, Bars & Fencing.

Spykerbord (beskikbaar by plaaslike ysterwarewinkels) geverf met Plascon Caribbean Sea G7-A1-2.

Vir meer inligting oor REcreate: 076 989 0871, www.recreate.za.net