Industrieel, dog warm: ’n Groenpunt-woonstel uit die sestigs

Dié woonstel uit die sestigs met elemente van hout, klip, staal en sement is industrieel, dog warm.

Deur Beatrice Moore-Nöthnagel • Foto’s Francois Oberholster • Stilering Kim Bougaardt

Kuiergaste se reaksie is altyd dieselfde wanneer hulle die eerste keer by ons voordeur instap,” vertel German de la Melena hier in sy dakwoonstel in Groenpunt, Kaapstad.

“Eers word hul asem weggeslaan deur die uitsig oor die see – en dan probeer hulle hul asem terugkry ná al die trappe wat hulle moes klim!” Met die Tuis-span se besoek ervaar ons dit eerstehands: Die uitsig oor die Atlantiese Oseaan is asembenemend; en ja, ons is ook maar ’n bietjie uitasem van die tog op!

German, oorspronklik van Peru in Suid-Amerika, en sy Suid-Afrikaanse vriend, AD Barratt, het gevoel as jy Kaap toe trek, moet jy by die see bly. Ses jaar terug was hierdie woonstel die eerste een waarna hulle gekyk het; dit het hulle so betower dat hulle dadelik die koopkontrak geteken het.

Die dakwoonstel was aanvanklik deel van ’n huis uit die sestigerjare; die eienaars het dit in 1998 verdeel en die twee verdiepings afsonderlik verkoop. Hoewel ’n groot deel van die boonste vlak voorheen as konservatorium-tuin gebruik is, was dit volledig ingerig met ’n kombuisie, drie slaapkamers en twee badkamers.

Nou het die onderste woonkwartier ’n voortuin en die dakwoonstel, waar German en AD woon, ’n agterplasie met ’n swembad – ’n bate waarmee hulle baie in hul skik is. Boonop is die woonstel ’n skaflike 130 m² groot.

Indie die Airedaleterriër hardloop graag met die trappe af na die voortuin om sy tou te gaan haal as iemand dit vir hom deur die venster gooi. Op die kaggelrak staan ’n spieël in die vorm van Peru; die koffietafel is van Saks Corner. Teen die muur breek geometriese patrone en kleurvolle blokke wat die vensters omraam die hoogte.

Hoewel die woonstel nooit donker was soos ander ouer geboue nie, danksy die glaspanele in die konservatorium-dak en groot vensters waardeur die natuurlike lig instroom, het die klomp klein vertrekkies gepla. Gevolglik is van die binnemure uitgebreek sodat die leefkamer en kombuis met mekaar kan skakel, en die glasmuur wat die konservatorium van die voorhuis geskei het, verwyder – dié gedeelte huisves nou die eetkamer en is vyf trappe hoër as die sitkamer. Met die leefareas op verskillende vlakke het die huis ’n interessante dimensie gekry.

’n Pilaar wat die dak in die nuwe eetkamer ondersteun het, is uitgehaal omdat dit in die pad was en met ’n twaalf meter lange staalbalk vervang. “Was dit nou ’n gedoente om daardie balk hier bo te kry – dit weeg omtrent ’n ton en het vyftien man gekos om teen die trappe op te dra!” vertel German. “Maar ek hou baie van die ontblote staal; dit pas by die oop industriële voorkoms van ons huis.”

Ook die outydse gespikkelde matte is uitgehaal, en toe die twee die pragtige parketvloere onder die matte in die sitkamer en slaapkamer ontdek, was hulle in hul noppies. Die ou houtblokkies is nog in ’n pragtige toestand. “Ek is mal oor die vloere, die klip, die glas en die knoetsplafon. Baie mense vra my hoekom verf ons nie die plafon wit nie, maar ek wil nie – ek hou van die kombinasie van die verskillende ouwêreldse kleure en teksture.”

Vir die uitsig op die Groenpunt-stadion en oseaan raak ’n mens nooit moeg nie. German het die eetkamertafel ontwerp met verskillende bokkiepote en toe ’n glasblad daarvoor laat maak. Die ligte bo die eetkamertafel is van Ikhaya.

Danksy verskillende vlakke is die eetkamer en sitarea afgebaken, maar oop genoeg vir gesels; boonop kan jy die uitsig soveel beter geniet.

Danksy verskillende vlakke is die eetkamer en sitarea afgebaken, maar oop genoeg vir gesels; boonop kan jy die uitsig soveel beter geniet.

Potplante oral
Kaktusse in terracottapotte pynlik netjies in ’n ry op die kombuis se vensterbank, drie onderstebo hangplante, kokedamas, twee reuse-kaktusse in groot swart potte in die eetkamer en ’n verskeidenheid orgideë en lugplante wat ’n tuiste tussen die klip van die kaggel gevind het, is maar net van die plante in German en AD se versameling. Die feit dat ’n groot deel van sy huis eens ’n glastuin was, moes ’n saadjie geplant het – vandag kan hy net nie verby ’n plant stap sonder om dit te koop nie.

“Wanneer die orgideë blom, is dit ’n skouspel van pienk, pers en geel,” gesels German oor die lugplante aan die studeerkamer se kant van die dubbelkaggel. Dit word elke dag met water gesproei en dis duidelik hulle floreer op al die natuurlike lig wat hier instroom.

Onderstebo hangplante bring ’n speelse element in die kombuis.

Onderstebo hangplante bring ’n speelse element in die kombuis.

Die voorste vertrek is as studeerkamer ingerig. Teen die mure pryk onder meer ’n plakkaat uit ’n ou Versacekalender. German het die klip rondom die kaggel gesandblaas, waarna dit nou ’n lieflike grys patina vertoon.

Verf en kleur
Die baksteenmure, wat aanvanklik wit was, het ’n modieuse liggrys baadjie gekry wat perfek afgerond word met liggeel deure en
kosyne. German het ook seegroen kleure ingewerk.

“Afrika-maskers – ironies genoeg in Europa gekoop maar wat hier net gelê en stof vergaar het – het ek ook geel geverf; nou lyk dit heel modern saam met die res van ons dekor,” sê German.

Baie van die kunswerke is deur vriende of familielede geskep. Elkeen het ’n storie of spesiale betekenis, soos die geraamde plakkaat van die plaaslike universiteit se mediese fakulteit wat hy op straat in Spanje opgetel het, en die ou verfhemp wat sy kunstenaarsvriendin vir hom in ’n harsraam gemonteer het.

German en AD koop graag ontwerperartikels by die jaarlikse Design Indaba – soos dié betonligte van 20 eight design in die studeerkamer; dit dien ook as bedliggies in die hoofslaapkamer.

German en AD koop graag ontwerperartikels by die jaarlikse Design Indaba – soos dié betonligte van 20 eight design in die studeerkamer; dit dien ook as bedliggies in die hoofslaapkamer.

German maak speelgoed bymekaar, veral skaars versamelstukke, maar probeer om dit te beperk sodat die huis darem nie soos ’n speelkamer lyk nie. As jy hom pols oor wat vir hom die lekkerste van sy dakwoonstel is, sê hy sonder skroom: “Alles! Maar ek hou veral van die spasie en die lig. Dit is oop en die uitsig is iets besonders: ’n Mens raak nooit moeg daarvoor nie. Ook die swembad agter laat dit voel of ’n mens nie in ’n woonstel bly nie.”

Volgende beplan hulle om die kombuis oor te doen – daar gaan ’n skuifdeur na die swembad ingesit word en dis tyd dat die kassies en teëls uit die sestigerjare ’n nuwe baadjie kry.

6

Nadat die oorspronklike pilaar verwyder en die badkamer se deur na die gang geskuif is, was die muur te kaal; German het rakke vir die ruimte ontwerp en Cornel Steyn het dit van dennehout gemaak. Dié skildery is deur Daniel Malan.

Newsletter1_readerhomeGerman

Die kas in die gastekamer is van onafgewerkte spaanderbord gemaak – ’n groot gier tans; die klein vensters is slim deur middel van verframe “vergroot”.

Die kas in die gastekamer is van onafgewerkte spaanderbord gemaak – ’n groot gier tans; die klein vensters is slim deur middel van verframe “vergroot”.

Dié Frankenstein-pop is een van net 200 weergawes en is spesiaal uit Hongkong laat kom; is nog ’n speelse element in die huis is dié olifantkop van karton.

Dié Frankenstein-pop is een van net 200 weergawes en is spesiaal uit Hongkong laat kom; is nog ’n speelse element in die huis is dié olifantkop van karton.

KONTAKTE EN VERSKAFFERS 20 eight design 20eight.co.za Cornel Steyn 076 424 9934, cornelsteyn1@gmail.com Ikhaya 084 360 2246, ikhayastore.com Saks Corner 074 101 7552, sakscorner.co.za