Aside

Grasgroen vars idees


Kry ‘n bietjie inspirasie uit jou tuin om jou huis binne én buite te geniet noudat die dae heerlik langer en warmer word.

My hartjie, my liefie…

Bederf daardie spesiale persoon in jou lewe met ‘n hart vol groenigheid. Die gras of ander grondbedekkers in dié hartvormpies sal heel gelukkig wees in die kombuisvensterbank of op jou eetkamertafel. Gebruik plante wat lekker ruik én wat jy maklik kan tem sodat die hartvorm nie verlore gaan nie.

Bottelblomme

Bottelblomme

Vrolik ‘n wit vensterbank op met ‘n klompie ou bottels waarin jy enkelsteelblomme of takkies loof uitstal.

Die tuinier se stoep

Die tuinier se stoep

Skep ‘n fraai hoekie op jou stoep. Plant ‘n mooi grondbedekker in’n ou emaljebak en rond die prentjie af met hakies waaraan jy jou tuinhandskoene en -handgereedskap kan hang.

Kan jy nou muur!

Kan jy nou muur!

Moet jou nie bekommer as jou buurman se grensdraad vir jou lelik of te na aan jou huis is nie. Maak dit onsigbaar deur ‘n hoë muur te bou en dit in ‘n Italiaanse landskap te omskep. ‘n Kombinasie van reliëfpilare, verftegnieke, ‘n fonteintjie, sipresse en laventel sal jou asem wegslaan.

Emmers vol kruie

Emmers vol kruie

Verf sinkemmers in kleure van jou keuse en gebruik hulle om vars kruie uit jou tuin in te bêre. Draai hakies onderaan ‘n rak in jou kombuis – dan het jy altyd kruie byderhand as jy kook.

Iets uit niets

Iets uit niets

Maak soos dié ywerige tuinier: stapel terracotta-potte van verskillende groottes opmekaar met vloerplanke tussenin. Nou’t jy ‘n nuttelose hoek in ‘n nuttige bêreplek vir al jou tuingereedskap en -benodigdhede omskep.

Ou staatmaker

Ou staatmaker

Jy kan nie ‘n wankelrige koekstaander met ‘n koek vertrou nie. Maar gee hom ‘n ander doel – laat hy eerder die plante ondersteun. Die potte hou die staander stabiel, mooi en funksioneel, en nou kan hy by elke geleentheid spog.

Waterskeiding

Waterskeiding

Die kraan lek en die water drup-drup-drup, maar jy’t nie nou tyd om die loodgieter uit te roep nie. Hoe gemaak? Raak rustig en skep ‘n kalmerende wateroase wat jou gespanne siel sal streel: spyker ‘n gieter net onder die kraan teen die muur vas, hang ‘n klein emmer oor die gieter se kop en plaas ‘n sinkbad daaronder. Pak ‘n paar klippe vir die mooi in die bad. Laat dit nou drup – draai selfs die kraan effens oper om die stemming aan te help. Sodra die klein emmer volgeloop het, kan jy die naaste plante met die kosbare voggies laaf.

Deel

Subscribe to our e-mail newsletter to receive updates.

, , , , , , ,

Comments are closed.